Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Div gaan nie Bokke ondersteun

Die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers sê dit is uit beginsel, en nie bitterheid nie, dat hy weens die hantering van die Eben Etzebeth-sage nie die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi sal ondersteun nie.

“Dit verstom my dat iemand (Etzebeth) wat nie die vaagste benul het van die pyn wat apartheid veroorsaak het, sulke goed kan kwytraak nie.

“Vir my is dit ’n beginselsaak, ek kan nie die span onder sulke omstandighede ondersteun nie,” sê De Villiers.

Peter de Villiers toe hy Zimbabwe verlede jaar nog afgerig het. Foto: Getty Images

Dié breier, wat die Springbokke van 2008 tot 2011 afgerig het, meen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moes Etzebeth geskors het hangende die ondersoek van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Menseregtekommissie (MRK).

Dit kom ná ’n voorval in die vroeë oggendure op 25 Augustus buite ’n kroeg in Langebaan.

Etzebeth en ’n groep vriende word daarvan beskuldig dat hulle twee mans, Enver Wilsnacht en Shiyaad Smith, aangerand het en rassistiese aanmerkings gemaak het.

Dié ervare Bok-slot ontken die bewerings ten sterkste.

Saru het daarna in ’n verklaring gesê hy ondersteun Etzebeth totdat daar bewys kan word dat die aantygings waar is.

Daar is in die nadraai ’n klag by die MRK ingedien en adv. André Gaum, die MRK se kommissaris, het met Etzebeth vergader kort voordat hy saam met die span na Japan vertrek het vir die WB-toernooi.

De Villiers sê daar is “verdoemende bewyse” teen Etzebeth.

Hy het vroeër in ’n onderhoud met Planet Rugby gesê hy was verras dat Saru besluit het om Etzebeth saam met die span na Japan te laat vertrek.

“Dit is teleurstellend dat swart administrateurs soos Mark Alexander (Saru se president) en Francois Davids (adjunk-president) nie die regte ding gedoen het en die speler geskors het totdat hy sy onskuld kan bewys nie.”

De Villiers het verwys na Ben Stokes, die veelsydige krieketspeler van Engeland, wat twee jaar gelede geskors is nadat hy buite ’n nagklub in Bristol by ’n bakleiery betrokke was.

“Daar was aantygings teen Stokes en hy is summier geskors. Hoekom het Saru nie dieselfde gedoen nie?”

Peter de Villiers (links) in 2015 saam met Tony Ehrenreich van Cosatu. De Villiers het hom toe sterk uitgespreek teen die gebrek aan transformasie in Springbok-rugby. Foto: Lerato Meduna

Hy het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy sou so graag die Bokke wou ondersteun in die WB-toernooi.

“Natuurlik sal ek agter die manne wou staan. Dit is nie asof ek nou vir ’n ander land gaan skree nie, maar my gewete sal my ry as ek die Bokke steun.

“Die hele storie maak my hartseer en ek wonder wat die spelers destyds van my gedink het toe ek die span afgerig het.

“Was daar ook sulke rassistiese neigings in die span?”

De Villiers is vroeër vanjaar deur die Zimbabwiese Rugbyunie (ZRU) as hoofafrigter die trekpas gegee nadat hy sonder goedkeuring van die werk af weggebly het.

Dit is nie die eerste keer wat hy besluit om nie die Springbokke te ondersteun nie.

De Villiers was in 2015 die gasspreker by ’n vergadering in Mosselbaai waar ’n Springbok-trui verbrand is uit protes oor sy opvolger, Heyneke Meyer, se gebrek aan transformasie voor daardie jaar se WB-toernooi.

Andy Colquhoun, Saru se kommunikasiehoof, het gesê hulle “lewer nie kommentaar oor menings nie, net soos wat ons nie kommentaar gelewer het toe Peter die afrigter was nie”.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Peter De Villiers  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.