Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis Bokke teen Leeus ... in Suid-Afrika
Dis nog onduidelik of skares in stadions toegelaat sal word gedurende 2021 se toer van die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Nie in Engeland, Skotland, Wallis, Ierland of Australië nie. Nét hier in Suid-Afrika en volgens die oorspronklike skedule.

Dít is die plan waarop die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die Britse en Ierse Leeus se direksie vir vanjaar se rugbytoer ooreengekom het.

’n Gesamentlike verklaring in dié verband is Dinsdag uitgereik ná ’n reeks vergaderings, wat Maandagaand begin het.

“Ná ’n hersiening van inligting met betrekking tot die gebeurlikheidsplanne wat oorweeg word, kan ek bevestig die direksie wil hê dat die toer soos geskeduleer in Suid-Afrika voortgaan,” het Jason Leonard, voorsitter van die Britse en Ierse Leeus, Dinsdag in ’n nuusverklaring gesê.

“Ons aanvaar dat daar steeds baie werk voorlê vir ’n teenvoeter teen Covid-19 om ’n suksesvolle, veilige en ononderbroke toer te kan verseker. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal ons volle ondersteuning hê met die implementering van daardie plan.”

Volgens die oorspronklike skedule is die Leeus se eerste wedstryd van die 2021-toer op 3 Julie teen die Stormers in die Kaapstad-stadion. Die laaste wedstryd is die derde toets op Ellispark in Johannesburg op 7 Augustus.

Die getal positiewe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika het egter ’n groot vraagteken agter die haalbaarheid van daardie skedule geplaas.

Dit het daartoe aanleiding gegee dat Australië aangebied het om gasheer vir die toer te speel, waarna gekyk is na die moontlikheid om dit na Brittanje en Ierland te verskuif. In daardie geval was daar selfs sprake van ’n vierde toets.

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, sê daar sal ernstige finansiële nagevolge vir Suid-Afrikaanse rugby wees indien skares nie toegelaat word tydens die toer van die Britse en Ierse Leeus nie. Foto: Gallo Images

Mark Alexander, president van Saru, het in die gesamentlike verklaring gesê dat hulle die “geloof” van die Leeus waardeer en hul behoefte aan ’n veilige en suksesvolle toer deel.

“Ons is in gereelde kontak met ons regering om dit ’n werklikheid te maak teen die agtergrond van die pandemie en die voorspellings daaroor vir die komende maande,” sê Alexander.

“Daar is ernstige finansiële implikasies vir Suid-Afrikaanse rugby indien die reeks sonder enige bywoning van ondersteuners plaasvind en ons kan dit nie ignoreer nie. Ons is egter vasbeslote dat die uitkoms die beste gebeurtenis en ervaring vir ons spelers, ondersteuners en kommersiële vennote gaan wees.”

Alexander voeg by dat die toerskedule onderworpe is aan ’n hersiening van die datums, indien die situasie dit sou verg.

“As gasheer en ‘eienaars’ van die Leeus-reeks is niemand meer as Saru deur die heersende omstandighede geraak nie,” sê hy.

“Met die ondersteuning van ons regering en goeie beplanning kan ons nietemin rondom die pandemie beplan om herinneringe te skep wat spelers, ondersteuners en vennote sal koester.”

Dinsdag se gesamentlike verklaring is veral goeie nuus vir Suid-Afrika se provinsies, want etlikes maak op inkomste uit die Leeus-toer staat ter wille van oorlewing.

In hierdie stadium haal hulle danksy verlede jaar se industrie-spaarplan, wat tydelike salarisverminderings vir spelers en werknemers ingesluit het, nog asem.

Die tienduisende ondersteuners wat tradisioneel saam met die Leeus reis, maak dit ook ’n groot ekonomiese inspuiting vir die land as geheel, maar dis onwaarskynlik dat daardie vrugte soos in die verlede gepluk gaan word.

“Dis nog onduidelik of internasionale reis toegelaat sal word en of Suid-Afrika se grense oorgesteek sal mag word,” sê die Leeus en Saru in hul gesamentlike verklaring.

Dit is boonop ook nog onseker of skares wedstryde in Julie en Augustus sal mag bywoon. Daar word gereeld met die Suid-Afrikaanse regering geskakel oor hoe daar om die stryd teen Covid-19 vir groot sportbyeenkomste beplan kan word.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.