Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Div: Vergeet van my, die spelers kom eerste

Die Bulle is ’n R50 miljoen-span en die Oostelike Provinsie dalk R2 miljoen werd.

Die OP-afrigter Peter de Villiers wys op die oefenveld dat hy nog al sy skrumskakelvaardighede het. Foto: Gallo

Hy is nie in ontkenning daaroor nie, sê die OP-afrigter, Peter de Villiers. Maar hy weier ook om daarteen vas te kyk.

De Villiers het gister in ’n gesprek met Rapport te kenne gegee dat ’n hoë berg in die voorbereidingsreeks voor sy span lê. Maar met die talent waaroor die spelers beskik wat hy gekies het, is hy vol vertroue dat hulle die berg sal kan uitklim.

“Ja, dit is so dat die Bulle ’n R50 miljoen-span is en ons maar ’n R2 miljoen. En as jy die sommetjies gaan maak, sal jy die verskil in balans duidelik kan sien,” het De Villiers gesê.

“Dis nie ’n moeilike som om te maak nie. Jy kan sien waar die wanbalans op die veld gaan wees. Maar ons sal maar sien hoe dinge gaan uitspeel.”

Vandag se wedstryd is die begin van ’n nuwe pad in De Villiers se afrigtersloopbaan, maar hy wil glad nie die aandag op hom gefokus hê nie. Vir hom is die spelers en wat hulle op die veld doen die belangrikste.

Die OP sal vanjaar grootliks met klubspelers boer, met slegs ’n paar spelers wat al ’n proesel rugby op ’n hoër vlak gehad het.

“Vir my gaan dit nie oor my nie,” het De Villiers gesê. “Ek het my kanse in die lewe gehad.

Ek het niks meer om te bereik in die lewe nie, maar die spelers het beslis baie om te bereik.

“Vir my gaan dit oor wat ek geleer het en wat God my gegee het as een van sy kinders. Wat hy in my gesit het en hoe hy my deur die wildernis gedra het. Wat ek nou terug kan gee aan ander mense.

“Ek het niks meer om te bereik in die lewe nie, maar die spelers het beslis baie om te bereik. Vir hulle is dit ’n groot geleentheid en daar is groot opgewondenheid.”

Die afrigter is ook gretig om vir Inny Radebe, sy kaptein en losskakel, ’n platform te gee om sy rugbytalent uit te lewe.

De Villiers glo die talentvolle Radebe het nie by ander afrigters ’n kans gekry om werklik te wys wat in hom steek nie.

“Hy is een van die statistieke van SA rugbyspelers by wie afrigters geleenthede gesteel het en hulle nie die kans gegun het om hul Godgegewe talent ten toon te stel nie. Hulle het dit verwoes.

“Kom ons hoop hy en die ander spelers kan bou op die geleentheid wat hulle nou kry, en hul talent uitleef tot eer van die Vader se naam.”

Jake White, hoofafrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

Jake White, die Bulle-afrigter, het gesê hy is opgewonde oor vandag se stryd.

“Dis ’n opwindende stryd vir ons, want ons weet nie regtig wat om te verwag nie,” het White die afgelope week gesê.

“Almal sê (die OP-spelers) is klubspelers en het nog nie baie gespeel nie. Maar ek is seker ’n paar ouens sal die stryd sien as ’n groot kans om hulself op die verhoog te sit waar groot unies na hulle kan kyk.”

Toe White daarop gewys is dat vandag se stryd die eerste in jare sal wees waarin twee voormalige Bok-afrigters swaarde kruis, het hy gesê enige sprake van ’n tweestryd tussen hom en De Villiers word deur die media geskep.

“Ek is net gretig om die wedstryd te speel,” het hy gesê.

In vandag se ander stryd sal ’n uitgehongerde Griekwas-span ’n Haaie-groep sonder etlike staatmakers die stryd aansê.

Hoewel Sean Everitt se Haaie-span sonder die gereelde kaptein Lukhanyo Am en hul nuwe aanwins, Siya Kolisi, is, sal hulle steeds gedugte teenstand vir die Kimberliete wees.

Die Griekwas het gister die voormalige Blou Bul-senter Brendell Brandt as hulpafrigter aangestel, berig Brenden Nel.

Brandt, wat ook vir die Pumas en Poubloues uitgedraf het, word hoog aangeskryf en het al afgerig by Tygerberg Rugbyklub, Milnerton Hoërskool en die WP-akademie. Hy sal die hoofafrigter van die Griekwas-akademie wees en die senior span se agterlyn brei.

Vandag se spanne en TV-tye

Bulle: David Kriel, Madosh Tambwe, Marnus Potgieter, Marco Jansen van Vuren, Stravino Jacobs, Chris Smith, Embrose Papier, WJ Steenkamp, Tim Agaba, Nizaam Carr (k), Janko Swanepoel, Jan Uys, Mornay Smith, Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Janco Uys, Jan-Hendrik Wessels, Gerhard van der Merwe, Raynard Roets, Uzile Tele, Keagan Johannes, Jandré Burger, Diego Appollis, Reinhardt Ludwig, Werner Gouws en Dawid Kellerman.
OP: Riaan Arendse, Josiah Twum-Boafo, Christopher Hollis, Sherwin Slater, Qeutyne Oerson, Inny Radebe (k), Luvo Claassen, Luigi van Jaarsveld, Anele Lungisa, CJ Velleman, Mncedisi Dlwengu, Athenkosi Khetani, Lupumlo Mguca, Robin Stevens, Lyle Lombard. PLAASVERVANGERS: Sithembiso Befile, Siya­kubonga Nzuzo, Emile Klaasen, Ronald Scheckle, Arnold Kleyn, Diego Williams, Josh Alderman, Keanu Vers.
Afskop: 15:00 (SS Rugby 211). 

Haaie: Aphelele Fassi, Werner Kok, Jeremy Ward (k), Murray Koster, Manie Libbok, Grant Williams, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, James Venter, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, Michael Kumbirai, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Fezokuhle Mbatha, Ntuthuka Mchunu, John-Hubert Meyer, Reniel Hugo, Mpilo Gumede, Jaden Hendrikse, Jordan Chait, Thaakir Abrahams. 

Griekwas: James Verity-Amm, Daniel Kasende, Harlon Klaasen, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Stefan Ungerer, Sibabalo Qoma, Stefan Willemse, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Mzwanele Zito, John-Roy Jenkinson, Alandré van Rooyen, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: HJ Luus, Andrew Beerwinkel, Tijde Visser, Ewan Coetzee, Jo-Hanko de Villiers, Ashlon Davids, Tinus de Beer, Ederies Arendse, Bandisa Ndlovu, Carl Els, Berton Klaasen. 
Afskop: 17:15 (SS Rugby 211)

Meer oor:  Jake White  |  Op  |  Bulle  |  Peter De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.