“Moet asseblief nie die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika afstel of na ’n ander land skuif nie!”

Peter de Villiers is tans die afrigter van die Oostelike Provinsie. Foto: Michael Green
Dít is die pleidooi van Peter de Villiers, wat in 2009 die Springbokke se afrigter was toe die Bokke laas teen die Leeus gespeel het.
De Villiers, deesdae die afrigter van die Oostelike Provinsie, skryf in ’n hartroerende stuk op sy Facebook-blad dat hy dit “ten volle verstaan” as die Leeus-toer weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar kan voortgaan nie.
“Maar as daar enige manier is om die toer te red, selfs om dit na volgende jaar te skuif, hoop ek dit sal gedoen word,” skryf De Villiers.
“Ek sal die Leeus-toer (van 2009) altyd onthou as een van my beste rugby-ervarings en dit was nie net as gevolg van die uitslae nie.”
Suid-Afrika het die reeks met 2-1 gewen en De Villiers skryf hy onthou hoe “groot mans” ná die tweede toets in Pretoria – waar die Bokke die reeks op dramatiese wyse beklink met ’n lang Morné Steyn-strafdoel beklink het – van vreugde gehuil het.
Hy skryf ook dat al die duisende Britse ondersteuners wat gewoonlik ook na die land reis ’n Leeus-toer so spesiaal maak.

Peter de Villiers en die Britse en Ierse Leeus se afrigter in 2009, Ian McGeechan, skud blad. Foto: Gallo Images
“Ons kan nie dié ekonomiese inspuiting in ons sukkelende ekonomie verloor nie,” skryf De Villiers.
Volgens hom ondersteun toergroepe ook gewoonlik plaaslike welsynsorganisasies, wat natuurlik baie welkom is.
Die afrigtingsklinieke wat die Leeus op toer hou, beteken ook geweldig baie vir baie kinders, reken De Villiers.
Hy onthou hoe hy self in 1974 met “’n oop mond” na Mike Burton, een van die Leeus se voorrymanne daardie jaar, by so ’n kliniek in die Paarl gesit en luister het.
Daardie kliniek het hom van ’n toekoms in rugby laat droom, skryf De Villiers.
“My grootste vrees is dat hulle die toer na die Verenigde Koninkryk sal skuif. Hulle sal dit wil doen om die borge gelukkig te hou en om kommersiële verpligtinge na te kom, eerder as om rugbyredes,” skryf De Villiers.
Hy verstaan daar is reeds ander rugbyplanne vir volgende jaar gemaak, maar hy hou tog duimvas dat dit uitgestel kan word sodat die Leeus steeds na Suid-Afrika sal kan toer.