Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis dalk eers in nuwe jaar Toet-siens

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gaan eers in die nuwe jaar sê of hy die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, die trekpas gaan gee.

Die stres om Springbok-afrigter te wees kan hier op Allister Coetzee se gesig gesien word. Foto: Getty Images

Coetzee het vroeër vandeesweek se verslag oor die onlangse toer na die Noordelike Halfrond ingedien en sy merietegesprek met rugbybase gehad.

Saru het egter Vrydag laat weet dat daar nie onmiddellik bloed gaan vloei nie. Daar word bespiegel dat die beheerliggaam wil seker maak dat hy aan al die vereistes ingevolge die Arbeidswet voldoen.

“Saru is nie in ’n posisie om voor die nuwe jaar te reageer op vrae oor die nasionale afrigtingspan nie. Daar is tans vergaderings oor al die nasionale spanne waarna die planne vir 2018 bevestig sal word,” sê Saru in ’n nuusverklaring.

Vir Coetzee is die koeël egter deur die kerk. Selfs al behou Saru hom, sal sy kernpligte as Bok-afrigter deur die direkteur van rugby, Rassie Erasmus, oorgeneem word.

Die Bok-breier het wel vasgeskop ná die nederlaag van 22-24 teen Wallis twee weke gelede, deur daarop aan te dring dat hy ’n kontrak tot 2019 het. Hy meen ook die Bokke het vanjaar baie vordering gemaak.

Daar word egter bespiegel dat hy nie aan ’n prestasieklousule voldoen het nie.

Coetzee is reg as hy aanvoer dat die Bokke vanjaar verbeter het ná 2016 se nagmerrie waar hulle slegs 4 wedstryde gewen en 8 verloor het.

Nietemin is 7 seges, 2 gelykopstryde en 4 nederlae nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Veral nie wanneer twee van daardie nederlae rekords teen Nieu-Seeland (0-57) en Ierland (3-38) is nie. Om die knie te buig voor ’n Walliese span wat van talle van sy beste spelers gestroop was, was waarskynlik die laaste strooi.

Teen die tyd behoort hy ook al te besef dat sy tyd as Bok-breier verby is. As hy nie op sy swaard val nie, sal Saru hom waarskynlik eenvoudig die deur wys.

Coetzee kan wel aanvoer dat sy hande hier en daar vasgebind was. Die Bokke het byvoorbeeld ekonomiese klas van Suid-Afrika Ierland toe gevlieg, terwyl die hulpafrigters Brendan Venter en Johann van Graan die kamp verlaat het met twee wedstryde oor op die onlangse toer. Dit het die een teen Wallis ingesluit.

In dieselfde asem kan gesê word dat Saru ook baie gedoen het om Coetzee se hand vanjaar te versterk. Die toevoeging van Venter as verdedigingskonsultant, veral, het ’n verskil aan die afrigting gemaak.

Daarmee saam is Franco Smith heeltyds by die bestuurspan ingesluit as agterlynafrigter.

’n Reekssege van 3-0 oor Frankryk en seges tuis en weg oor Argentinië het Suid-Afrikaanse rugby se naam in ere herstel voordat die Bokke weer agteruit geboer het.

Uiteindelik kon die Bokke in vanjaar se Rugbykampioenskap slegs met die Poemas afreken. Daar was twee gelykopstryde teen Australië en twee nederlae teen die All Blacks – die eerste die slagting in Albany en die tweede met ’n punt op Nuweland.

Coetzee se wenrekord is oor twee jaar 44%, wat selfs met vanjaar se verbetering ingereken nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Teen die tyd behoort hy ook al te besef dat sy tyd as Bok-breier verby is. As hy nie op sy swaard val nie, sal Saru hom waarskynlik eenvoudig die deur wys.

Gerugte wil dit hê dat Coetzee ’n opsie by die Canon Eagles in Japan het, en dis sekerlik nou tyd om sayonara (Japans vir totsiens) te sê.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee  |  Springbokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.