Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís waarom Haaie Jaden by diepkant ingooi

Die Haaie gaan die bloedjong skrumskakel Jaden Hendrikse Saterdag in die eindstryd van die Curriebeker-reeks op die Blou Bulle in Pretoria loslaat.

Jaden Hendrikse is vir die Haaie se beginspan in die eindstryd teen die Bulle Saterdag op Loftus Versfeld gekies. Foto: Gallo Images

In ’n ietwat verrassende wending het Sean Everitt,die KwaZulu-Natallers se afrigter, Hendrikse (20) by die beginspan in die plek van Sanele Nohamba (22) ingesluit. Nohamba het hom onlangs as die Haaie se voorkeur-skrumskakel onderskei, maar sal Saterdag op die plaasvervangersbank sit.

Hendrikse het die laaste ruk groot indruk gemaak wanneer hy speelkans gekry het.

“Jaden sou al verlede week begin het, maar weens ’n maagprobleem kon hy vir die grootste gedeelte van die week nie geoefen het nie en ons het hom daarom op die bank gesit en vir Sanele beginkans gegee,” sê Everitt.

“Ons voel Jaden is op sy beste en Sanele sal die energie van die plaasvervangersbank af bring. Jaden is ’n goeie besluitnemer by die afbreekpunte, hy is ’n goeie verdediger en het selfs al ’n paar keer omgekeerde besit bewerkstellig.

“Sy grootste sterkpunt is hoe hy ’n wedstryd beheer. Hy het ’n goeie skop in die kassie. Hy het sy vermoëns reeds ten toon gestel.

“Sanele sal beslis kan aanpas in die nuwe rol. Hy sal die tempo versnel. Hulle is twee verskillende skrumskakels, met verskillende vaardighede. Sanele ken die plan baie goed.

“Die belangrikste deel van ’n eindstryd is die tweede helfte wanneer jy die teenstanders moet wegbêre of moet die wedstryd moet jaag. Sanele sal dus ’n belangrike rol hê.”

Dit is Everitt se enigste verandering aan die 23-tal wat die Westelike Provinsie verlede week in die halfeindstryd op Nuweland geklop het.

“Dit is goed om dieselfde groep te kan kies as verlede week, dit was die eerste keer in die reeks wat ons dit kon doen. Dit gee die spelers selfvertroue.”

Everitt sê dissipline gaan Saterdag deurslaggewend wees.

“Die bal trek ver op die Hoëveld, so as jy ’n strafskop afstaan, gaan dit jou óf drie punte kos, of jy gaan teen ’n rolmaalbeweging moet verdedig, wat die Bulle se groot sterkpunt is.”

Everitt sê die wyse waarop sy span die naweek die WP se rolmale gestop het, asook die wyse waarop hulle die Bulle in die groepfase in Durban gestuit het, gee sy span selfvertroue.

Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Yaw Penxe, Curwin Bosch, Jaden Hendrikse, Sikhumbuzo Notshe, Henco Venter, Dylan Richardson, Ruben van Heerden, JJ van der Mescht, Thomas du Toit, Fez Mbatha, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Dan Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Sanele Nohamba, Jeremy Ward, Manie Libbok.

Meer oor:  Jaden Hendrikse  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Haaie  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.