Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié viertal sal Leeus-pak harder laat brul

Die Leeus het meer spierkrag in hul agttal ingebring vir Saterdag se laaste ligastryd in die Curriebeker-rugbyreeks teen Griekwas in Kimberley.

Met die Springbok-slot Marvin Orie terug in die Leeus se voorhoede, behoort hulle die kitaar te slaan in die lynstane teen Griekwas. Foto: Gallo Images

Die slot Marvin Orie, wat nog tot verlede week deel van die Springbok-opset was, is terug in die middel van die skrum ten koste van Wilhelm van der Sluys.

Sy insluiting is een van vier veranderings aan die agttal wat glad nie oortuig het teen die Haaie die afgelope Sondag op Ellispark nie.

Die Leeus het Donderdagmiddag die pad uit die Goudstad na die Diamantstad in die Noord-Kaap per bus aangedurf.

Jacobie Adriaanse, wat op sy dag in die trui van die Poubloues gespeel het, begin as vaskopstut in die plek van Frans van Wyk.

Dit is geen geheim nie dat die Noord-Kapenaars die skrums juis as een van hul vername aanvalswapens wil gebruik om die Leeus tot oorgawe te probeer dwing.

Die 34-jarige Adriaanse, wat een van rugby se wêreldreisigers is, sal die skrum moet anker vir die Leeus.

Daar is ook nuwe flanke in Cyle Brink, wat herstel het ná ’n kniebesering wat hom lank uit aksie gehou het, asook die baljagter Marnus Schoeman.

Hulle neem die plekke van Len Massyn en James Venter.

Met dié twee ervare spelers terug, lyk die Leeus se pak aansienlik stewiger vir die groot taak wat in Kimberley wag.

In die enigste verandering agterlangs, vervang die eertydse Blou Bul Duncan Matthews, wat hom enkele weke gelede by die Leeus aangesluit het, vir Manni Rass op binnesenter.

Dit is Matthews se eerste verskyning in die beginspan en dít in die middelveld. Hy speel sy rugby meestal op vleuel.

Jacobie Adriaanse gaan die Leeus se skrum anker teen Griekwas, ’n span wat hy vroeër in sy loopbaan verteenwoordig het. Foto: Gallo Images

Daar is ook so half uit die bloute ’n nuwe gesig op die plaasvervangersbank in die eertydse Springbok en ook Blitsbok Jamba Ulengo. Hy het by die Bulle ’n Springbok geword, maar kon ná ’n ernstige kniebesering nog nie weer dieselfde hoogtes bereik nie.

Nadat sy kontrak by die Bulle verstryk het, het hy al by die Cheetahs en Kings ’n heenkome probeer vind, maar sonder sukses.

Dit is dus verrassend dat die Leeus hom nou ’n kontrak vir twee jaar aangebied het. Hy is die vleuel op die plaasvervangersbank.

Dylan Smith, wat soos Brink by KES (King Edward College) op skool was, maak ’n welkome terugkeer as plaasvervanger-loskopstut. Hy het lank las gehad van ’n kniebesering.

Die stryd in Kimberley behoort intussen weer ’n gelykop-affêre te wees, as die Leeus se vertoningslys vanjaar as maatstaf gebruik word.

Die punteverskille in die Leeus se Curriebeker-kragmetings dié seisoen was nog nie een keer meer as vyf punte nie.

Hulle het teen die Bulle met 26-31 verloor en in drie van die ander vier wedstryde was die verskil net twee punte.

Die Leeus het die Westelike Provinsie in Kaapstad met 30-28 verslaan, toe die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein met 24-22 en die afgelope Sondag met 30-28 teen die Haaie verloor.

In hul eerste wedstryd van die seisoen, teen die Pumas op Ellispark, het net een punt (38-37) tussen die spanne gestaan, met die Leeus wat deurgeskraap het.

Leeus: Tyrone Green, Madosh Tambwe, Wandisile Simelane, Duncan Matthews, Stean Pienaar, Shaun Reynolds, Ross Cronje (k), Hacjivah Dayimani, Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Jacobie Adriaanse, Pieter Jansen, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Johannes Jonker, Wilhelm van der Sluys, Len Massyn, Dillon Smit, Jan-Louis la Grange, Jamba Ulengo.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.