Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dobson baie trots ná sege oor Pumas

Gegewe dat dit die Westelike Provinsie se derde wedstryd binne die bestek van nege dae was, was John Dobson, die Streeptruie se afrigter, Sondag verstaanbaar trots op sy span se Curriebeker-sege oor die Pumas in Mbombela.

Die WP het eers as die Stormers op 17 Julie teen die Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion gespeel, op die 21ste teen die Cheetahs in Bloemfontein, en toe die naweek teen die Pumas.

Die skrumskakel Paul de Wet was ’n uitblinker vir die Westelike Provinsie in Sondag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Pumas in Mbombela. Foto: Gallo Images

Boonop was die Streeptruie voor die wedstryd teen die Leeus in ’n bio-borrel waar hulle ’n interne krisis met Covid-19-gevalle moes deurmaak.

“Ek is baie trots op die manne. As jy in ag neem wat hulle die afgelope 15 dae liggaamlik en geestelik ervaar het, was dit ’n baie goeie vertoning,” het Dobson ná die sege van 37-25 gesê.

“Ons het vyf uit ’n moontlike tien ligapunte op ons reistog verower. Teen die Cheetahs het ons onsself waarskynlik ’n bietjie in die steek gelaat, maar ek het tog gevoel dat ons prosesse en vertoning daar nie sleg was nie. Ons het veldgebied en besit oorheers.”

Die WP was voor die wedstryd teen die Pumas onder groot druk weens die twee nederlae in die CB-reeks wat dit voorafgegaan het – 21-38 teen die Cheetahs en 28-30 teen Griekwas in die Kaapstad-stadion.

Dobson het boonop die berekende risiko geneem om die onervare stut Sazi Sandi ten gunste van Neethling Fouché te kies. Daardie soort spankeuses kan die norm raak om die eenvoudige rede dat die CB-reeks vir Dobson daaroor gaan om die span op die Verenigde Rugbykampioenskap voor te berei.

Gegewe dat die voorry van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe by die Springbokke sal bly, is dit belangrik dat Dobson ook derde en vierde linies voorrye vestig.

Ali Vermaak het ’n langtermynbesering, wat Dobson noop om met Leon Lyons as sy loskopstut te begin en vir Dian Bleuler op die plaasvervangersbank te kies.

Lee-Marvin Mazibuko, die vierde vaskop, het ook al in vanjaar se CB-reeks blootstelling gekry.

“Daar’s ’n handvol ouens wat hul buigings die afgelope paar wedstryde gemaak het. Ons slaag daarin om ons diepte uit te bou,” sê Dobson.

“Ons keer nou terug Kaap toe en weer is daar min tyd voor ons wedstryd teen die Bulle, maar hierdie wen het vir ons baie beteken en selfvertroue gegee vir wat ’n puik wedstryd op Nuweland behoort te wees.”

Paul de Wet se vertoning op skrumskakel het veral op die aanval ’n groot verskil gemaak en die verwagting is dat hy nou die nr. 9-trui sy eie sal maak.

Dobson kan straks ook vir Thomas Bursey meer speelkans as die skrumskakel op die plaasvervangersbank skep.

• Chris Schreuder, wat as losskakel teen die Pumas sou begin het, was siek en Tim Swiel het daarom die nr. 10-trui gedra.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  John Dobson  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.