Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié span is pure Bok, verseker Eben

Vir diegene wat reken die Springbokke stoot ’n verswakte span in die veld vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies op Ellispark, het Eben Etzebeth nuus.

Duimpie en langeraat: Eben Etzebeth, wat die Springbokke Saterdag teen die Wallabies op Ellispark aanvoer, saam met die skrumskakel Herschel Jantjies, wat sy toetsdebuut gaan maak. Foto: Gallo Images

“Ek dink nie die span kon veel sterker wees nie. Ons het ’n baie sterk span en het baie selfvertroue vir die toets,” het die Bokke se kaptein Vrydag by ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê.

Die kern van die span wat na verwagting in die Bokke se volgende toets – teen die All Blacks in Wellington – gaan speel, het reeds na Nieu-Seeland gereis, sodat hulle meer tyd het om te akklimatiseer. Daardie toets is volgende Saterdag.

“Glo my, daar’s nie veel van ’n verskil tussen die ouens hier en dié wat in Nieu-Seeland is nie,” sê Etzebeth.

“Daar is ongelooflike talent in die pak voorspelers. Beast (Tendai Mtawarira) het al meer as 100 toetse gespeel. Ek was ná ’n toets saam met Lood (de Jager) nog nooit teleurgesteld nie.”

Etzebeth sê hy is baie bly vir die debutante Rynhardt Elstadt, Herschel Jantjies en Lizo Gqoboka. Elstadt en Jantjies begin onderskeidelik op flank en skrumskakel, terwyl Gqoboka die loskopstut op die plaasvervangersbank is.

“Oor Rynhardt hoef ek nie veel te sê nie anders as dat hy baie taai is. Ek het nog nooit teen hom gespeel nie, maar het al by dié wat het, gehoor dat hy nogal ’n taai kalant is,” sê Etzebeth.

Jantjies was vanjaar ’n spanmaat van Etzebeth by die Stormers in die Superreeks.

“Ek het ’n paar weke gelede vir Herschel gevra waar hy verlede jaar hierdie tyd was. Sy antwoord was dat hy op die plaasvervangersbank vir ’n Curriebeker-wedstryd sou wees,” sê Etzebeth,

“Ek het hom by die Stormers sien groei as ’n speler nadat ek aanvanklik nie geweet het waartoe hy in staat was nie. Hy het gewys dat hy ’n puik skrumskakel is en ek geniet hom boonop weg van die veld.”

Terwyl Etzebeth sê dat die Bokke almal “goeie maats” is, erken hy dat elkeen ’n “punt het om te bewys”. Daar is net vier toetse voordat die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, ’n groep van 31 vir die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Japan gaan kies. Dis drie toetse in die Rugbykampioenskap teen Australië, Nieu-Seeland en Argentinië en dan ’n vriendskaplike wedstryd teen Argentinië.

Suid-Afrika speel voor die WB-toernooi ook teen Japan, maar dit sal wees nadat Erasmus reeds sy groep gekies het.

Die Wallabies sal ewe gemotiveerd wees en het twee weke se voorbereiding op die Hoëveld agter die rug, wat hulle gedugte teenstanders gaan maak.

Meer oor:  Bokke  |  Eben Etzebeth  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.