Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dít het Bokke geknak – Aaron Smith
Die begin van die einde...Die All Black-vleuel Rieko Ioane druk Saterdag sy span se eerste drie teen die Springbokke.Foto: Getty Images

Die drie in die 17de minuut van Rieko Ioane en Nehe Milner-Skudder s’n vier minute later, het die Springbokke se geesdrif in Saterdag se Rugbykampioenskap-slagting van 57-0 teen die All Blacks in Albany geblus.

“Tot voor dié drieë het die Bokke teen ’n pas gespeel wat ons nog nie vanjaar beleef het nie,” het Aaron Smith, skrumskakel van die All Blacks, gesê.

“Dit voel werklik nie vir my of dit so maklik was soos die telbord aandui nie. In die eerste 20 minute was hulle baie fisiek. Hulle het behoorlik ingeklim en ons seergemaak.

“Gelukkig kon ons omgekeerde balbesit verkry en drieë behaal. Dit het hul passie gedemp.

“Ons het daarna ons strukture aan die gang gekry. Ons het foute met ons verdediging afgedwing. Ons het geweet van omkeerbesit af sal hulle strukture in die moeilikheid wees.”

Smith en sy skakelmaat, Beauden Barrett, was die argitekte in die Bokke se ondergang.

Ioane se drie in die eerste kwart van die toets, het juis ná ’n slim rolskoppie deur Smith gevolg.

Aaron Smith (middel) was Saterdag een van die All Blacks se grootste uitblinkers in die wegholsege van 57-0 oor Suid-Afrika.Foto: Getty Images

“Ek het gesien dat hul heelagter (Andries Coetzee) in die verdediginglyn was. Ek het ook vir Damian McKenzie gesien en geweet dit sal ’n goeie wedloop afgee as ek die bal deurskop.

“Rieko het van nêrens af opgeskiet. Ek wou die wedstryd in daardie stadium vir ons aan die gang kry. Ons het voor die drie min balbesit gekry en ek is baie bly dat die bal in spel gebly het vir Rieko se drie.”

Ná Milner-Skudder se drie – wat gevolg het nadat Barrett ’n aangee deur Jean-Luc du Preez met die Bokke op die aanval en in Nieu-Seeland se halfgebied onderskep het – was daar net een span op die veld.

Die All Blacks het daarna selfs die Bokke in die kontaksituasies begin oorheers.

’n Belangrike rede vir hul oorheersing was die slot Brodie Retallick en haker Dane Coles se spel. Retallick en sy mede-rankers het daarin geslaag om die Bokke se lynstane totaal te ontwrig.

Tot voor die toets was dit een van die Suid-Afrikaners se sterkpunte in 2017 gewees.

Coles het met tye soos ’n wafferse senter in die vastelos rondgehardloop. Hy het ’n aandeel in minstens twee van die All Blacks se drieë gehad.

Alles wat in die opbou van die toets kon verkeerd loop, het.

Die Bokke het hul twee voorste verdedigers en spelers met die hoogste werkverrigting, Jaco Kriel en Coenie Oosthuizen, weens beserings verloor. Ross Cronjé het boonop ’n dag voor die toets weens ’n maagvirus onttrek.

Die All Blacks moes ook sonder verskeie beseerdes klaarkom, maar die Suid-Afrikaners het nie dieselfde diepte as die Kiwi’s nie.

Verskeie van die spelers in die Bokke se Klas van 2017 het boonop die eerste keer teen die All Blacks gespeel. ’n Mens kon dit in hul spel sien.

Die Bokke het in die eerste 20 minute verskeie kanse gehad om punte te behaal, maar hul afronding was swak onder druk.

Die Bokke se vleuels, Raymond Rhule en Courtnall Skosan, kon nie oortuig nie en Malcolm Marx het ’n afdag met sy ingooiwerk beleef.

Die lostrio van Siya Kolisi, Du Preez en Uzair Cassiem lyk nie as ’n kombinasie vir die toekoms nie.

Dan kliek Francois Hougaard en Elton Jantjies ook nie soos van ’n skakelpaar op toetsvlak verwag word nie.

Puntemakers:

All Blacks 57 (31). Drieë: Rieko Ioane, Nehe Milner-Skudder (2), Scott Barrett, Brodie Retallick, Ofa Tu’ungafasi, Lima Sopoanga, Codie Taylor. Doelskoppe: Beauden Barrett (7). Strafdoel: Barrett.

Springbokke 0 (0).

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.