Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Sonde dat Inny nie vir groot unie speel’

Die talentvolle losskakel Inny Radebe kan sy rugbyloopbaan dalk ná drie moeilike jare waarin beserings en spankeuses hom byna moedeloos gehad het, weer op dreef kry.

Peter de Villiers en Inny Radebe in vriendelike luim in die OP se kantoor in Port Elizabeth. Foto: Michael Green

Radebe (26) het by die Oostelike Provinsie begin oefen en oorweeg dit glo sterk om ’n kontrak met die unie te sluit.

“Dis nog nie seker dat ek vir die OP gaan speel nie, maar ek oefen saam met die span en ek oorweeg dit sterk om hier (Port Elizabeth) te bly,” sê Radebe.

Peter de Villiers, die OP-afrigter, is kwaai opgewonde om Radebe in sy oefengroep te hê.

“Dit is ’n sonde in Suid-Afrikaanse rugby as ’n ou soos Inny nie vir ’n groot unie speel nie,” sê De Villiers.

“Hy is een van daardie begaafde spelers vir wie ons eenvoudig plek moet maak, so dis vir my ’n voorreg om hom te laat rigting aan my agterlyn gee.

“Hy verstaan presies waar die gapings is en ek dink ons moet vir hom ’n geleentheid skep.”

’n Terugflits na 2017 toe Inny Radebe die land se spanne deurmekaar gehardloop het. Foto: Gallo Images

In hierdie stadium lol die kniebesering waarmee Radebe die afgelope paar jaar sukkel darem nie.

Ná die klein geboude losskakel mense vir twee seisoene gaande gehad het met sy aanvallende spel vir die Haaie, het dinge in 2018 begin skeefloop.

Radebe het ’n kniebesering opgedoen en toe Robert du Preez die Haaie afgerig het, het hy ook nie veel kans gekry om te wys wat in hom steek nie.

Met Curwin Bosch en Manie Libbok tans in die Haaie se groep, is daar ook nie juis ’n plek vir Radebe by die Haaie nie.

Hy het teen die einde van verlede jaar ’n tyd lank saam met die Blitsbokke geoefen, maar omdat sy knie weer probleme begin gee het, is hy laat gaan.

Die OP sal dus in die komende dae Radebe se knie fyn dophou en duimvashou dat hy inderdaad die antwoord op hul losskakel-probleem sal wees.

Losskakel is een van die posisies waarin die OP min diepte het.

Luvo Claasen, wat verlede jaar vir die Madibaz gespeel het, is een van die gunstelinge om in die posisie deur die unie gekontrakteer te word.

Meer oor:  Op  |  Kings  |  Peter De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.