Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Dis persoonlik,’ sê Ivan ná Bok-nederlaag

Die bloedjong-Springbokspan wat Saterdag met 22-20 teen Wallis in Washington verloor het, neem dié nederlaag persoonlik op.

Ivan van Zyl duik op ’n bal in die Bokke se toets teen Wallis. Foto: Gallo Images

Ivan van Zyl, die skrumskakel en een van 13 debutante, sê die spelers wat Saterdag ’n kans gaan kry om teen Engeland vir dié nederlaag te vergoed, sal alles in hul vermoë doen om presies dít te vermag.

“Ons vat dié nederlaag persoonlik. Ons wil nooit in ’n Springbok-trui verloor nie, dit gaan alles oor trots vir ons. Ons gaan so hard werk as wat ons kan om te verseker ons kry volgende week ’n goeie uitslag,” het Van Zyl ná die nederlaag gesê.

Hy sê die twee drieë wat Wallis in die tien minute voor die rustyd gedruk het, was op die ou end die verskil tussen die twee spanne.

“Hulle het twee kanse gehad voor rustyd en hulle het dié geleenthede benut. Ons het drie of vier geleenthede gehad wat ons weggegooi het. Dit was die groot verskil.

Hulle het twee kanse gehad voor rustyd en hulle het dié geleenthede benut. Ons het drie of vier geleenthede gehad wat ons weggegooi het. Dit was die groot verskil.
Ivan van Zyl

“Ons het baie geleenthede geskep en dít is positief, maar in toetsrugby moet jy jou kanse benut, anders gebeur dinge soos wat dit vanaand gebeur het,” sê Van Zyl.

Die Bokke was ná die rustyd beter – meer afgemete en beheers.

“Rustyd het net op die regte tyd gekom. Almal het kalm geraak en die afrigters het hul boodskappe weer oorgedra. Ons het die tweede helfte goed begin met daardie onderskepdrie (van Travis Ismaiel). Daarna het ons besef ons moet net weer fokus op die basiese dinge.

“Ongelukkig het nog ’n skopfout (Robert du Preez se afgestormde skop) ons die wedstryd op die einde gekos. Ons het karakter gewys, maar dit was nie genoeg op die einde nie.”

Die bal was opsigtelik glad en hantering aan albei kante was power. Van Zyl sê dít was te wyte aan reën en humiditeit.

“Daar is baie ouens wat van Durban af kom en gewoond is aan die bedompigheid. Die humiditeit en die reën is egter geen verskoning nie. Die weer was dieselfde vir albei spanne.”

Oupa Mohoje dra die bal teen Wallis. Foto: Gallo Images

Die Bok-steelkantflank, Oupa Mohoje, sê die 13 spelers wat hul buigings gemaak het, sal Suid-Afrika in die toekoms met onderskeiding dien.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring vir die spelers wat hul buigings gemaak het. Dis goed dat die diepte van Suid-Afrikaanse rugby uitgebou word. Hoewel ons verloor het, weet daardie spelers nou waaroor toetsrugby gaan,” sê Mohoje.

Een van daardie spelers is Mohoje se voormalige Cheetah-spanmaat, die vleuel Makazole Mapimpi. Hy het ’n drie in sy buiging gedruk.

“Mapimpi is beslis ’n driedrukker. Hy het sy hand opgesteek om moontlik volgende week gekies te word. Hy kan trots voel op sy vertoning in sy eerste toets – hopelik sy eerste van vele.”

Meer oor:  Wallis  |  Ivan Van Zyl  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.