Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Elton se stewel teen Damian se selfvertroue

Die Leeus se losskakel en kaptein, Elton Jantjies, het die afgelope week baie moeite gedoen om die media te laat verstaan hy is net een rat in ’n Leeus-masjien wat so gou as moontlik so ver as moontlik probeer gaan.

Elton Jantjies is volgens John Dobson die beste taktiese skopper in die Curriebeker – en sy skopskoen kan inderdaad ’n groot rol speel in die Leeus en WP se kragmeting. Foto: Gallo Images

Maar ondanks sy “dit gaan nie oor my nie’-benadering tot die Maanhare se Curriebeker-wedstryd Saterdagaand teen die Westelike Provinsie, is daar geen twyfel nie dat hy een van die heel belangrikste ratte op die veld sal wees.

Met die weervoorspellers wat verwag dat emmersvol water Saterdag op Ellispark sal neerstort – en die gepaardgaande moontlikheid dat weerlig 80 minute van rugby kan verhoed – gaan Jantjies se skopskoen ’n hoofrol in die drama speel.

Vanselfsprekend gaan daar ’n reuse-stryd voorlangs woed, tussen ’n WP-pak vol wêreldsterre en ’n Leeus-agttal wat weier om vir enigiemand terug te deins, maar dit gaan op Jantjies se skouers val om die druk op die WP se agterspelers te plaas.

Die inmenging van die beseringspook het die Kapenaars genoop om Damian Willemse in te span op heelagter – ’n posisie waarin hy al toetsrugby gespeel het, maar nie sedert Maart diens gedoen het nie.

Hy kan natuurlik groot amok maak met al die ruimte wat daardie posisie hom bied, maar sal terselfdertyd ’n groot sielkundige toets kry as Jantjies-hulle hom met hangskoppe peper. En op ’n nat Ellispark voel dit onafwendbaar.

Die Stormers-breier, John Dobson, het die afgelope week na Jantjies verwys as “die beste taktiese skopper in die Curriebeker” en sou Willemse dus voorberei het op ’n lugaanval.

Dis egter nie net die 22-jarige se hande nie, maar ook sy kop, wat Saterdag getoets gaan word. Die Ellispark-stryd sal ’n goeie blik bied op hoe sy onlangse kleitrappery op losskakel Willemse van selfvertroue gestroop het.

Die Leeus span self vandeesweek ’n nuwe heelagter in, met Tiaan Swanepoel wat die beseerde EW Viljoen se plek neem. Die 24-jarige is geen vreemdeling vir die Kapenaars nie, aangesien hy hulle in 2017 na die nasionale o.21-titel geskop het.

Die sleutel sal wees hoeveel nuwe pyle hy in sy koker gevoeg het sedert hy die Kaapse unie in 2018 verlaat het – en hoe veilig sy hande in gietende reën is.

Alle oë sal wees op Damian Willemse, wat Saterdag vir die eerste keer in maande op heelagter uitdraf. Foto: Gallo Images

Die WP se skakelpaar sal vanselfsprekend ook geteiken word, met ’n nuwe kombinasie van Tim Swiel en Godlen Masimla wat Ellispark toe opruk. Dié paar het wel op o.21- en Vodacombeker-vlak saamgespeel en ken mekaar dus goed. Maar in terme van ervaring is hulle ver agter die Leeus-duo van Jantjies en Ross Cronjé, wat in drie Superrugby-eindstryde en in die Bok-trui saam gespeel het.

Met dit alles gesê, is dit voorlangs waar sake in dié stryd bepaal sal word – soos albei spanne goed besef.

Die Leeus omarm vandeesweek Rassie Erasmus se “Bomb Squad”-idee, met ses voorspelers op die plaasvervangersbank. Die WP het ook dié seisoen al gereeld dieselfde strategie gevolg.

Die tenks behoort dus weerskante leeggemaak te word in die skrums en die fisieke tweestryd tussen die pakke kan skouspelagtig wees.

In albei kampe is die afgelope week agting uitgespreek vir die teenstanders se voorlangse vermoëns.

“Ons weet (die WP) is baie trots op hul vaste fasette,” het die Leeus se afrigter, Ivan van Rooyen, Donderdag gesê. “Hulle put energie daaruit om daar te oorheers en maak graag kontak. Ons sal ons man daar moet staan, want hulle gaan vir ons kom in die eerste 20 minute.”

Die Kaapse stut Frans Malherbe het die skrumstryd beskryf as “ ’n groot uitdaging”.

“As jy (die Leeus) onderskat, gaan jy beslis in die moeilikheid wees. Hulle het oor ’n hele paar jaar gesag afgedwing.”

Leeus: Tiaan Swanepoel, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan; Elton Jantjies (k), Ross Cronjé; Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Reinhard Nothnagel, Wilhelm van der Sluys, Roelof Smit, Morné van den Berg, Dan Kriel.

WP: Damian Willemse, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Dan du Plessis, Angelo Davids, Tim Swiel, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS (uit): Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouche, David Meihuizen, Marcel Theunissen, Johan du Toit, Paul de Wet, Tristan Leyds, Jaco Coetzee, Kade Wolhuter, Rikus Pretorius.

  • Skeidsregter: Griffin Colby
  • Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen, Rasta Rasivhenge
  • TV-skeidsregter: Marius Jonker
  • TV: 19:00 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).
Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.