Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís waarom Rassie vir Frans gekies het

Nét ’n besering sou verhoed het dat Frans Steyn die Springbokke op ’n derde Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig.

Frans Steyn gaan Suid-Afrika volgende maand op ’n derde Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig. Foto: Gallo Images

So het Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke, besluit nadat hy Steyn verlede jaar in Frankryk ontmoet het.

“Ek het daardie dag gesien hy het ’n groot begeerte om weer vir die Springbokke te speel.

“Daar was tegniese kwessies rondom sy familie en klub wat hy moes uitsorteer, maar daar was by my geen twyfel dat hy WB-toernooi toe sal gaan nie.

“Om eerlik te wees, net ’n besering sou dit verander het,” het Erasmus vandeesweek op die bekendmaking van sy groep gesê.

Die Bok-breier het sy kaarte styf teen die bors gehou nadat hy die 32-jarige Steyn vroeër die seisoen uit Frankryk ontbied het.

Hy en André Esterhuizen is beskou as die nommer twee en drie agter die binnesenter Damian de Allende.

Esterhuizen het sedert verlede jaar in agt toetse gespeel, waarvan sewe in die beginspan was.

Steyn daarenteen, was in al vier toetse vanjaar ’n plaasvervanger.

Erasmus sê hy wou sien hoe Esterhuizen vaar.

“André het goed gedoen, maar Frans was ’n maklike keuse.

“Ek het hom voorheen afgerig en dink ek het selfs in ’n stadium teen hom gespeel.

“Ons weet wat ons in hom het. Hy bied baie ervaring en kan losskakel, binnesenter, heelagter en selfs buitesenter speel.”

Frans Steyn glimlag Maandag breed op die bekendmaking van die Springbokke se WB-groep. Foto: Gallo Images

Steyn, ’n WB-wenner in 2007, se ervaring is van groot waarde en hy is met voorbedagte rade gekies.

Erasmus soek ’n paar deurwinterde spelers vir die “naasbestes”, wat in die groepwedstryde teen Namibië en Kanada gaan speel.

Daar is juis minder ervaring in die groep as op vorige toernooie.

Heyneke Meyer se groep van 31 het in 2015 altesame 1 297 toetse agter die blad gehad toe hulle na Engeland vertrek het – ’n gemiddeld van 41,8 toetse per speler.

Daar was ook drie spelers met 100-talle, Jean de Villiers, Bryan Habana en Victor Matfield.

Daar is 1 030 toetse (33,2 per speler) in Erasmus se groep met net Beast Mtawarira (110) wat verby die kerf van 100 toetse is.

“Ons het nie daardie luukse gehad nie.

“Dit was ons benadering om die laaste vier toetse 34, 35 spelers te hê, waarvan nie een met ’n oefening weens ’n skeet nie kon oefen nie.

“Almal kon deelneem en was beskikbaar en ek glo dit gee die intensiteit in die span ’n hupstoot,” het Erasmus gesê.

Daar is wel 14 spelers in die 31-tal wat in 2015 ook onder Meyer se uitverkorenes was – Mtawarira, Schalk Brits, De Allende, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Jesse Kriel, Willie le Roux, Francois Louw, Frans Malherbe, Trevor Nyakane, Handré Pollard en Duane Vermeulen.

Hier is die volledige Bok-groep. Klik op elke foto om besonderhede oor die speler te sien.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.