Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís waarom Jake Cornal vleuel toe skuif
Lionel Mapoe toe hy nog ’n paar seisoene gelede ’n staatmaker vir die Leeus was. Hy kom Saterdag, in ’n Ligblou-trui, teen sy voormalige spanmaats te staan. Foto: Gallo Images

Die Leeus het wel die afgelope week tuis teen Griekwas verloor, maar die span van Johannesburg is die Bulle se nemesis sedert hy die Ligbloues begin afrig het, sê Jake White.

Daarom word daar in die Bulle-kamp nie veel gemaak van die nederlaag wat die Leeus teen die Poubloues gely het nie.

Die Gautengse buurmanspanne pak mekaar Sondagmiddag op Loftus Versfeld in die Curriebeker-kompetisie.

“Die Leeus is die een span teen wie ons nog nie regtig kon oorheers nie. Ons het al goed gespeel teen die Haaie en teen die Westelike Provinsie en spanne soos die Cheetahs en Pumas, maar nog nie teen die Leeus nie.

“Een van die redes is waarskynlik dat baie van hul spelers dié omgewing (by Loftus) ken en hulle is ’n onvoorspelbare span wat vinnig kan toeslaan.

“Griekwas vaar goed en hulle is waarskynlik die voorste span so ver. Die oorwinning oor die Leeus was nie ’n gelukskoot nie; hulle het al die Westelike Provinsie en die Cheetahs ook geklop,” sê White.

Die Bulle het ’n voormalige Leeus-senterpaar, Lionel Mapoe en Harold Vorster, gekies met Mapoe wat sy buiging vir die Ligbloues maak.

White sê dit maak sin om ’n kombinasie te kies wat in Superrugby so gedug vir die Leeus was.

“Ek is ’n groot voorstander van gevestigde kombinasies en Harold en Lionel het in die verlede baie ure lank saam geoefen en gespeel.

Cornal skuif vleuel toe, waar hy die meeste van sy rugby gespeel het en ek sien uit na die agterlyn se vertoning, veral nadat Johan Goosen so goed gevaar het verlede week.
Jake White

“Cornal skuif vleuel toe, waar hy die meeste van sy rugby gespeel het en ek sien uit na die agterlyn se vertoning, veral nadat Johan Goosen so goed gevaar het verlede week (teen die Suid-Afrikaanse A-span).”

Dit is ook die eerste keer dat die belowende Kriel-broers, David en Richard, saam in die beginspan gekies is.

White sê die Bulle is net so gemotiveerd soos voorheen om hul Curriebeker-titel suksesvol te verdedig.

Jake White

“Dit is nie ideaal dat daar soveel wedstryde gekanselleer is nie, maar dit help ook in ’n mate om dinge in heroënskou te neem en te hergroepeer. Die spelers kry ook ’n kans om te rus vir dit wat nog voorlê dié seisoen.

“Die Curriebeker-kompetisie is baie belangrik vir die unie en ons wil ons goed vaar.”

Dit is intussen onduidelik of die beseerde Bok-agtsteman Duane Vermeulen in die Curriebeker-reeks gaan diens doen voordat hy weer by die Springbokke betrek gaan word.

“Duane vorder goed en dit is wonderlik dat hy die Bulle se mediese en kondisioneringspan met sy herstelproses gebruik.

“Ek is nie seker of hy eers vir ons gaan speel voordat hy weer by die Bok-kamp aansluit nie. Die Bokke sal besluit of hy speeltyd by ons nodig het en of hy dadelik by hulle inval.

“In dié stadium voorsien ek nie dat hy vir ons gaan speel nie. Gebeur dit, sal dit ’n bonus wees.”

Blou Bulle:

David Kriel, Cornal Hendricks, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Richard Kriel, Johan Goosen, Zak Burger, Elrigh Louw, Muller Uys, Marcell Coetzee (k), Ruan Nortjé, Walt Steenkamp, Jacques van Rooyen, Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima. PLAASVERVANGERS: Schalk Erasmus, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Janko Swanepoel, Nizaam Carr, Keagan Johannes, Chris Smith, Sibongile Novuka.

• Die Leeus maak eers Saterdag hul span bekend.

Afskop: 15:15.

Skeidsregter: Paul Mente.

Assistent-skeidsregters: Plaaslik.

TV-skeidsregter: Marius van der Westhuizen.


Meer oor:  Jake White  |  Cornal Hendricks  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Heelagter  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Bulle  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.