Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Div goeie keuse vir OP, sê kenners
Peter de Villiers het maar min tyd om die OP reg te ruk voordat die SA Beker-reeks volgende jaar begin. Foto: Gallo Images

Met Peter de Villiers as hoofafrigter het die Oostelike Provinsie dalk ’n meesterlike aanstelling gemaak, meen ’n paar Oos-Kaapse rugbykenners.

“As ’n mens kyk na die posisie waarin die OP nou is, was dit dalk ’n baie goeie aanstelling, want Peter het die vermoë om ’n span vinnig in een rigting te laat trek,” sê Johann Lerm.

Lerm was in 2005 en 2006 een van De Villiers se hulpafrigters by die Southern Spears.

Johann Lerm het dit geniet om saam met Peter de Villiers af te rig. Foto: Gallo Images

“Hy het dit by die Spears reggekry om ’n klomp spelers uit verskillende unies gou soos een span te laat voel. By die OP gaan hy ook nie baie tyd hê om ’n nuwe span te bou voor die wedstryde begin nie,” sê Lerm.

“Ek het hom taamlik goed leer ken en het dit geniet om saam met hom te werk. Hy ken rugby en hy beskik oor die vermoë om spelers goed te lei.”

Volgens Lerm was De Villiers geen diktator nie en beplan hy ook sy oefensessies baie goed.

“Daar is nie tyd vir fieterjasies nie. Sy sessies duur ook nie ure nie, maar is kort en effektief,” sê Lerm.

Een van die spelers wat vir De Villiers by die Spears gespeel het, Reinhardt Gerber, sê dit was die “lekkerste” tyd in sy rugbyloopbaan.

“Vergeet nou maar van die paar snaakse goedjies wat hy partykeer sê, Peter is ’n afrigter met ’n hart van goud,” sê Gerber.

“Hy laat spelers toe om hulle op die veld uit te leef. Hy glo nie in robot-rugby nie.”

Reinhardt Gerber, hier toe hy nog vir die Grens-Bulldogs gespeel het, sê Peter de Villiers bestuur sy spelers baie goed. Foto: Gallo Images

Gerber meen ook De Villiers het ’n goeie oog vir talent.

“Kyk maar hoe hy daardie tyd vir Ashley Johnson as 19-jarige sommer sy kaptein gemaak het en ons weet Ashley het later ’n Springbok geword,” sê hy.

Gerber waarsku egter dat “almal weet dis nie ’n maklike werk wat op Peter wag nie”.

Ook Sydney Goba, wat baie jare die OP en die Southern Kings se spanbestuurder was, sê De Villiers sal sy storie in die OP moet ken.

Sydney Goba dink nie Peter de Villiers sal daarvan hou as die OP-bestuur hom by sy afrigting inmeng nie. Foto: Gallo Images

“Dit help darem dat hy al voorheen in die Oos-Kaap afgerig het, so hy ken die kultuur hier,” sê Goba.

“Ek glo dat hy ’n goeie keuse as afrigter is. Hy is reguit en hy sal sy voet neersit, hy is niemand se marionet nie.”

Goba dink ook dat De Villiers “iets sal wil bewys”, omdat hy die afgelope paar jaar nie by een van die groter unies werk kon kry nie.

“Ek hoop net hy kry ’n klompie goeie spelers om mee te werk. Hy gaan nie net met klubspelers regkom nie,” meen Goba.

Daarmee stem Wayne van Heerden, ’n voormalige Blitsbok en OP-speler, saam.

“Het die OP die geld om ’n klompie groot name te lok? In hierdie stadium wil dit eerder lyk of Peter sy span geduldig oor ’n paar seisoene moet opbou en ’n mens moet dus nie oornag-sukses verwag nie,” sê Van Heerden.

“Maar hy is ’n ervare afrigter wat al baie sukses op die hoogste vlak behaal het, so hy kan beslis welslae as OP-breier behaal.”

Wayne van Heerden, ’n voormalige Blitsbok en OP-ster, glo dat Peter de Villiers se ervaring van afrigting op die hoogste vlak baie vir die OP kan beteken. Foto: Gallo Images

Meer oor:  Kings  |  Peter De Villiers  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.