Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Elton Jantjies: ‘Dis grootman-rugby’

Ons sal moet vinnig leer, want Superrugby is toetsrugby, dis nie sommer ’n normale provinsiale kompetisie nie.

Dis die woorde van Elton Jantjies, kaptein van die Leeus, wat gister nie doekies omgedraai het nie ná sy span se loesing van 17-37 teen die Rebels in Melbourne.

André Warner van die Leeus ding vergeefs mee om die bal teen Andrew Kellaway (links) en Gideon Koegelenberg van die Rebels. Foto: Getty

Dit was die eerste Superrugby-sege ooit wat die Australiese span oor die Leeus kon behaal.

Volgens Jantjies kan hulle nie hul herbouproses, ná hulle baie van hul voorste spelers van verlede seisoen verloor het, as ’n verskoning gebruik nie.

“Dis nie ’n kompetisie vir seuns nie, dis ’n grootman-kompetisie,” het Jantjies gesê ná sy span vir ’n tweede naweek in ’n ry vyf drieë afgestaan het.

“Jy speel teen gehalte-spelers elke liewe week, jy moet jou liggaam regkry, jou ingesteldheid en natuurlik die planne. Ons moet vinnig grootword en besef dat dit ’n strawwe kompetisie is. Dis een van die beste in die wêreld.”

Die Leeus het gisteroggend, teen wat beskou is as hul maklikste teenstander van die toer, lelik kleigetrap. Trouens, ná die nederlaag lyk dit asof die Leeus met leë hande gaan terugkeer na Johannesburg as iets drasties nie in die kamp gaan verander nie.

Hul volgende twee wedstryde is teen die Blues en Highlanders in Nieu-Seeland.

Hulle het ons waarskynlik ore aangesit in die losskrums, veral wanneer ons aangeval het.
Ivan “Cash” van Rooyen -afrigter,

Nes verlede week teen die Waratahs het die Johannesburgers weer met ’n powere vertoning op die verdediging in duie gestort.

Die Rebels het by tye oor die doellyn gestap vir ’n paar van hul vyf drieë, met die Leeus wat slegs twee van hul eie kon druk.

Die besoekers het meer as 20 duikslae gemis en dis veral in die agterlyn waar dié brouwerk hulle duur te staan gekom het. Teen die Waratahs het hulle ook meer as 20 duikslae gemis en vyf drieë afgestaan.

Die Rebels-vleuel Andrew Kellaway was die groot kokkedoor in die Rebels-agterlyn wat munt geslaan het uit die Leeus se vrot keerwerk.

By tye het dit gelyk of die gat in die Leeus se verdedigingslinie so groot is soos die leemte wat Swys de Bruin met sy vertrek op Ellispark gelaat het.

Die verdediging is egter nie al aspek van die Leeus se spel wat gelol het nie. Daar sal veral na die voorspelers vinger gewys word. Behalwe vir die losvoorspelers Willem Alberts en Marnus Schoeman, wat opvallend betrokke was veral op die verdediging en by losskrums, was daar andersins min voorlangs om oor huis toe te skryf.

Die Leeus het ook vier lynstane verloor, terwyl die Rebels ’n oorlas van hulself by die losskrums gemaak het en die Leeus se bal vertraag het óf dit omgekeer het met goeie losskrumwerk.

Dat die Leeus ook nie werklik munt kon slaan uit die twee geelkaarte wat die Rebels gekry het nie, sal hul afrigter, Ivan “Cash” van Rooyen, met meer vrae as antwoorde laat.

Van Rooyen het erken dat sy span vir 80 minute fisiek opgekeil is.

“Hulle het ons waarskynlik ore aangesit in die losskrums, veral wanneer ons aangeval het,” het Van Rooyen die wedstryd beskryf.

“Hulle is ’n goeie afgeronde span en is ’n groot bedreiging. Ons het verbeter op sekere gebiede (sedert verlede naweek), maar in ander dalk nie.

“Daar is egter die geleentheid om môre (vandag) en Maandag na die stryd te kyk om te sien waar ons staan en om voor te berei vir die Blues.”

Van Rooyen het bygevoeg dat hy wil sien dat sy span beter besluite moet neem op die aanval en verdediging.

“Gelukkig en ongelukkig is die beste manier om te leer om onder druk geplaas te word.

“Elke wedstryd is ’n geleentheid om te leer, maar dit sal goed wees om daardie wen agter die naam te kry.”

Meer oor:  Rebels  |  Leeus  |  Elton Jantjies  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.