Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kontrakstres lei tot angs by spelers

Dis onder gewone omstandighede vir ’n afrigter moeilik om ’n speler in die oë te kyk en te sê dat hy nie deel van sy planne is vir die pad vorentoe nie, maar die Covid-19-pandemie maak dit ’n nagmerrie.

“Hoe vinniger jy spelers in kennis stel, sodat hulle hul lewens vorentoe kan beplan, hoe beter. Die slegste deel van afrigting is om spelers weg te laat en vir hulle te sê dat daar nie aanstaande jaar ’n kontrak vir hulle is nie,” sê John Dobson, die Stormers se afrigter.

Daardie soort gesprekke sal volgende week in die Westelike Provinsie se sentrum vir uitnemendheid in Bellville plaasvind.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers en Westelike Provinsie, sê ’n moeilike week lê vir hom en van sy spelers voor. Foto: Gallo Images

“Dit kan nie op Zoom gedoen word nie. Op Zoom kan jy die video afskakel en wegkruip. Jy móét dit van aangesig tot aangesig doen,” sê Dobson.

Voordat die Covid-19-pandemie die wêreld getref het, was Suid-Afrika se spelerskorps reeds onder druk weens die bepaling dat provinsies nie meer as 45 senior spelers mag kontrakteer nie.

Daarna moes hulle salarisverminderings aanvaar, omdat die virussiekte beroepsrugby tot ’n stilstand gedwing het. Die aanbod van spelers in die mark oorskry ook nou die vraag.

Dobson meen die effek van Covid-19 op spelers se lot onderstreep weer hoe belangrik dit vir rugbyspelers is om hulle ook vir iets anders buiten rugby te bekwaam. Die Varsitybeker-reeks dien tot ’n mate daardie doel, maar toegang tot ’n universiteit is nie almal beskore nie.

“Met die rugbybedryf in die toestand wat dit tans is, is dit ’n baie swak posisie om in te wees wanneer ’n speler nie iets het om op terug te val nie,” sê hy.

“Van die positiewe dinge is dalk dat daar meer gestudeer gaan word en ons nouer met universiteite sal saamwerk om seker te maak dat jong spelers studeer.

“Dit kan dalk ook goed vir klubrugby wees. Ons klubs ly baie, want hulle speel nie tans wedstryde nie en kan byvoorbeeld nie met hul kroeë ’n inkomste verdien nie. Klubrugby kan dalk belangriker raak met spelers wat sal werk, maar steeds gaan speel.”

Dobson sê daar is “onsekerheid en stres” onder spelers omdat hulle nie seker is watter ander opsies daar sal wees nie.

Ons is nou in die tydperk van 180 dae (voor 31 Oktober wanneer meeste kontrakte verstryk) waar ons met spelers van ander unies mag praat. Daarom is die stresvlakke ’n bietjie hoër as gewoonlik.

“Die feit dat ons nou slegs 45 spelers mag kontrakteer, maak dit ’n yslike uitdaging. Dink net hoe dit moet voel as jy onseker is of jou kontrak hernu gaan word en of jy weer gaan speel.

“In die verlede kon ’n jong speler wie se kontrak nie hernu is nie, dalk sy heil by ’n ander unie gaan soek, maar daardie geleenthede gaan dalk nie meer daar wees nie. Daar is ’n ooraanbod van spelers in die mark, wat dit baie moeilik maak.”

Dis daarmee in gedagte dat Dobson, wat bekend is vir sy menslikheid en toeganklikheid vir die media, rugbyjoernaliste Maandag ’n preek afgesteek het oor beriggewing wat die onsekerheid vererger.

“As ek ons spelers kan beskerm van onnodige angs wat deur ongegronde gerugte oor hul spanmaats veroorsaak word, móét ek dit doen,” sê hy.

Volgens Dobson werk die Stormers se leierskaps- en prestasie-afrigter, Tom Dawson-Squibb, wat ’n agtergrond in sportsielkunde het, harder as ooit tevore. ’n Sielkundige van buite is ook vir spelers beskikbaar.

“Dis ’n hartseer teken van die tye,” sê hy.

Meer oor:  Koronavirus  |  John Dobson  |  Stormers  |  Superrugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.