Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dis wat ek by Cheetahs wil bereik – Steyn

Vyftien jaar nadat Frans Steyn voor die neus van die Vrystaat Rugbyunie weggeraap is, is dié dubbele Wêreldbeker-wenner opgewonde oor die vooruitsig om ’n eerste keer vir die Cheetahs uit te draf.

Frans Steyn in aksie vir Montpellier. Hy is van Julie terug by die Cheetahs. Foto: Getty Images

Dié 32-jarige Springbok-agterspeler sluit hom op 1 Julie by die Cheetahs aan vanaf Montpellier in Frankryk en word hy herenig met nog ’n veteraan-Springbok, die 36-jarige skrumskakel Ruan Pienaar.

“Ek is baie, baie opgewonde oor my koms na die Cheetahs. Ek moet bieg ek sien nogal uit daarna om my rugby in Bloemfontein te kan speel,” het Steyn Maandag in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê.

Hoewel die Cheetahs nie vir hom vreemd gaan wees nie, word hy die eerste keer in sy roemryke loopbaan ’n gekontrakteerde speler van die unie.

Steyn het as skoolseun by Grey-kollege reeds die aandag op hom gevestig en is voor die Cravenweek-toernooi in 2005, toe hy sy arm gebreek het, deur die Haaie se tjekboek-jagters in 2006 na Durban gelok.

Frans Steyn in aksie vir die Bokke teen Japan in die 2019 Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Hy het daar gespeel totdat hy in 2009 na Frankryk is.

“Die Cheetah-span was nooit ’n maklike een om teen te speel nie. Hulle het altyd ’n goeie gees gehad, wat ek kon sien toe ek destyds teen hulle gespeel het, maar dit was baie lank gelede. Hopelik is dit nog steeds die geval,” sê hy.

Hy sê hy behoort darem nie soos ’n vreemdeling tussen sy spanmaats te voel nie aangesien hy twee van die spelers goed ken.

Benewens Pienaar, was Steyn en die stut Aranos Coetzee ook voorheen spanmaats. Steyn en Pienaar het destyds saam vir die Haaie gespeel en toe later weer by Montpellier, terwyl hy en Coetzee saam vir nog ’n Franse klub, Racing 92, uitgedraf het.

“Ek wil my net uitleef op die rugbyveld en ’n wesenlike bydrae en verskil kom maak. Daar sal altyd gepraat word dat ons die Pro14-reeks wil wen, maar ons sal maar moet kyk hoe sake verloop.”

Selfs ek, Jannie en Bismarck du Plessis – toe ons saam vir Montpellier gespeel het – het altyd grappenderwys gesê dit sal lekker wees as ons ons laaste speeljaar saam by die Cheetahs kan afsluit.

Steyn sê dis belangrik dat sy vrou en kinders standvastigheid in Bloemfontein kry.

Wat hy ook graag sal wil sien, is dat hy en Pienaar, en nog ’n voormalige dienaar van Vrystaat-rugby, die veelsydige agterspeler Johan Goosen, saam vir die Cheetahs in ’n wedstryd speel.

Goosen het nog ’n jaar van sy kontrak by Montpellier oor. Hy het egter reeds laat blyk hy sal graag weer vir die Cheetahs wil speel.

“Dit sal nogal lekker wees as ons saam kan speel. Selfs ek, Jannie en Bismarck du Plessis – toe ons saam vir Montpellier gespeel het – het altyd grappenderwys gesê dit sal lekker wees as ons ons laaste speeljaar saam by die Cheetahs kan afsluit.”

Hawies Fourie, die Cheetahs se afrigter, is baie opgewonder oor Steyn se kontraktering.

“Dis baie goed om te weet dat Frans by ons geteken het en dat ons van Julie af ’n speler van sy kaliber in ons span gaan hê.

“Dis vir my belangrik om spelers met ervaring in die belangrikste posisies te hê.

Frans Steyn in 2019 op die aanval vir die Bokke teen die All Blacks in die Rugbykampioenskap in Wellington. Foto: Getty Images

“Dis belangrik om ervaring op die regte plekke te hê en dis wat Frans bring. Hy is ’n veelsydige speler, maar sy beste posisie is senter of losskakel en dis waar ek hom sien,” sê Fourie.

Hy sê met die klein begroting wat die Cheetahs het, is dit belangrik om veelsydige spelers te hê, veral agterlangs. Hy sê hulle gaan minder spelers kan bekostig en dis vir hom belangrik dat hy spelers het wat in verskillende posisies goed kan speel.

“Dit gaan nie net om posisies te dek as daar beserings is nie, maar om ’n verskil te maak, so dis hoekom dit vir my belangrik was om vir Frans te kry om Vrystaat toe te kom.”

Wat Steyn se koms nog meer merkwaardig maak, is dat die Cheetahs nou nog ’n speler met internasionale ervaring het om te kan gebruik.

“Daar is ’n persepsie dat die Suid-Afrikaanse Pro14-spanne nie Springbokke het en oplewer nie en dis iets wat ek wil verander. Vir my is dit ook belangrik dat spelers hul volle potensiaal bereik en as jy spelers van Frans se kaliber in jou groep het, maak dit die kans vir die ander spelers om hul potensiaal te bereik, beter.

“Dis vir my belangrik dat ons weer Springbokke oplewer uit die Pro14-reeks om ’n bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby te lewer,” sê Fourie.

Meer oor:  Montpellier  |  Cheetahs  |  Frans Steyn  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.