SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Dís hoekom sewes Rosko betower

Van al die rugby in verskillende kompetisies wat die Blitsbok Rosko Specman al gespeel het, lê sewes hom die naaste aan die hart – dalk omdat hy daarvan hou om op die veld op die spreekwoordelike randjie van die afgrond te wees.

Systap hier, systap daar. Rosko Specman tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2018. Foto: Gallo Images

Dié 30-jarige boorling van Grahamstad of Specmagic soos hy bekend staan, is ná amper ’n jaar se afwesigheid weer terug in Wêreldrugby se sewesreeks. Die eerste toernooi van die nuwe seisoen begin Donderdag in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate.

Noem dit maar en dit staan op Specman se CV. Curriebeker-, Pro14- en Superrugby, waar hy weer in Januarie by die Bulle inval. Maar hy antwoord sonder aarseling dat hy sewes die meeste geniet.

“Ek dink die rede is omdat ek meer betrokke by die spel is. Almal werk vir mekaar (in sewes) en een klein foutjie, dan verloor ons die wedstryd. Die druk is hoog. Alles is hoë risiko; in sewes het jy net ’n sekonde om die regte besluit te neem,” sê Specman.

Hy is een van daardie spelers met die X-faktor wat wedstryde op eie houtjie kan wen. Dit is omtrent ’n lus vir die oog wanneer hy met die bal onder die arm eers verby ’n verdediger of twee systap en dan teen die kantlyn af van rat verwissel op pad doellyn toe.

“Sewes het my gehelp om ’n beter vyftienman-speler te word. Om Curriebeker-rugby vir die Pumas te speel, het ek die meeste geniet. Ook by die Vrystaat, want hulle hou daarvan om die bal deur die hande te laat gaan.

“By die ander unies is die spel meer takties, so hulle skop baie of speel baie met hul vaste vyf. Die ander spanne speel nou weer oop rugby waar hulle die bal wyd speel, iets wat almal moeg maak,” sê Specman.

Rosko Specman die afgelope week op die oefenveld. Foto: Gallo Images

In Doebai sal hy meer as genoeg geleentheid kry om homself volgens sy voorkeure uit te leef.

As alles volgens plan verloop, sal die Blitsbokke in die halfeindronde teen Fidji te staan kom. Die Fidjiane is nie net die Olimpiese kampioenspan nie, hulle het ook verlede jaar Wêreldrugby se sewesreeks gewen. Slaag Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, se span daarin om Fidji te klop, sal die span ’n belangrike sielkundige voorsprong hê vir die res van die seisoen, wat in 2020 eindig met die Spele in Tokio.

Ná weke se sweet en planne beraam op die oefenveld, is Specman, wat reeds in 28 toernooie in die reeks vir die Suid-Afrikaanse sewespan gespeel het, nou oorgehaal vir die ware Jakob. Hy besef ook dat sukkelende spanne selde sterspelers oplewer.

“Doebai is opwindend, omdat dit die eerste toernooi is. Jy het ’n lang voorseisoen gehad en nou moet jy dít wat jy geleer het, gaan toepas.

“Ek wil net seker maak dat ek doen wat van my vereis word.”

Meer oor:  Sewes  |  Blitsbokke  |  Rosko Specman  |  Doebai-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.