Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís wat WP-rugbybase ‘toesmeer’

Siviele eise kan teen lede van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se uitvoerende raad ingestel word nadat besonderhede van ’n dissiplinêre kwessie wat “toegesmeer” is, deur ’n gegriefde party bekom is.

Zelt Marais / Foto: Gallo Images

Die dissiplinêre kwessie ter sprake is ’n tugsaak teen Ronald Bantom, voorheen ’n lid van die WP se uitvoerende raad.

Hy is verlede jaar in November verbied om aan die WP se verkiesing vir ampsdraers deel te neem, hangende ’n verhoor oor ’n onderonsie met Jessie Claassen, die nasionale bestuurder van die SA Rugby Legends se Vuka-rugbyprogram.

Ronald Bantom / Foto: Gallo Images

Bantom was ’n kandidaat vir die WPRU se vise-presidentskap.

Die voorval het op 9 Augustus 2017 by die Citypark-sportkompleks plaasgevind.

Die WPRU het in Februarie vanjaar besluit om nie voort te gaan met die tugsaak teen Bantom nie.

Claassen, wat aanvoer Bantom se saak is uitgegooi omdat hy in die aanloop tot die verkiesing vir die WPRU se president, Zelt Marais, en ander lede van die uitvoerende komitee steun by die klubs gewerf het, hom aanvanklik in ’n muur vasgeloop het om inligting oor die saak te bekom.

Marais het vroeër vanjaar Claassen se uitsprake verwerp en gesê dat die saak deur “politieke agendas” gedryf is, en dat dit reeds op 5 Junie 2018 op “raads- en presidensiële vlak afgehandel is”. Hy meen Bantom is ’n onreg aangedoen.

Bantom, wat nie Dinsdag wou kommentaar lewer nie, het vroeër vanjaar aangevoer dat die optrede teen hom ’n slenter was om te verhoed dat hy aan die WPRU se verkiesing deelneem, en glo hy is in die visier vanweë sy ongemaklike vrae oor die WPRU se “Aerios-transaksie”, wat finansiële rampspoed vir die unie tot gevolg gehad het.

Claassen het egter nou plofbare inligting oor die kwessie en dokumente bekom oor ’n ondersoeker se aanbeveling aan die WPRU dat Bantom verhoor moet word.

Die dokumente waartoe hy toegang verkry het en wat Netwerk24 ook gesien het, dui op 12 klagtes teen Bantom, wat insluit:

1. Dat hy vir Claassen geïntimideer, aanstoot gegee, beledig en/of verneder het;

2. Dat hy nie met omsigtigheid opgetree het in die uitvoering van sy pligte vir en namens WP Rugby nie, deur in die openbaar op ’n intimiderende en oproerige manier wyse teenoor Claassen op te tree, en dat hy aanstoot gegee het;

3. Dat hy teen die belang van WP Rugby en die spel van rugby opgetree het;

4. Dat hy die WP en die spel in oneer gebring het;

5. Dat hy vulgêre gebare gemaak en vuil taal teenoor Claassen gebruik het, wat teen die reëls van die WPRU, Saru en Wêreldrugby indruis;

6. Dat hy opgetree het op ’n manier wat die spel, Saru en enige kommersiële vennoot van die spel negatief raak;

7. Dat hy opgetree op ’n wyse wat ’n negatiewe of potensieel negatiewe invloed op die verhouding van Saru en die beheerliggaam se belanghebbendes kon hê;

8. Dat hy nie met omsigtigheid opgetree het nie deur namens die WP ’n SMS-boodskap te sirkuleer waarin hy rolspelers en skole wat aan Vuka Rugby deelneem, aanmoedig om bande met Vuka te breek;

9. Dat hy met dieselfde SMS teen die belang van die WP en die spel opgetree het;

10. Dat hy die WP en die spel in oneer gebring het deur die SMS te sirkuleer;

11. Dat hy deur die SMS te sirkuleer opgetree het op ’n manier wat die spel, Saru of ’n kommersiële vennoot van die spel negatief geraak het;

12. Dat hy opgetree het op ’n manier wat die verhouding tussen Saru en sy belanghebbendes negatief geraak het, of die potensiaal gehad het om dit negatief te raak.

Claassen is nou op die oorlogspad.

“Hoe kan só ’n tugproses net gestaak word? Ek sê weer eens dat Ronald Bantom vir lede van die uitvoerende raad voorbrand gemaak het voor die verkiesing. Die WP se vorige uitvoerende raad het die proses (’n ondersoek na Bantom se beweerde optrede) van stapel gestuur,” sê Claassen.

Hy het bygevoeg dat hy in sy “persoonlike hoedanigheid” en nie namens die SA Rugby Legends nie, siviele eise oorweeg teen lede van die uitvoerende raad – “gesamentlik en afsonderlik”.

Claassen konsulteer sy regspan op 1 Julie.

Meer oor:  Wp Rugy  |  Ronald Bantom  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.