Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dít laat Bul-breier sleg slaap

Verlede seisoen het hy ’n Springbok geword en ’n plek in die Wêreldbeker-groep het gewink. Nou haal Ivan van Zyl nie eens die Blou Bulle se 23-tal in die Curriebeker-reeks nie.

Dít is hoegenaamd nie Van Zyl se lot omdat hy swak rugby speel nie, sê Pote Human, die Bulle se hoofafrigter.

Ivan van Zyl wag om die bal by ’n skrum in te gooi in verlede seisoen se toets teen Engeland op Twickenham. Foto: Getty Images

Embrose Papier, wat soos Van Zyl in 2018 ’n Bok geword het, en André Warner is die uitverkore skrumskakels wat Saterdag op Loftus Versfeld teen die Griekwas speel.

“Dit gee my slapelose nagte, want al drie is skitterende skrumskakels.

“Daar is voordat die Curriebeker-kompetisie begin het, besluit Embrose gaan meer speeltyd kry om sy selfvertroue te bou. Ivan was die eerste twee wedstryde op die bank en nou André (teen die Pumas en Griekwas). Ek sal dan moet besluit wat ons vorentoe gaan doen.

“Dit is goed om soveel diepte te hê, maar dit is ook nie maklik nie,” gee Human toe.

Die voormalige Leeu Marco Jansen van Vuren is ook nog vir die Bulle beskikbaar.

Van Zyl en Papier, wat albei verlede jaar op die Bokke se jaareindtoer die oond skoongemaak het, het hulle dié seisoen as’t ware uit die Bokspan gespeel in die Superreeks. Hulle was ten beste bestendig, terwyl die Stormers se Herschel Jantjies al meer indruk gemaak het.

Dit gee my slapelose nagte, want al drie is skitterende skrumskakels.

So ook was Cobus Reinach uitstekend op dreef vir die Northampton Saints in Engeland. Ditto Faf de Klerk vir die Sale Sharks in die Engelse Premierliga.

Dit het ook nie gehelp dat Warner hom, soos die seisoen gevorder het, as die Bulle se voorste skrumskakel in die Superreeks gevestig het nie.

Dit is egter nie Human se enigste wroeging nie.

Roelof Smit probeer Juarno Augustus van die doellyn af weghou in die Blou Bulle se Curriebeker-kragmeting met die WP op Nuweland. Dit was sover sy enigste speelkans in vanjaar se Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

Daar is sprake daarvan dat die flank Roelof Smit beplan om by die Leeus aan te sluit omdat hy nie by die Bulle speelkans kry nie.

Smit, wat die afgelope paar seisoene ’n magdom beserings gehad het, het sover nog net teen die Westelike Provinsie die 23-tal gehaal.

“Ek het met Roelof gesels en hy weet wat die situasie is. Hy is beslis nie ’n nr. 7-flank nie. Stoney (Ruan Steenkamp) speel op die oomblik goeie rugby en hy is die kaptein. Marco (van Staden) is ’n Springbok en Tim Agaba se werkverrigting op agtsteman is uitstekend,” sê hy.

“Ek weet dit kan nie lekker wees vir Roelof nie, maar ek kan ongelukkig net soveel spelers kies.”

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.