Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis ’n lang pad tot in die voorste ry

Die Springbokstut Frans Malherbe moes verlede jaar hard gaan sit en dink oor sy rugbyloopbaan ná ’n nekbesering wat hom lank buite aksie gehou het.

’n Stormlopie deur Frans Malherbe tydens die Bokke se wen-toets teen die All Blacks drie naweke gelede.Foto: Getty images

Hy het die Springbokke se veldtog in die Rugbykampioenskapsreeks misgeloop én die jaareindtoer na Europa, asook die eerste deel van vanjaar se Superrugby-reeks.

Die stut was wel geduldig genoeg met sy herstelproses en hy kon sy plek weer oopspeel tot in die Springbokspan sonder enige verdere las van die besering.

“Dit was natuurlik nie lekker om op die rusbank te sit en te kyk hoe daar rugby gespeel word deur die ouens nie,” het Malherbe oor sy tyd langs die kantlyn gesê.

“Maar met enige nekbesering moet jy verstandig wees en ernstig wees daaroor.

“Jy moet luister na wat die spesialiste sê en al die ander mediese opinies.

“Jy is in jou eie wedloop om weer fiks te word en om weer op die standaard te kom waar jy was voor die besering. Die belangrikste aspek vir my was om te fokus op herstel en om te luister na die kenners en nie slim te wil wees nie.

“Daar was dae waar ek gevoel het ek wil myself druk om vinniger te herstel. Ek het egter besef ek moes die regte roete volg.”

Ek wens ek was vinniger as ek met die bal hardloop

Sy amptelike terugkeer was vanjaar in die SuperSport-uitdaagreeks toe die Westelike Provinsie teen die OP Olifante gespeel het.

Hy sê dit was vir hom van voordeel om onder te begin, eerder as om by die diepkant ingegooi te word tydens Superrugby.

“Dit het vir my gewerk en ek het gemaklik gevoel om dit op dié manier te doen.

“Dis hoe ek verkies het om my herstelpad en terugkeer te volg.

“Ek moes speeltyd agter die blad kry, dit was die belangrikste. Ek is dankbaar teenoor John Dobson (afrigter van die WP) dat ek dit in sy span kon doen.”

Die 27-jarige Malherbe het die Springbok-keurders so beïndruk in sy kort speeltyd sedert sy terugkeer dat hy hom nou waarskynlik as Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, se eerstekeuse-vaskopstut gevestig het.

Sedert die tweede toets teen Engeland, toe hy sy Bok-terugkeer gemaak het, gaan dit nog steeds voor die wind en hy het elke toets as opdrafstut begin.

“Rassie het sy vertroue sommer vanaf daardie tweede toets teen die Engelse in my gestel. As jy terugkyk van waar ek vanjaar begin het tot waar ek nou sit, kan ek net dankbaar wees.”

Maar hokaai eers met daardie praatjies van eerste keuse, sê die Kapenaar.

Daar is baie goeie vaskoppe in die Bok-opset wat enige tyd sy plek kan inneem.

Hy besef dis ’n lang lys van spelers, met ouens soos Wilco Louw, Vincent Koch, Thomas du Toit, Trevor Nyakane en Coenie Oosthuizen wat al die Springbokke se nommerdrie-trui gedra het, wat in die tou staan.

“Jou fokus moet altyd op die span wees en om jou bes te doen.

“Dit gee jou selfvertroue dat daardie manne daar is om jou plek in te neem.

“Ons deel kennis met mekaar, veral Vincent wat al oorsee gespeel het. Niemand anders van ons het al oorsee rugby gespeel nie.”

Volgens Malherbe droom hy steeds oor daardie gaping wat hy in Wellington teen die All Blacks geslaan het in die Bokke se geskiedkundige sege van 36-34 drie Saterdae gelede.

“Ek dink ek het groter geskrik as julle. Natuurlik gebeur so iets net so nou en dan met stutte. Die belangrikste ding is dat ons ’n drie ná daardie gaping gedruk het.

“Ek wens egter ek was ’n bietjie vinniger sodat ek verder met die bal kon hardloop.”

Meer oor:  Frans Malherbe  |  Springbokke  |  Nekbesering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.