Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Húl gaan nie noodwendig WB toe...’

Die Springbokke se Wêreldbeker-deur staan nog wyd oop en die spelers wat nou in die span is, het geen waarborg dat hulle in 2019 in dié toernooi in aksie sal wees nie.

Hoewel Rassie Erasmus, die Bokke se hoofbreier, op die jaareindtoer grotendeels hou by die span wat Frankryk en Skotland geklop het, het hy Donderdag benadruk dit “beteken nie dit is die span wat Wêreldbeker(-toernooi) toe gaan nie”.

Erasmus het sy beginspan onveranderd gelaat vir Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff en op die plaasvervangerbank is dit net Eben Etzebeth wat ten koste van Lood de Jager gekies is.

Hy is gevra of Embrose Papier, wat as skrumskakel in die beginspan behou is, ’n aanduiding is dat hy nou as die nr. 2 in dié posisie ná Faf de Klerk beskou word.

“Nee, glad nie. Die deur is wyd oop en nie een van die skrumskakels het hulle as ’n vanselfsprekende keuse bewys nie.

“Met die toe dak (van die Principality-stadion) wat meebring dat die veld droog sal wees, was dit ’n maklike besluit om Embrose te kies. Dit gesê, daar is nie veel tussen hom en Ivan van Zyl en selfs Louis Schreuder en Ross Cronjé (wat beseer is) te kies nie.”

Erasmus hou nougeset by sy voorneme om stabiliteit op die toer te kry en kombinasies te vestig.

Ons het in die omgewing van 50 spelers vanjaar in die 23-tal gehad, maar ek glo dit is die regte benadering om nou kontinuïteit te kry.
Rassie Erasmus

“Ons het besluit om ná die Engelse toets, wat buite die toetsvenster was, so min as moontlik aan die span te verander. Ons het in die omgewing van 50 spelers vanjaar in die 23-tal gehad, maar ek glo dit is die regte benadering om nou kontinuïteit te kry.

“Baie moet nog gebeur en daar is spelers soos Coenie (Oosthuizen) en Lukhanyo Am wat nie uit die prentjie is nie.”

Etzebeth sal in sy 75ste toets van die bank af ontplooi word nadat hy volkome herstel het van die voetbesering wat hy in die eerste toets op die toer teen Engeland opgedoen het.

Erasmus het gesê daar was nog tot Woensdag toe onsekerheid of die slot, wat die Bokke verlede seisoen hier in die ooreenstemmende toets aangevoer het, beskikbaar sal wees.

Jesse Kriel tydens ’n oefensessie in Cardiff. Foto: Gallo Images

“As dit Maandag duidelik was dat hy sou kon speel, sou hy ’n oorweging vir die beginspan gewees het.”

Jesse Kriel en Damian de Allende sal Saterdag op twee kombinasies na die mees ervare senterkombinasie in Suid-Afrikaanse rugby word wanneer hulle vir ’n 15de toets in die middelveld saamspan.

Jean de Villiers en Jaque Fourie (29 toetse) en De Wet Barry en Marius Joubert (18 toetse) is bo hulle op die lys.

Die verwagting is wel dat die plaasvervanger-losskakel, Elton Jantjies, ook teen die Drake ná rustyd in De Allende se plek opgestuur sal word, met Handré Pollard wat dan binnesenter toe skuif.

“Dit werk goed om hulle (Pollard en Jantjies) op dieselfde tyd op die veld te hê. Hulle het ’n goeie verstandhouding en ons is geseënd met twee sulke losskakels,” het Erasmus gesê.

Suid-Afrika se span is:
Willie le Roux, Sbu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Embrose Papier, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, RG Snyman, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Thomas du Toit, Vincent Koch, Eben Etzebeth, Francois Louw, Ivan van Zyl, Elton Jantjies, Cheslin Kolbe.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Suid-Afrika  |  Cardiff  |  Rooi Drake  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Wereldbeker  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.