Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dit mag nie weer gebeur, sê Pote ná VS-slae
Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, in 'n meer gemoedeliker bui. Dit was egter nie die geval na Vrydag se loesing teen die Vrystaat-Cheetahs nie.

Maak seker dit was ’n eenmalige gebeurtenis.

Ná die Blou Bulle se droewige vertoning Vrydagaand teen die Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-reeks, het Pote Human, die Ligbloues se afrigter, kortom dié vereiste.

Die Bulle het op Loftus Versfeld teen die verwagtinge in 27-43 teen die Cheetahs verloor.

Human het dit agterna beskryf as verreweg die swakste vertoning sedert hy verlede seisoen as die Bulle se hoofafrigter oorgeneem het.

Hy was Maandag steeds nie dik van die lag toe hy oor die wedstryd uitgevra is nie.

“Ek gee nie om as jy alles gee en verloor nie, maar dit was hoegenaamd nie die geval nie. Toewyding is ononderhandelbaar.”

Ná twee opeenvolgende nederlae is die Ligbloues nou onder druk om in die wedloop van vanjaar se verkorte reeks te bly.

Die Bulle kom Vrydagaand in Mbombela (Nelspruit) teen die Pumas te staan.

Tim Agaba, agtsteman van die Bulle, sê dit is elke speler se verantwoordelikheid om met groter passie te speel.

“Dit was asof ons gerat was nie. Ek het gevoel ons is speler-vir-speler beter as die Cheetahs, maar hul uitvoering was baie beter.

“Ek kan nie namens my spanmaats praat nie, maar as jy opdaag vir ’n wedstryd en jou ingestelheid is nie daar nie, moet jy selfondersoek doen.”

Ek kan nie namens my spanmaats praat nie, maar as jy opdaag vir ’n wedstryd en jou ingestelheid is nie daar nie, moet jy selfondersoek doen.
Tim Agaba

Agaba meen daar is nog nie sprake van desperate tye by Loftus nie.

“Ek dink nie so nie, wel nog nie in die stadium nie.

“Ons is op die agtervoet en om by die huis te verloor in die verkorte kompetisie is natuurlik nie ideaal nie.

“Almal in die span weet ons kan die situasie omdraai en is van plan om dit te doen.”

Dié voormalige Blitsbok sê die Bulle gaan veral op die verdediging hulle sokkies moet optrek.

“Die onus is nogmaals op die individu. Elke speler moet sy een-op-een duikslae maak en jy kan die plan of die verdedigingsafrigter verkwalik as dit nie gebeur nie.

“Ons was onder druk op die verdediging en die Cheetahs se uitvoering was goed.”

Agaba sê ’n ontmoeting in die Laeveld met die Pumas is nooit pret nie.

“Ek het al ’n paar keer in Nelspruit gespeel en dit is nooit maklik nie. Ons weet Vrydagaand sal nie ’n uitsondering wees nie.”

Die Bulle-kaptein, Burger Odendaal, gaan tussen vier tot ses weke ’n toeskouer wees weens ’n bobeenbesering. Foto: Gallo Images

* Asof die Maandag by Loftus nie blou genoeg was nie, moes Human boonop verneem sy kaptein, Burger Odendaal, sal waarskynlik nie weer in die reeks kan speel nie.

Dié ervare binnesenter het hom verlede week voor die kragmeting met die Cheetahs weens ’n bobeenbesering aan die span onttrek.

Dr. Herman Rossouw, die Bulle se spandokter, sê ’n skandering het gewys dat Odendaal “massiewe bloeding” in die bobeenspier het.

Hy sal mistens vier tot ses weke nie kan speel nie.

Human het Vrydagaand toegegee die Bulle het Odendaal se leierskap gemis.

Die flank Ruan Steenkamp behoort weer die span aan te voer in Odendaal se afwesigheid.

Meer oor:  Pote Human  |  Tim Agaba  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Pumas  |  Blou Bulle  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.