Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís waarom Pumas paraat is
Die Pumas was in ekstase toe hulle Sondag die SuperSport-uitdaagreeks in Oudtshoorn gewen het. Foto: Gallo Images

Die Pumas se dramatiese oorwinning Sondag in die eindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks teen Griekwas was nie regtig ’n verrassing vir hul hoofafrigter, Brent Janse van Rensburg, nie.

’n Verligting, maar nie ’n verrassing nie. Want Janse van Rensburg maak al die hele seisoen seker dat sy span weet hoe om onder druk ’n haas uit ’n hoed te pluk.

“Ek daag die spelers in ons oefeninge uit om onder druk te funksioneer. Hulle moet weet hoe om in alle situasies, byvoorbeeld as ons met ’n geelkaart gestraf word, op hul beste te wees,” sê Janse van Rensburg.

Die Pumas het in die eindstryd in Oudtshoorn gewys hulle weet hoe om kalm te bly.

Daardie laaste paar minute van die wedstryd het hulle aanhou werk vir die oorwinning en eers toe Justin van Staden die skepdoel deur die pale jaag om die wedstryd met 32-30 te verseker, het hulle ontspan.

Brent Janse van Rensburg het homself al meer as een keer as ’n uitgeslape afrigter bewys.Foto: Gallo Images
Justin van Staden kan ná dese met die bynaam “Koelkop” spog nadat hy in die doodsnikke van die eindstryd teen Griekwas vir die Pumas die wenskepdoel deur die pale gejaag het. Foto: Gallo Images

“Ten spyte van baie beserings was ons onoorwonne in die reeks, so die spelers het baie geloof in hul vermoëns,” sê Janse van Rensburg.

“Ek moet hulle ook ’n pluimpie gee vir hul houding. Hulle is positief en oefen met oorgawe.”

In die oefeninge word daar ook planne gemaak waarmee die Pumas hul teenstanders kan verras, soos die negeman-lynstaan teen Griekwas.

“Ek is gelukkig dat ek goeie leiers in die span het. Die kapteins, Hennie Skorbinski en Jeandré Rudolph, is kalm onder druk,” sê Janse van Rensburg.

“En Stefan Ungerer op skrumskakel het ’n ongelooflike rugbybrein. Hoe hy ’n wedstryd bestuur, is uitstekend.”

Die breier het ook ’n goeie woord vir sy plaasvervangers.

“Om ervare manne soos Justin van Staden en Frankie Herne te kan opstuur, gee my gemoedsrus. Hulle bring energie en leierskap na die veld,” sê hy.

Die Curriebeker-reeks begin een van die dae en ons wil nog meer as ’n span daarvoor ontwikkel.
Brent Janse van Rensburg

Vir die volgende week of wat geniet die Pumas ’n blaaskans voordat hulle na die oefenveld terugkeer.

“Die Curriebeker-reeks begin een van die dae en ons wil nog meer as ’n span daarvoor ontwikkel,” sê Janse van Rensburg.

“Die reeks word vanjaar oor net een ronde gespeel, so ons wil met mening wegspring.”

Janse van Rensburg voel ook dat die Pumas se mededingendheid in verlede jaar se Curriebeker-reeks tot hul sukses in die SuperSport-uitdaagreeks bygedra het.

“Die spelers was verlede jaar baie teleurgesteld omdat hulle nie die halfeindronde gehaal het nie, maar hulle het ook baie selfvertroue uit die reeks geput,” sê hy.

Vir eers fokus Janse van Rensburg en sy spelers net op die komende Curriebeker-reeks en probeer om nie aan moontlike deelname aan ’n oorsese reeks te dink nie.

Daar is al heelwat bespiegel dat die Pumas iewers vorentoe aan iets soos die Anglo-Welsh-reeks in Brittanje kan deelneem.

“Kyk, dis belangrik dat die Pumas ’n franchise moet hê wat op ’n hoër vlak deelneem. Dis belangrik om ons spelers te behou, vir borge en vir die blootstelling, maar ek los daardie geveg vir die manne in die raadsale,” sê Janse van Rensburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.