Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fees op Ellispark: Dis mos Bok-gees!

Daar is weer hoop vir Springbok-rugby.

Groentjie met gif?.?.?.Die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi bulder sy emosies uit nadat hy gister ’n drie in sy Springbok-debuut teen Engeland gedruk het. Foto: Christiaan Kotze, SASPA

In een van die beste en mees dramatiese terugvegpogings in die geskiedenis van Springbok-rugby, het Siya Kolisi se Bok-span die gety met ’n agterstand van 24-3 gedraai om ’n roemryke oorwinning van 42-39 oor Engeland op Ellispark in Johannesburg te behaal.

Dit was teen die einde benoude boude, maar Kolisi-hulle kon nie vir ’n beter begin in die Rassie Erasmus-era gehoop het nie.

Die Engelse het die wedstryd in vyfde rat begin en ’n mens kon hoor hoe ondersteuners in die skare Allister Coetzee se naam uitroep. Dít was egter van korte duur, want algaande het die Erasmus-stempel begin deurslaan op die Bokke se spel en die ommeswaai is bewerkstellig toe die Bokke met 29-27 die voortou geneem het.

Ja, die Bokke het die basiese dinge weer vir ’n slag weer reg gedoen. Maar een van die redes waarom Erasmus wêreldwyd hoog aangeslaan word, is sy oog vir talent. Sy spankeuses is een van sy sterkpunte.

Sy besluit om die ervare Duane Vermeulen, Faf de Klerk en Willie le Roux van oorsee terug te bring, het dadelik die gewenste uitwerking gehad.

Vermeulen het een van sy beste vertonings in jare gelewer. Hy was net die regte medisyne vir die Bokke se siekte onder die hoë balle.

Erasmus gebruik hom al van sy Cheetah-dae daar. Dit was vooraf voorspelbaar dat hy weer daardie taak sou kry.

Die manier waarop Vermeulen om balbesit by die afbreekpunte meegeding en meters as baldraer gewen het, het al die vrae wat daar oor sy kondi­sionering kon bestaan, platgeduik.

Vermeulen het sy tweestryd ook loshande gewen teen die hoogaangeskrewe Billy Vunipola wat nog nie wedstrydskerp lyk ná sy beserings nie.

De Klerk was ’n bondeltjie energie soos altyd.

Sy groot toets was egter of sy basiese take as ’n skrumskakel verbeter het sedert hy Engeland toe is. Die antwoord is onomwonde ja.

Hy en Handré Pollard het ook soos ’n skakelpaar gelyk wat al jare saam speel. Pollard sal wel vorentoe aandag aan sy stelskopwerk moet gee.

Le Roux het nou onlangs in ’n onderhoud gesê hy is reg om vir die Bokke te bloei. Toe dit in daardie eerste helfte met die tuisspan swaar gegaan het, was hy een van die seniors wat sy stem dik gemaak het en geskree het gooi die bal vir my. Le Roux lyk na ’n meer volwasse speler sedert hy Engeland toe is en dit is goeie nuus vir Bok-ondersteuners.

Gee Erasmus ook krediet dat hy geloof in Bongi Mbonambi getoon het toe die res van die land sy wedstrydskerpheid bevraagteken het ná net sowat

23 minute se Superrugby vanjaar. Mbonambi is nie ’n Malcolm Marx of Bismarck du Plessis nie, maar hy het Saterdag meer as sy kant gebring.

Selfs die Bokke se twee nuweling-vleuels, S’busiso Nkosi en Aphiwe Dyantyi, het ná ’n swak begin uiteindelik tuis gelyk op toetsvlak. Albei het gewys hul het die vermoë om veel langer toetsrugby te speel, mits hulle bereid is om hard te werk.

RG Snyman, die ander Bok wat sy toetsbuiging in die beginspan gemaak het, het dadelik tuis gelyk in die geselskap. Hy gaan nog ’n meneer raak, hou dop.

Die lugdruk het beslis die besoekers se gal gewerk, maar hul doodskoot was toe Manu Vunipola in die 63ste minuut met ’n geelkaart gestraf is.

Die Bokke se impakspelers van Steven Kitshoff en Pieter-Steph du Toit was toe self witwarm.

’n Mens moet egter versigtig wees om meegevoer te raak met die Bok-vertoning.

Die krake was reeds voor Engeland se toer duidelik in Jones se span.

Hulle het vyfde in die Sesnasies klaargemaak, die swakste nog deur ’n Engelse span. Voor Saterdag se kragmeting was hulle in vier agtereenvolgende wedstryde aan die verloorkant met die Barbarians wat 60 punte teen hul opgestapel het.

Jones is ook betrokke in ’n bekgeveg met Engelse klubspanne oor die aantal spelers wat op sy oefenkampe beseer is.

Dit was Saterdag duidelik dat hul selfvertroue ’n knou weg het en as Jones nie blitsig beheer gaan neem nie, sal Engeland volgende jaar met ’n nuwe afrigter na die Wêreldbekertoernooi in Japan reis.

Wat die nederlaag ’n besonderse bitter pil vir die Engelse maak, is dat die Bokke moes klaarkom sonder sterre soos Marx, Du Plessis, Vincent Koch, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Jaco Kriel, Marcell Coetzee, Warren Whiteley en Frans Steyn, wat almal beseer is.

  • Punte:

Faf de Klerk, S’busiso Nkosi (2), Willie le Roux, Aphiwe Dyantyi. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Handré Pollard (3).

Mike Brown, Elliot Daly, Owen Farrell, Maro Itoje, Jonny May. Doelskoppe: Farrell (4). Strafdoele: Elliot Daly, Farrell.

Meer oor:  Springbokke  |  Engeland  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.