Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dieselfde skete pla ‘nuwe’ Leeus op Loftus
Deur die gaping! Die Stormers-aanwins Warrick Gelant glip Saterdagaand op Loftus Versveld deur die Leeus se verdedigingslinie. Foto: Gallo Images

Die Leeus het verander van haar, maar beslis nie van snaar nie.

Al het die span wat Saterdagaand op Loftus Versfeld teen die Stormers gespeel het, ’n gedaanteverwisseling ondergaan wat spelers betref, was dieselfde skete wat hulle ses maande gelede die agteros in die Suid-Afrikaanse rugbykraal gemaak het, steeds teenwoordig.

Die Gautengse franchise het met 21-34 verloor.

In daardie eerste 50 minute toe die uitsoekspan op die veld was, het hul verdediging soos daardie eerste drie maande voor Covid-19 glad nie aan die verwagtinge voldoen nie en was hul dissipline ook weer beroerd met talle strafskoppe wat afgestaan is.

Elton Jantjies

Die drie wat Courtnall Skosan binne die eerste vyf minute gedruk het danksy ’n uitstekende dwarsskop van Elton Jantjies, een van die min Leeus wat sy kant gebring het, was niks anders as ’n vals alarm nie.

Daarna het die Stormers ’n ystergreep op sake gekry en in daardie 50 minute wat die sogenaamde voorslagspelers op die veld was, het die Stormers met 27-7 koning gekraai.

Dit was veral in die skrums waar die Leeus geknor het en deurgaans in trurat was. Die nuweling-haker van die Leeus, Jaco Visagie, het ’n hele paar lugfoto’s van Loftus geneem soos hy uit die skrums gelig is.

Toe die hele span vir die laaste halfuur verander is, het die tempo verhoog en het die Leeus nog twee drieë gaan druk en meer ondernemingsgees getoon.

Soos wat hy al in die eerste drie maande van die seisoen gewys het, is Dillon Smit ’n beter belegging op skrumskakel as André Warner, met wie daar egter volhard word as Jantjies se skakelmaat.

Ivan van Rooyen, die hoofafrigter, het toegegee sy span se foute het die Stormers se krag in die vaste fasette in die spel ingebring.

“Dit is nie lekker om nie te kon wen nie, maar ek voel tog daar is heelwat positiewe aspekte waarmee ons kan werk.

Die nuwelinge het almal goed ingeskakel en ek glo oor twee weke sal almal gemaklik wees met hoe ons wil speel en ’n groot bydrae kan maak.
Ivan van Rooyen

“Die nuwelinge het almal goed ingeskakel en ek glo oor twee weke sal almal gemaklik wees met hoe ons wil speel en ’n groot bydrae kan maak,” sê hy.

Jaco Kriel was een van die Leeus se uitblinkers.

Elton Jantjies, die kaptein, sê hy het goeie kommunikasie ontvang van Burger Odendaal (die Bulle se vorige kaptein) en Jaco Kriel (oudkaptein van die Leeus). Kriel is ook een van die verloorspan se spelers wat homself goed van sy taak gekwyt het.

Tog hang daardie vraagtekens oor die verdediging en dissipline lewensgroot oor die Leeus se koppe, met die slot Marvin Orie wat ook ’n geelkaart gekry het.

Dit sal ’n teleurstelling vir ondersteuners wees dat nadat daar soveel klem in die Covid-19-tyd op dié aspekte was, dit steeds probleemgebiede is.

Op Ellispark wag daar nog baie harde werk voordat die Leeus vanjaar as ’n realistiese aanspraakmaker op die Curriebeker beskou sal kan word.

Meer oor:  Ivan Van Zyl  |  Elton Jantjies  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Afrigter  |  Loftus  |  Rugby  |  Stormers  |  Leeus  |  Superfan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.