Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Lang toernooi in bioborrel kan lol'

Dis een ding om te praat oor sport in ’n sogenaamde bioborrel, maar om ’n ganse toernooi oor maande só te speel kan lol.

Dit is die mening van John Dobson, afrigter van die Stormers.

“Ek wil enige kritiek vermy, want dis sulke ongekende tye en ek weet almal by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) doen hul bes, maar ek dink dit gaan baie wees om van spelers te vra,” het Dobson vandeesweek op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“As spelers vir drie maande aaneen agter mekaar moet sit en eet asof hulle in ’n eksamenlokaal is, moet jy die geldigheid bevraagteken van dít waarmee ons besig is. Dit gaan taai wees.”

John Dobson, die Stormers se afrigter. Foto: Gallo Images

In hierdie stadium is dit egter nog onduidelik hoe enige plaaslike rugbykompetisie in die komende maande in Suid-Afrika sal lyk, want alles hang af van wanneer daar weer rugby gespeel gaan word.

Saru hoop vir die einde van Augustus, maar Dobson dink dis ’n onrealistiese teiken en dat daar teen middel September eers gespeel sal kan word.

Oor die vraag oor waar ’n plaaslike rugbykompetisie gespeel kan word (sou die plan wees om ’n bioborrel te skep), het die jongste tendense ten opsigte van die Covid-19-pandemie straks Johannesburg as gasheer uitgeskakel. Dis om logistieke redes ’n terugslag.

“Ek het gehoor daar word nou van Kaapstad gepraat, maar een van die bekommernisse is dat daar dinge is wat die spelers se aandag aflei en dat hulle meer geneig gaan wees om te wil uitgaan,” sê Dobson.

Maar wie sal ’n speler kan kwalik neem as dit sy voorland is om tussen September en Kersfees in ’n bioborrel te moet rugby speel?

“Ek dink ’n bioborrel vir so ’n lang tyd sal baie wees om van spelers te vra,” sê Dobson met verwysing na die invloed wat so ’n scenario op die geestelike welstand van spelers kan hê.

As spelers vir drie maande aaneen agter mekaar moet sit en eet asof hulle in ’n eksamenlokaal is, moet jy die geldigheid bevraagteken van dít waarmee ons besig is.

Volgens Dobson sal die gehalte van die vrugte wat Suid-Afrika se spelers ná hul gedwonge blaaskans pluk, afhang van hoe hul voorseisoen vir 2021 lyk. Benewens die Rugbykampioenskap wat in November en Desember gespeel kan word, kan Suid-Afrikaanse franchises nog tot diep in Desember in aksie wees.

“Dis vir die Springbokke ’n yslike geleentheid met die Britse en Ierse Leeus wat aanstaande jaar kom toer,” sê hy.

“Die uitdaging gaan kom ná die Rugbykampioenskap en indien die Curriebeker-reeks tot Desember duur. Wanneer is ons daarna weer op die speelveld?”

Volgens Dobson gaan kommersiële werklikhede voorskryf dat dit so gou as moontlik moet wees, wat negatief kan inwerk op die voordeel wat ons spelers uit dié lang ruskans geput het.

“As ons steeds ’n gewone voorseisoen kan inpas, dink ek ons sal in ’n fantastiese posisie wees. Maar ek dink dis wensdenkery.”

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Suid-Afrikaanse Rugbyunie  |  Saru  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.