Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis nie ‘wêreldkrisis’, sê Kurt oor flater

Dit is nie ’n “wêreldkrisis” as ’n mens die volkslied verkeerd sing nie, sê Kurt Darren.

’n Storm het om dié 49-jarige sanger se kop losgebars nadat hy die Suid-Afrikaanse volkslied voor Maandagaand se Varsitybeker-eindstryd in Stellenbosch verkeerd gesing het.

Hokaai, dis geen krisis nie. Kurt Darren tydens ’n optrede in Maart in Kaapstad. Foto: Gallo Images

“Ek is jammer dat ek die woorde verkeerd gehad het, maar dit is nie ’n wêreldkrisis nie,” het Darren Dinsdag by navraag gesê.

“As jy voor 20 000 studente sing en te veel oor iets dink, sal dit gebeur. Ek het nadat ek gesing het die wedstryd gekyk en nie weer daaroor gedink nie.”

Kaptein, soos daar dikwels na Darren verwys word, met verwysing na sy trefferliedjie “Kaptein, span die seile”, moes die volkslied sing voor die eindstryd tussen die Maties en Tuks.

Darren sê toe hy Dinsdagoggend wakker word, het hy op sosiale media gesien dat hy gekap word en selfs van rassisme beskuldig word.

Die laaste strooi was toe die geselsradio-omroeper Eusebius McKaiser van Radio702 hom Dinsdag in ’n onderhoud gevra het hoekom hy juis nie die gedeelte ken wat nie Afrikaans en Engels is nie.

“Ek respekteer die volkslied en almal wat my ken, weet ek is nie rassisties nie. Mense soek goed om teen my te gebruik, maar ek gaan nie dat hierdie afbreuk aan my loopbaan doen nie,” sê Darren.

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp het op Twitter gesê Darren het “die woorde van Nkosi (Nkosi Sikelel’ iAfrika) vergeet en meestal Die Stem-gedeelte gesing. Die dronk studente moes hom gehelp het”.

Ene babygirl het haar mond op sosiale media uitgespoel: “Kurt Darren het gesê f*k die volkslied.”

Ander sosialemediagebruikers soos ene Iskhothane het die geleentheid gebruik om toeskouers by die eindstryd in die algemeen by te kom.

“Die sing van die ‘volkslied’ gisteraand het baie verklap. Dit was nie net Kurt Darren nie, die meerderheid van die toeskouers het slegs by die Afrikaanse gedeelte begin sing.”

Darren het sy volgelinge later op sy Facebook-blad om verskoning gevra en gesê “ek was duidelik vasgevang in die oomblik”.

Al wat die ringkoppe van die Varsitybeker-reeks bereid was om te sê, is dat hulle die kwessie as afgehandel beskou.

“Ons het kennis geneem van Kurt Darren se verskoning oor sy weergawe van die volkslied en beskou die kwessie as afgehandel,” sê Xhanti-Lomzi Nesi, bestuurder van die reeks.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het by monde van sy woordvoerder, Martin Viljoen, bevestig dat Darren die universiteit om verskoning gevra het.

“Die Rugbyklub probeer om ’n verskeidenheid nuwe én gevestigde sangers te kry om die volkslied voor wedstryde te sing.

“Mnr. Kurt Darren is gevra om gisteraand op te tree nadat hy al op verskeie geleenthede by die US opgetree het. Hy het die universiteit om verskoning gevra en bevestig dat hy groot respek vir die volkslied het. Hy het ook diegene wat aanstoot geneem het om verskoning gevra.”

Darren is nie die eerste plaaslike sanger wat in die spervuur beland het omdat hy die woorde van die volkslied verkeerd gesing het nie.

Ras Dumisani het in 2009 die koerantopskrifte oorheers toe hy die volkslied verkeerd gesing het voor die rugbytoets tussen die Springbokke en Frankryk in Toulouse.

Ard Matthews, sanger van die groep Just Jinger, het in 2011 tydens die aankondiging van die Springbok-groep vir die Wêreldbekertoernooi daardie jaar ook die woorde vergeet.

Dit is egter nie net Suid-Afrikaners wat met die sing van die volkslied oor hul woorde struikel nie.

Die Amerikaanse popster Christina Aguilera het in 2011 tydens ’n regstreekse uitsending op televisie skynbaar die woorde van dié land se volkslied vergeet en dit sommer met haar eie woorde vervang.

* Nkosi Sikelel’ iAfrika is sedert 1997 Suid-Afrika se volkslied en bestaan uit gedeeltes in vyf tale, naamlik Xhosa, Zulu, Sotho, Afrikaans en Engels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.