Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Div terug in OP om ‘iets klaar te maak’

Hy is terug in die Oos-Kaap om “iets klaar te maak wat hy lank gelede begin het”, sê Peter de Villiers.

De Villiers (63) is as die nuwe afrigter van die Oostelike Provinsie se rugbyspan aangekondig.

Peter de Villiers, nuwe afrigter van die OP, saam met die OP Rugbyunie se president, André Rademan. Foto: Michael Green

Die uitgesproke De Villiers was in 2005 ook die Oos-Kaapse streekspan, die Southern Spears, se breier.

Dié span het egter taamlik gou weens geldelike probleme en die onttrekking van SA Rugby se ondersteuning in die niet verdwyn.

De Villiers het voortgegaan om in 2008 die Springbok-afrigter te word en hy was ook die man in die nasionale saal toe die Bokke in 2009 die Britse en Ierse Leeus in ’n reeks verslaan het.

“Dis nou ’n volle kringloop. Ek het iets begin, miskien was die tyd nie reg nie, nou is ek terug en ek verstaan wat in hierdie plek aangaan en ek verstaan hoe ek met mense kan werk om die beste uit hulle te haal. Ek kan nie wag om weer aan die werk te spring nie,” sê De Villiers.

Hy beplan om sommer al volgende week met die groep spelers, wat die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) solank vir hom bymekaar gekry het, te gesels en aan die gang te kom.

Hoewel hy in hierdie stadium meestal klubspelers gaan hê om mee te werk, skrik dit die breier nie af nie.

“Hulle sal aan internasionale standaarde moet voldoen as hulle vir my wil speel,” waarsku hy egter.

André Rademan, die OPRU se voorsitter, wou nie sê vir hoe lank De Villiers as afrigter aangestel is nie.

“Dis vertroulik, dis tussen ons en die afrigter,” sê Rademan.

Hy sê wel dat De Villiers vir “ ’n realistiese tydperk” aangestel is.

Volgens Rademan en De Villiers is die eerste mikpunt van die OP om in volgende jaar se SA Beker-reeks goed te vaar en vir die Premier-afdeling van die Curriebeker-reeks te probeer kwalifiseer.

De Villiers kon nog nie sê wie hy as hulpafrigters gaan aanstel nie.

“Laat my nou eers hierdie oomblik geniet. Ek voel soos ’n speler wat pas die Curriebeker gewen het. Ek sal later met die unie oor hulpafrigters gesels,” sê De Villiers.

Hy voeg wel by dat sy hulpafrigters dalk plaaslike manne kan wees.

• Thando Manana, die OPRU se hoofbestuurder, het ook aangekondig dat Ryan Felix as die OP se o.20-span se afrigter aangestel is.

Felix is tans in Kenia, waar hy die nasionale span se agterlyn-afrigter is.

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Op  |  Peter De Villiers  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.