Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie se een fout beroof Bokke van sege
Dís ’n WB-span! Bokke verbeter weekliks

Hartverskeurend, maar dis Wêreldbeker-rugby op sy beste: Ongenaakbaar en kliphard.

Die All Blacks verdien krediet vir hul terugvegpoging nadat hulle ná 59 minute Saterdag 30-13 agter was om met 32-30 te seëvier voor net meer as 50 000 toeskouers op Loftus Versfeld.

Aphiwe Dyantyi probeer Saterdag vergeefs die bal by ’n spanmaat uitkry. Dié skittervleuel het min balbesit gehad en kon nie ’n draai agter die doellyn gaan maak nie.Foto: rEUTERS

Maar Rassie Erasmus gaan nagmerries hê oor die taktiese plaasvervangers wat hy teen die einde in dié Rugbykampioenskap-toets gemaak het. Hy het sy span se momentum daarmee prysgegee.

In die proses het die Bokke terselfdertyd ’n gulde kans verspeel om die All Blacks die eerste keer sedert 2009 ’n tweede keer in dieselfde jaar te klop.

Dís onverskoonbaar.

Die Bokke en die All Blacks het ondersteuners egter ’n voorsmaak gegee van wat op 21 September volgende jaar in die Groep B-kragmeting in Yokohama wag.

Enige Bok-nederlaag is onaanvaarbaar, maar om eerlik te wees, het min ondersteuners en kenners die Suid-Afrikaners vooraf ’n kans gegun om te wen. Wat uiters frustrerend is, is dat die Bokke tot voor die taktiese skuiwe in beheer was en die beter span op die veld was.

Hopelik het Erasmus, sy bestuurspan én die spelers wat hy teen die einde kans gegee het, waardevolle lesse geleer wat die verskil tussen wen en verloor in Yokohama kan beteken.

Daar was Saterdag weer verskeie Bok-brekers, soos Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Handré Pollard, Willie le Roux, Damian de Allende en Jesse Kriel. Maar ook Erasmus verdien krediet vir die wyse waarop hy in die afgelope tien toetse – al maak die Loftus-nederlaag seer – ’n klomp individue in ’n span saamgesnoer het.

Ná Saterdag se vertoning en die sege in Wellington sal nie net ondersteuners nie, maar elke span wat volgende jaar in Japan deelneem die Bokke as ’n ernstige aanspraakmaker beskou. Daar sal nou selfs onsekerheid onder die All Black-spelers self bestaan.

Afgesien van die taktiese skuiwe teen die einde waarmee Erasmus misgevat het, was die enkele grootste negatiewe in Saterdag se kragmeting die Suid-Afrikaners se gebrekkige afronding.

Die Bokke het reeds voor die taktiese skuiwe die kans gehad om die oorwinning te beklink. Daar was weer minstens vyf kanse wat die tuisspan nie benut het om die uitklophou te plant nie – ’n neiging van die tuisspan in die Rugbykampioenskap.

Die afronding is wel nie ’n krisis nie. Dit sal verbeter terwyl die span groei, soos die geval tans is. Verbeterde selfvertroue sal onder meer daarmee help.

As die Bokke wel gewen het, was ’n groot hoeveelheid van die gesprekke om vandag se braaivleisvure oor die Suid-Afrikaners se fisieke oorheersing.

’n Speler soos Marx was weer uitstekend as baldraer en baldief. Etzebeth het nie net teenstanders fisiek geboelie nie, maar was saam met Franco Mostert baie goed in die lynstane.

Kolisi groei in sy rol as kaptein. Saterdag was hy weer een van die Bokke se voorste baldraers. Hy het ook verskeie belangrike duikslae ingekry. Soos in die vorige toetse was sy flankmaat Du Toit se werkverrigting prysenswaardig.

Agterlangs was Willie le Roux uitstekend onder die hoë skoppe. Dis ’n jammerte dat die Bokke nie die wedstryd vir hom in sy 50ste toets kon wen nie.

Pollard het weer ’n goeie skopvertoning gelewer, maar ook goed aangeval en sy agterlyn mooi weggestuur. Hy is beslis die man in die saal op losskakel.

Kriel en De Allende kan nog beter wat hul afronding betref, maar albei kan tevrede met hul spel voel.

Kriel het goed aangeval en verdedig. Met tye het hy ook sy lyf baljagter by die afbreekpunte gehou. Hy was die Bokke se voorste agterspeler.

Kort op sy hakke was De Allende, wat soos sy sentermaat op die aanval en verdediging sy kant gebring het.

’n Mens moet erken dat die All Blacks kwesbaar in die beseerde Brodie Retallick se afwesigheid is. Dit het hul vertonings in Wellington en Pretoria gewys. Sonder hom was die Bokke bo in die kontaksituasies en in die vaste fasette.

Die All Blacks het egter met dié sege gewys dat hulle nie sonder rede die wêreld se voorste span is nie. Om op só ’n wyse terug te veg, is ’n bewys van ’n span van wêreldgehalte.

Spelers soos Scott Barrett, Rieko Ioane, Aaron Smith en Sam Whitelock het onder meer onder die besoekers se uitblinkers getel.

Selfs Richie Mo’unga het teen die einde ’n groot verskil gemaak om die momentum met sy skopskoen terug in die tuisspan se rigting te swaai.

Die nederlaag maak baie seer omdat die Bokke die toets teen die einde weens swak taktiese plaasvervangers verloor het eerder as wat die All Blacks hom gewen het.

Maar dié nederlaag is nie ’n totale ramp nie. Daar was genoeg positiewe aspekte vir die Suid-Afrikaners in die Rugbykampioenskap.

Hul geluk kan ook net verbeter wat die aanstelling van blasers betref. Hopelik tref hulle nie weer die Aussie Angus Gardner op pad en in die Wêreldbeker nie. Daardie drie van Smith ná ’n duidelik vorentoe aangee deur Codie Taylor het die Bokke seer gebyt.

Onthou, dit was juis die einste Gardner wat die blaser in Mendoza teen Argentinië was.

Punte:

SUID-AFRIKA 30:  Drieë: Jesse Kriel, Damian de Allende, Cheslin Kolbé. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Strafdoele: Pollard (3). 

NIEU-SEELAND 32: Drieë: Aaron Smith, Rieko Ioane, Scott Barrett, Ardie Savea. Doelskop: Richie Mo’unga (3). Strafdoele: Beauden Barrett (2). 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.