Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Div: Ek gaan nie vir my spelers jok

Peter de Villiers oorweeg vir eers nie om afrigterskonsultante se hulp in te roep om sy Oostelike Provinsie-rugbyspan skerper te kry nie.

Dit het in Sondag se wedstryd teen die Bulle in Pretoria veral in sekere afdelings, soos die lynstane, maar sukkel-sukkel gegaan vir die Baaise span.

Die OP-afrigter, Peter de Villiers, sê hy weet darem nou waar om te skaaf aan sy span nadat die Olifante ’n liederlike drag slae op Loftus gekry het. Foto: Gallo Images

De Villiers voel egter dat hy en sy hulpafrigters eers self dinge sal probeer regkry voordat hy elders hulp vra.

Hulpafrigters? Ja, De Villiers het glo nou amptelik twee hulpafrigters.

Aslam Abrahams is verlede week as voorspeler- en Ike Tuko as agterlynafrigter aangestel.

Dié aanstellings is nie aan die media bekendgemaak nie, wat die indruk geskep het dat De Villiers steeds net van plaaslike klubafrigters as helpers gebruik maak.

Abrahams, ’n voormalige afrigter van die Springbok-vrouespan, se mees onlangs werk as breier was by die Vineyards-klub in die Paarl.

Tuko is ’n bekende in Oos-Kaapse klubrugbykringe, wat onder meer voorheen by Park afgerig het.

Volgens De Villiers weet hy en sy hulpafrigters ná die groot nederlaag (10-87) teen die Bulle nou beter waar hulle moet skaaf.

“Dit was die eerste keer dat ek die meeste van die spelers in ’n wedstryd in aksie gesien het. Hoewel dit ons eerste wedstryd in ’n lang tyd was, was dit ongelukkig ook duidelik dat party van die spelers nie die karakter het om op so ’n vlak te speel nie,” sê De Villiers.

“Rugby is oorlog. As jy nie mense doodmaak nie, gaan hulle jou doodmaak.”

De Villiers sê hy bedoel nie die spelers moet mekaar regtig doodmaak nie, hy gebruik net beeldspraak om te verduidelik dat dinge ernstig kan raak op ’n rugbyveld.

Volgens hom het ’n paar spelers “eerder lyf weggesteek” as om hul kans aan te gryp om vir hulself naam te maak.

Karlo Aspeling, hier ’n paar jaar gelede vir die OP-Kings in aksie, sal dalk volgende week die OP-Olifante se losskakel teen die Leeus wees. Foto: Gallo Images

“Ek gaan nie met die spelers doekies omdraai nie. Ek gaan nie vir hulle jok nie. Ek sal dalk vir party van hulle moet vertel dat hulle dalk liewer moet werk kry en rugby deeltyds moet beoefen,” sê De Villiers.

• Karlo Aspeling kan intussen dalk die Olifante se losskakel in hul volgende wedstryd volgende Woensdag teen die Leeus in Gqeberha (Port Elizabeth) wees.

Met Inny Radebe wat sy hand teen die Bulle gebreek het, soek die Olifante ’n nuwe losskakel.

Aspeling is deesdae ’n laerskoolonderwyser wat net in die middae saam met die span kan oefen.

Hy is egter uiters ervare en in hierdie stadium dalk die beste keuse.

Die 33-jarige Aspeling het in sy lang rugbyloopbaan al vir die Valke, Grens-Bulldogs, OP-Kings, SWD-Arende, Torino (Italië) en CSM Bucuresti (Roemenië) uitgedraf.

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Op  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.