Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Opbou na WB 2019: Vyf dae oor voor afskop
‘Dis meriete of niks’ – Renaldo Bothma

Renaldo Bothma, die voormalige Haaie en Bulle-losvoorspeler wat deesdae sy rugby by die Engelse klubspan Harlequins speel, is só ontgogel deur wat hy “rugbypolitiek” noem, dat hy ná sy weglating uit Namibië se Wêreldbekergroep besluit het om toetsrugby te los.

Aan Rapport het die 29-jarige Namibiër gesê dat hy “nie ’n stelsel kan ondersteun wat nie op meriete gegrond is nie”.

Bothma is ’n gewese toetskaptein van Namibië.

Renaldo Bothma tydens die vorige Wêreldbekertoernooi in Engeland. Foto: getty

Hoewel Bothma dit nie uitspel nie, verwys sy opmerking oor rugbypolitiek moontlik na die maande lange stryd tussen die beroepsvleuel en die amateurarm van Namibiese rugby.

Rapport verneem dié stryd is besleg ná ’n onderneming dat spelers wat in die buiteland gebaseer is – soos Bothma – nie die Namibiese Wêreldbekergroep sal oorheers nie.

In die uiteindelike groep van 31 spelers is daar 20 wat hul rugby in Namibië speel en 11 wat in die buiteland gebaseer is.

Bothma vertel hy het vergeefs alles in die stryd gewerp om die groep te haal. “Dit was ’n ongelooflik moeilike twee jaar by Harlequins nadat ek my arm drie keer in 18 maande gebreek het. Dit was ’n massiewe terugslag vir my loopbaan.

“Ek het vir die afgelope ses maande hard geoefen, en ná my gesprek met Paul Gustard van Quins het ek al my fiksheidsdoelwitte bereik.”

Hy sê hy het Phil Davies – Namibië se Walliese afrigter – deurentyd op die hoogte gehou van sy fiksheid.

“Hy weet hoe hard ek die afgelope ses maande geoefen het om reg en fiks te wees.”

Bothma sê hy het by sy Namibiese spanmaats op 21 Augustus aangesluit – maar was net in die oefenkamp vir tien dae. In dié tydperk het hy vir Namibië uitgedraf teen die Haaie XV (Namibië het 43-0 gewen) en teen die Southern Kings (28-22).

“Dit was werklik lekker om weer vir die eerste keer in ’n paar maande te speel. Ek het toe ’n SMS-boodskap van Phil gekry waarin hy my vra om hom te kom sien. Tydens die gesprek het hy my ingelig dat ek nie deel is van die 31 spelers wat Japan toe gaan nie.

“Ek was geskok, en kon regtig nie verstaan hoekom nie. Dit nadat ons die vorige Donderdag voor die Kings-wedstryd ’n lang gesprek gehad het. Phil het vir my gesê hy weet hoe hard ek oor die afgelope ses maande gewerk het, en dat ek in die beste kondisie van my loopbaan is.

“Ek het hom gevra wat die rede was, hoekom ek nie gekies is nie? Hy het gesê my maatstawwe voldoen nie aan die vereistes van ’n toetsspeler nie.

“Ná al die gesprekke tussen ons was dit die rede wat hy gegee het. Maar dit is in teenstelling met wat hy net ’n paar dae vantevore vir my gesê het.

“Het hy die waarheid gepraat of is daar faktore buite sy beheer wat die besluit beïnvloed het?”

Bothma glo daar is baie vrae wat nog beantwoord moet word.

“Dit is hoekom ek uitgetree het. Ek wil nie deel wees van ’n stelsel wat nie meriete eerste stel nie. Ek kan nie meer met ’n skoon gewete my familie, my loopbaan en toekoms by my Engelse klubspan afskeep vir ’n stelsel wat nie spelers op meriete kies nie.”

“Ek het my land die afgelope ses jaar gedien en ’n paar massiewe hoogtepunte ervaar, so ook om hulle te help om vir 2015 se Wêreldbeker te kwalifiseer. Vir die spelers wens ek die beste toe.”

Mervyn Green, uitvoerende hoof van Namibiese Rugby, het aan Rapport gesê Davies het volgens ’n duidelike plan gewerk om ’n span te bou vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi. Dit is al in 2016 in werking gestel en hy het oorsese spelers soos Bothma voortdurend op die hoogte gehou van sy planne.

Green het verdere navrae na Davies verwys. Davies het gesê hy respekteer Bothma se mening, maar het nie verdere kommentaar te lewer nie.

Meer oor:  Harlequins  |  Haaie  |  Bulle  |  Wêreldbekergroep  |  Toetsrugby  |  Namibië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.