Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dit was nie ’n mooi prentjie, sê Div

’n Bevestiging van die groot talent wat by Loftus Versfeld rondloop.

So het Jake White, afrigter van die Bulle, sy span se groot sege van 87-10 Sondagmiddag oor die Oostelike Provinsie in die voorbereidingsreeks opgesom.

Die Bulle se Uzile Tele kyk omtrent ’n gat deur die OP-flank Anele Lungisa in Sondag se wedstryd tussen dié twee spanne. Tele is een van ’n rits jongelinge wat ’n kans gekry het om hul staal in dié wedstryd te wys. Foto: Gallo Images

Jy hoor sommer hoe die siniese rusbankkenners mor dat dit hoegenaamd nie ’n prestasie is om die span van die Baai so slae te gee nie.

White wys daarop dat dit ’n span vol groentjies was wat nog nie saam gespeel het nie.

“Daar is sekere goed wat ons beter kon gedoen het, maar ek is steeds baie beïndruk met dit wat ek gesien het vandag.

“Ek het hier in die laaste 25 minute getel 13 uit die 15 spelers op die veld kom van die o.21’s af en daar was ’n paar wat steeds in daardie ouderdomsgroep is.”

Die haker Joe van Zyl was een van die jongelinge in die agttal wat sy aanspraak ’n goeie hupstoot gegee het.

Ek is bly ons het soveel diepte, want jy kan verskillende kombinasies oorweeg.
Jake White

“Joe het goed gespeel. Ons het in Joe, Grobbies (Johan Grobbelaar), Schalk Erasmus en Janco Uys, wat vandag van die bank af opgekom het, vier goeie hakers.

“En hulle is almal jonk. Ek is bly ons het soveel diepte, want jy kan verskillende kombinasies oorweeg.”

Die Bulle-kaptein, Nizaam Carr, was ’n ander speler wat ’n regmerkie agter sy naam gekry het.

Die Bok Marco van Staden groet die Bulle teen Junie en White is juis op soek na ’n geskikte plaasvervanger.

“Ek is baie tevrede met sy (Carr se) vertoning. Hy is ’n goeie rugbyspeler.

“Dit is fantasties om iemand soos hy te hê wat 6, 7 en 8 kan speel en hy het die span ook baie goed gelei. Ek glo Nizaam kan ons nog baie bied die volgende paar seisoene.”

Peter de Villiers en Jake White, twee voormalige Springbok-afrigters, gistermiddag op Loftus Versfeld in gesprek voor die Bulle die Oostelike Provinsie in die voorbereidingsreeks die stryd aangesê het. Foto: Gallo Images

Peter de Villiers, afrigter van die Oostelike Provinsie, het toegegee die 87 punte wat sy span afgestaan het, “is nie ’n mooi prentjie nie”.

“Ons het heeltemal te veel foute gemaak. Die intensiteit waarmee die Bulle gespeel het, is iets waaraan ons nie gewoond is nie.

“Dit is ’n harde leerkurwe. Jy kon vandag sien hoe die spelers se skouers gesak het en die hoogte bo seevlak het ook ’n rol gespeel. Dit is goed, ons weet nou wat van ons vereis word.”

Daar is baie werk voor ons, maar ons het dit nog altyd geweet.
Peter de Villiers

Die besoekers het boonop teëspoed gehad met die losskakel en hul kaptein, Inny Radebe, wat vroeg in die wedstryd sy hand gebreek het.

“Dit was baie dapper van hom om aan te hou speel.

“Hy sal nie weer in die reeks speel nie en ons moet dit net maak werk (in Radebe se afwesigheid).”

De Villiers sê daar was ’n paar goeie individuele vertonings wat bemoedigend was en die OP se skrumwerk het hom ook beïndruk.

“Nou moet ons daardie vertonings in ’n eenheid saam kry.

“Daar is baie werk voor ons, maar ons het dit nog altyd geweet.”

Meer oor:  Jake White  |  Peter De Villiers  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby  |  Op  |  Bulle  |  Oostelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.