SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Tinus van Staden gesels met Kaunda Ntunja
Kaunda: Die Spiekeries van isiXhosa

Die Xhosa-rugbykommentator Kaunda Ntunja die afgelope week in die Phaka-ateljee. Foto: Deon Raath

‘Liqhashu!” bulder Kaunda Ntunja soos Makazole Mapimpi die bal agter die Engelse doellyn plant.

iBubbly, shampompo, shampizi!” ’n Liriese oorlogskreet. “Izinto ezihlwahlwazayo!” Die woorde groei voete, nael soos Mapimpi’s na die doellyn in Suid-Afrikaners se harte. Ntunja se woorde kry lewe – eers net vir diegene wat die Wêreldbeker (WB)-eindstryd regstreeks met Xhosa-kommentaar op SuperSport kyk.

Daarna pypkan hulle die ras- en taalgrens op Twitter, flous die opskietverdediging van verdeeldheidsaaiers. Al verstaan jy nie wat hy sê nie, weet jy presies wat hy bedoel.

Liqhashu – die vonkelwyn se prop wat skiet.” Die grote Ntunja sit Donderdagoggend in ’n stil SuperSport-ateljee en ontsyfer sy stukkie kommentaar van Mapimpi se drie. Hy kyk trots na die beeldmateriaal op ’n selfoonskerm in die koel ateljee. Oral staan televisietoerusting rond. Op die groot skerms agter hom pronk die kenteken van die Xhosa-rugbygeselsprogram, Phaka.

iBubbly, shampompo, shampizi – vonkelwyn. Izinto ezihlwahlwazayo – dinge wat skitter.” En hoe het die Bokke nie geskitter nie. Ntunja ook.

“Die eindstryd was alles vir my,” sê Ntunja, sy groot hande oopgevou op die tafelblad waaragter die aanbieders gewoonlik sit. In sy element.

“Joh, ek het nog nooit soveel voorberei soos vir daardie eindstryd nie. Ek het my hart en siel daarin gestort.” Dit was die 37-jarige boorling van Butterworth se piece de resistance. Toe sy rugbyloopbaan nie die hoogtes bereik het waaroor dié voormalige SA o.19-kaptein en -flank gedroom het nie, het hy besluit om ’n “Springbok-kommentator” te word. Hy het lank reeds sy kleure agter die mikrofoon verwerf en talle pryse gewen. Maar op 2 November het hy ’n vertoning gelewer wat ’n Webb Ellis-trofee werd was.

“iBubbly, shampompo, shampizi!” toe Makazole Mapimpi sy drie in die eindstryd van die Wêreldbeker druk. Foto: Getty Images

“My mislukkings as ’n speler het daartoe gelei dat ek ’n uitsaaier geword het. Ek sou dalk nie ’n suksesvolle uitsaaier gewees het as ek ’n suksesvolle rugbyspeler was nie. Ek sou dalk dinge as vanselfsprekend aanvaar het.” Dit doen hy nie. Nie ná die pad wat hy moes stap nie.

Sy rugbylewe het op die snelweg begin, maar is later deur beserings tot stilstand gedwing. Hy het vir twee jaar vir die SA o.19-span gespeel. In 2001 het hy die span aangevoer – ’n span wat die toekomstige Bok-kaptein Fourie du Preez ingesluit het.

Hy het sy junior rugby vir die Haaie gespeel, waarna hy in 2004 Vrystaat toe geskuif het. Daar het Ntunja die man ontmoet wat nou die Bok-messias is.

“Rassie (Erasmus) was nog ’n speler, maar het reeds die toutjies getrek. Dit was ’n snaakse situasie. Oom Peet Kleynhans was die afrigter, maar Rassie het baie van die bewegings beplan en in die videosessies beheer geneem.”

Ná twee jaar by die Vrystaat het hy hom by die Southern Spears aangesluit. Die Spears sou later die Kings word, maar destyds het onsekerheid en omstredenheid die span platgeduik voordat hy behoorlik op loop kon kom.

Ntunja is terug Grens toe, waar hy die oog getref het van die destydse Leeus-afrigter, Loffie Eloff.

“Ek het goed gespeel in ’n losmaker teen die Leeus en Loffie het my genader. Hy het gesê daar is geen waarborge nie, maar hy wou my graag in sy groep hê.”

Ntunja het groot Goudstad-drome begin droom.

“Ek het ander planne vir Joburg gehad . . . Ek wou rugby speel, ja, maar omdat ek drama en teaterkuns studeer het, het ek gedink, jis! As ek in Joburg is, kan ek ’n rol soek in Generations, of waar ook al.”

Kaunda Ntunja, met die bal, in sy speeldae vir die SA Skolespan. Foto: Gallo Images

In die voorseisoen van 2008 se Superrugby-reeks het sy pad by ’n gholfdag gekruis met dié van die SuperSport-kommentator Owen Nkumane. Hy het gereël dat Ntunja ’n oudisie aflê om ’n Engelse kommentator te word. Só het Ntunja sy voet in die SuperSport-deur gekry. Hy was steeds by die Leeus gekontrakteer tot 2009, maar beserings het hom langs die kantlyn gehou.

Toe verander sy lewe weer met die Britse Leeus wat in 2009 hier kom toer het.

“SuperSport het gevra of ek in Xhosa wou uitsaai.” Dit was ’n eerste vir SuperSport.

“Ek het eers nee gesê, want al is Xhosa my moedertaal, het ek dit nooit op skool (by Dale Col­lege in King William’s Town) gestudeer nie.

“Maar ek het gaan sit en dink. My rugbyloopbaan werk nie uit nie, so dit kan ’n gulde geleentheid wees. Ek het vir ’n Xhosa-oudisie gegaan en dit was ’n ramp.

“Gelukkig het die mense wat na my oudisie geluister het, nie die taal verstaan nie. Ek dink hulle wou net hoor of ek die spelers ken. Hulle het ’n wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië gespeel. As Butch James die bal het, wou hulle hoor ek sê Butch James.

“SuperSport het ’n kans gevat en my saam met Makhaya Jack, wat in die apartheidsjare gespeel het, laat werk.”

Sy pad as Xhosa-kommentator het begin met die wedstryd tussen die Southern Kings en die Britse Leeus.

“My Xhosa-woordeskat was swak, so ek het baie Xhosa-letterkunde gekoop. Ek het gelees, geoefen en my stem in my kamer opgeneem. Ek sou ’n video-uittreksel op my foon kry en ure daarop oefen.

“Ek het selfs met die syfers in Xhosa gesukkel, so ek het daaraan gewerk: ‘Oukei, 24 is dít.’ Ek het geoefen wat om te sê as ’n ou skop, as iemand têkkel. Dit het my omtrent twee jaar geneem om gemaklik te voel.

“Teen die tyd van die WB-toernooi in 2011 was ons op koers. Toe het Xhosa-kommentaar begin aandag trek. Selfs die aanbieder Anele Mdoda het op 5FM daaroor begin praat.”

Sedertdien het dit so gegroei dat SuperSport nou 11 Xhosa-kommentators het, meestal jonger mense.

“Jonger kykers vind aanklank by ons vergelykings en metafore. Ons gebruik moderne kultuur en uitdrukkings.

“Die ouer generasie Xhosa-kommentators is ook baie goed, maar hulle gebruik uitdrukkings wat ontstaan het in ’n plattelandse lewe. As die skeidsregter lank voordeel speel en hy blaas dan sy fluitjie, sal hulle byvoorbeeld iets sê wat letterlik vertaal kan word as: ‘Ons gaan terug na waar die kalf dood is.’ Ons gaan terug na waar die moeilikheid begin het.

“Ons jonger generasie gebruik steeds sulke gesegdes, maar ook nuwe goed, soos shampompo, shampizi . . . Dit is slang-woorde uit kwaito-musiek. ’n Ouer kommentator sal dit nooit sê nie.”

Vernuwing en modernisering is die suksesresep. En natuurlik die passie waarmee Ntunja die taalgrens oorbrug. Videogrepe van inleidende stukke wat hy skryf, soos sy emosionele huldeblyk aan Siya Kolisi voor sy eerste toets verlede jaar as Bok-kaptein, is ook groot treffers op Twitter. Nie net by Xhosa-sprekers nie, maar alle rugbyliefhebbers.

Ntunja is ’n storieverteller. Natuurlik raak hy opgewonde met drieë, maar hy skree nie vir 80 minute lank nie: “My longe sal ingee.” Hy bestee ook baie tyd aan navorsing en om statistieke te leer. Daar is verskeie lae aan hom as kommentator en dít is wat hom onderskei.

Hy weet ook hy en ander Xhosa-kommentators is ’n belangrike rat in die masjien wat ware transformasie in rugby moet aandryf – iets waarvan hy ’n groot voorstander is.

“Ek kry soveel boodskappe van mans én vroue wat slegs rugby vir die Xhosa-kommentaar kyk. Dit maak ’n verskil, maar gratis televisie kan ’n groter verskil maak, omdat dit ’n groter gehoor het. Op sosiale media maak dit wel ’n groot verskil wanneer mense die uittreksels daarop sien.”

Dit is daar, op sosiale media, waar almal – ondanks ras of taal – sy opgewekte, liriese kommentaar geniet. Buiten sy beskrywing van Mapimpi se drie, het sy kenmerkende inleidingstuk vir die eindstryd groot opslae gemaak.

“Die geleentheid was so groot. Vir Siya om daar te wees en die span te lei, moes soveel mense opofferings maak. Ek het oor al daardie mense gepraat . . . Mense soos Solly Tyibilika, wat uit soortgelyke omstandighede gekom het.

“Jy moet ook dink aan die ’95-legendes, veral diegene wat oorlede is, soos Ruben Kruger, Kitch Christie, Chester Williams. Hulle het ’n vuur aangesteek by my generasie.”

Toe die eindfluitjie in Jokohama blaas, was hy klaar.

“Ek was emosioneel gedreineer. Ek kon nie eens huil nie.” Hy het geen krag vir shampompo of shampizi gehad nie.

Ntunja was verlede week in Phalaborwa, Umtata en Stutterheim om rugbytoerusting vir minderbevoorregte kinders uit te deel.

“In die Oos-Kaap het mense baie geraas gemaak oor die Xhosa-kommentaar en vir my kom sê ‘ah, shampompo, shampompo!’ Die invloed is moeilik om te verduidelik.

“Die mense is rugbymal in die Oos-Kaap en hulle het ’n goedvoelstorie nodig gehad om die vonk aan die brand te hou. Vir daardie mense om te sien hoe Suid-Afrika die WB wen met Siya as kaptein, steek beslis ’n vuur aan.

“Ek dink nog nie die Bok-span is heeltemal getransformeer nie, maar daar is beslis baie vordering gemaak.

“Jong kinders wil die volgende Siya Kolisi, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi wees.”

Maar vir Ntunja gaan dit oor ál die Bokke en hul stories. Oor die Siya’s, maar ook oor die Duane’s en die Herschels. Rugby behoort aan almal. In Engels, in Afrikaans en in vonkelwyn-Xhosa.

Meer oor:  Kaunda Ntunja  |  Supersport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.