Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis Dawid teen Goliat op Ellispark

In die agterlyn: twee Blitsbokke wat ewe veel ruimte in vyftienmanrugby kan uitsnuffel as in ’n seweswedstryd. Op losskakel: ’n ou hond met nuwe truuks.

In die lostrio: ’n Wêreldbeker-wenner, ’n bobaas-baljagter en ’n 21-jarige wat wyd en syd as toekomstige Springbok bestempel word. En in die voorry: twee stutte met reputasies so groot as wat hul skouers breed is.

Dít is die enorme uitdaging wat die Leeus Saterdag in die Superrugby Unlocked-reeks die hoof moet bied, wanneer hulle op Ellispark gasheer speel vir ’n Bulle-span wat albei hul laaste teenstanders verneder het.

As sy pak hom ’n goeie platform gee, kan Morné Steyn dalk net wéér Saterdag op Ellispark die horlosie terugdraai, soos hy verlede naweek teen die Stormers gemaak het. Foto: Gallo Images

Die Leeus is minstens weer stert in die lug nadat hulle Griekwas verlede Vrydag met nege drieë gelooi het en het ’n lied in die hart met hul koronavirus-nagmerrie iets van die verlede. Maar gees en selfvertroue gaan waarskynlik nie genoeg wees teen ’n span met soveel onvoorspelbaarheid en idees soos Jake White se Bulle nie.

As Loftus se trots met dieselfde peil opdaag as wat hulle teen die Haaie en Stormers gehad het, sal die Johannesburgers nie kan bekostig om vir een oomblik benede hul vermoëns te speel nie.

Aan onvoorspelbaarheid en idees het Elton Jantjies-hulle wel self nie ’n tekort nie. Hul agterlyn is ’n goeie kombinasie van jeug en ervaring, met elke speler daarin – die vier jongelinge en die drie ouer hande – wat iets uit niks kan skep.

Dis egter, soos altyd, voorlangs waar die stryd bepaal sal word, en dis waar die Bulle (in elk geval op papier) ’n besliste voordeel het. Len Massyn, Vincent Tshituka en Sti Sithole is goeie spelers, maar het nog nie die reputasies van hul direkte teenstanders, Duane Vermeulen, Marco van Staden en Trevor Nyakane, nie.

Met dit gesê, is daar werklik net een manier om so ’n reputasie te bou: deur reuse om te dop. Die minder geroemdes in die Leeus se voorhoede kan dít as motivering gebruik.

Elton Jantjies het die vermoë om ’n wedstryd met een aangee of dwarsskop te verander – iets wat broodnodig gaan wees teen ’n span so gevaarlik soos die Bulle. Foto: Gallo Images

Jantjies het Donderdag gesê die Leeus het planne om die Bulle se stert te knoop. Sy afrigter, Ivan van Rooyen, het gesê daar is ’n paar swakplekke in die Bulle se mondering wat hulle sal probeer uitbuit.

Die eertydse swaargewig-bokskampioen Mike Tyson het eens gesê: “Almal het ’n plan, tot hulle in die mond geslaan word.” Die Leeus se eerste taak sal dus wees om lank genoeg ver genoeg van die Bulle se ystervuiste te bly om hul eie stempel op sake te kan afdruk.

Sonder enige twyfel sal die Pretorianers Saterdag as oorweldigende gunstelinge met die N1 langs Doornfontein toe reis. Dis onafwendbaar as jy nie eens ’n volle wedstryd nodig het nie om ’n Stormers-span vol Springbokke te verneder, soos hulle verlede Saterdag gemaak het.

Maar dit behoort nou tot die verlede. ’n Nuwe wedstryd wag. En op Ellispark is daar hope geloof dat Johannesburg se Dawid genoeg klippies in die slingervel het om die Loftus-Goliat neer te vel.

Net die tyd sal leer of dit inderdaad so is.

Leeus: Gianni Lombard, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan; Elton Jantjies (kaptein), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: PJ Botha, Nathan McBeth, Ruan Dreyer, Reinhard Nothnagel, Marnus Schoeman, Ross Cronjé, Dan Kriel, Tiaan Swanepoel.

Bulle: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Walt Steenkamp, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Marcel van der Merwe, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuuren.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni, Egon Seconds

TV-skeidsregter: Marius van der Westhuizen

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Ellispark  |  Bulle  |  Superrugby Unlocked  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.