Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís hoekom Pollard skeef korrel – Braam

Dit is klein tegniese foute wat die Springbok-losskakel Handré Pollard Saterdag in Durban so skeef laat korrel het teen Argentinië, sê die skopghoeroe Braam van Straaten.

Pollard was in die Haaitenk met net twee uit ses stelskoppe (33%) in die kol teen die Poemas.

Die Springbok-losskakel Handré Pollard lê Saterdag in Durban aan pale toe. Foto: Gallo Images

Hy het met drie doelskoppe en ’n strafdoel misluk.

Die Bokke het die toets in die Rugbykampioenskap met 34-21 gewen, maar was dit teen ’n sterker span, kon Pollard se swak skopwerk sy span duur te staan gekom het.

Van Straaten, ’n oud-Bok wat as een van die voorste skopafrigters in wêreldrugby gereken word, sê ’n skopvertoning soos Saterdag s’n “mag nie gebeur nie”.

“In toetsrugby moet skoppers ’n persentasie van minstens 85% handhaaf, maar beslis nie onder daardie kerf nie. Dit is beslis haalbaar.”

Volgens Van Straaten “verloor Pollard spasie” (tussen hom en die bal) en dit lei gewoonlik daartoe dat die bal links verby getrek word.

“Die vier goue beginsels is spasie, postuur, belyning en energievloei. Omdat Handré sukkel met die spasie, aktiveer dit ander foute in sy aksie.”

Hy sê dit is belangrik dat die foute uitgestryk word voordat Pollard se selfvertroue geknou word.

“Dit kan eerlikwaar met een skop uitgesorteer word, maar dan moet hy die regte leiding kry om te verstaan wat verkeerd is.

“Die groot gevaar is dat hy nou met trial en error gaan probeer om sy skopwerk reg te ruk. Hy mag dalk Saterdag goed skop, maar oor twee weke sukkel hy weer. Dit gaan altyd vorentoe kop uitsteek.

Elke skopper gaan van tyd tot tyd ’n paar verstellings moet maak.
Braam van Straaten

“Jy móét die basiese beginsels regkry, anders kan die leemte maklik ’n sneeubal-effek hê.”

Van Straaten sê dit beteken allermins nie dat Pollard ’n swak stelskopper geword het nie.

“Dit is glad nie die geval nie. Elke skopper gaan van tyd tot tyd ’n paar verstellings moet maak.”

Pollard het in vanjaar se Superreeks ’n suksessyfer van 86,8% (53 uit 61 skoppe) vir die Bulle gehad.

Die ander twee losskakels in die Springbok-groep, Elton Jantjies en Damian Willemse, het onderskeidelik persentasies van 77,7% (77 uit 99) en 79% (34 uit 43) vir die Leeus en die Stormers gehandhaaf.

In die toetsreeks teen Engeland in Junie was Pollard suksesvol met 11 uit 14 stelskoppe (78,5%).

Meer oor:  Argentinië  |  Handré Pollard  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.