Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers-afrigter Dobson se belofte

Die opskorting van die Superrugby-reeks het dalk net op die regte tyd vir die Stormers gekom. Met die span se seisoen wat so belowend begin het, het hul laaste twee kragmetings gewys dat daar ’n paar gebreke in hul mondering is wat in dié tyd reggestel moet word. Leighton Koopman kyk na vyf aspekte van die Stormers se veldtog tot dusver.
Dillyn Leyds
Dillyn Leyds Foto: Edrea du Toit

1. Die beseringspook

Kort nadat hul inspirerende kaptein, Siya Kolisi, die eerste beseringsterugslag was, het ’n rits van sy Bok-spanmaats hom gevolg.

Vyf Wêreldbeker-wenners is nou op die lys van beseerdes.

Ondanks die golf van ongeluk wat soos ’n tsoenami deur die Stormers-kamp gespoel het, het die span steeds te veel gehaltespelers om nie goeie rekenskap van hulself te kan gee nie.

In die afwesigheid van die beseerdes het verskeie spelers wel hul aangedui dat hulle kan inspring as dit moet. Hulle is egter nog nie konsekwent goed in elke wedstryd nie.

Dit is veral die vertoning teen die Blues op Nuweland wat nog by die span spook, terwyl kritieke foute hulle duur te staan gekom het in hul stryd teen die Haaie.

“Ons sal onsself uit hierdie beseringsituasie moet speel,” het Dobson gesê.

“Daar word hard gewerk aan Trokkie Augustus, Jaco Coetzee en Salmaan Moerat. Hulle is die tweede linie. Ons vermoë om in moeilike omstandighede probleme die hoof te bied, is wat my gelukkig maak. Mense gee ons nie krediet daarvoor nie.”

2. Agterlyn verspeel kanse

Speel Dobson die beste kombinasies in die agterlyn of moet hy die kans vir ander spelers skep om hul merk te probeer maak?

Dis die vraag veral oor die Stormers se senters en vleuels.

Terwyl Jamie Roberts se kombinasie met Ruhan Nel goed afgeskop het, het die Wallieser nog nie die regte indruk gemaak nie.

Die Stormers se agterlynspel begin al hoe beter lyk, maar daar is nog nie daardie dringendheid op die aanval nie. Hulle sukkel ook om geleenthede af te rond.

“Die pak voorspelers kry meer energie as ons in ons teenstanders se kwartgebied is. Dis dalk waaraan ons moet werk.”

Die Stormers is met 16 drieë tans tiende op die lys vir die meeste drieë. Met die kanse wat hulle al verspeel het, sou die span waarskynlik onder die voorste vyf spanne getel het.

“Omdat ons die stryd om gebiedsvoordeel verloor, dink ek dit het ’n invloed op hoe ons aanval. Ek dink daardie twee goed hou met mekaar verband.”

3. Losskakel-dilemma

Kan Damian Willemse weer die Stormers se skip op koers kry in die nr. 10-trui, of lyk hy beter in die laaste vesting?

Dobson sal hoop dis as losskakel waarin Willemse tot sy reg sal kom.

Dis nie onregverdig om te sê dat sy spelpeil effens agteruit gegaan het nie, maar die veelsydige Willemse is steeds een van die beste losskakels in Suid-Afrika.

Hy sukkel egter om sy agterspelers weg te stuur, met die bal wat pal tussen hom en sy senters stol.

Dobson gaan egter sy vertroue in Willemse behou en het gesê hulle sal saam besluit oor sy posisie.

“Ek gaan beslis nie my rug op Damian draai nie.

“Ek het ’n onderneming aan Damian gemaak. Daar gaan ’n gesprek met hom en SA Rugby wees om uit te vind waar hulle sy toekoms sien.

“Ek sal hom ondersteun as hy losskakel wil speel, want ek het geen twyfel oor sy langtermyntoekoms daar nie.”

4. ‘Nuwe’ energie nodig

Dit het dalk as ’n bedekte seën gekom dat die Stormers ná twee loesings die breek in rugby gekry het.

Hulle was op pad na Argentinië, waar die Jaguares sou wag. Om met ’n span sonder Springbokke, en boonop na twee verloor-wedstryde te reis, sou die bult net nog steiler vir hulle maak.

Die Stormers-afrigter erken dat hulle dalk sou sukkel in Buenos Aires teen die Argentyne met dié wedstryd wat straks ook die res van hul seisoen kon beïnvloed.

As die Stormers met ’n verloor terug sou keer, kon dit ’n sneeubal-effek veroorsaak het, wat die span se ambisies kon laat ontspoor.

“Buenos Aires kon dalk moeilik vir ons geword het. Daar is dinge wat ons moet regstel.

“Daar was die geleentheid om ’n sege te behaal teen die Haaie, en as ons dit gedoen het, sou ons waarskynlik nie deur dieselfde introspeksie gegaan het as wat nou die geval is nie.

“Sleutelaspekte is om meer aan te val, meer gebiedsvoordeel te kry en dis waaraan ons werk. Maar wanneer die kompetisie hervat, sal ouens soos Siya Kolisi, die loskopstut Alistair Vermaak en ’n paar ander gereed wees.”

5. Wengroet vir Nuweland

Dit sal vir die Stormers ’n gatslag wees as hulle Superrugby op Nuweland groet met die Blues-wedstryd die laaste een daar.

Dit was ’n vrot vertoning en nie die wyse waarop Nuweland gegroet behoort te word nie.

Nuweland is baie spesiaal. En die Stormers moet die veld met ’n spesiale vertoning kan groet.

Die Stormers het juis die afgelope week begin met oefening om hulself fiks te hou vir wanneer die reeks weer van die grond af kom.

Spelers oefen slegs in groepe met geen kontak.

“As dit die laaste wedstryd was, sal dit rampspoedig wees, want ons het verloor,” het Dobson gesê.

“Daar is nog ander wedstryde tot die einde van die jaar en daar sal ’n groet-wedstryd wees.

“Dit gaan egter frustrerend wees as dinge so eindig, want ek glo ons was besig om aan iets spesiaals te bou vir die laaste seisoen op Nuweland.

“Dit is en was egter ’n voorreg om op Nuweland af te rig, veral Superrugby vanjaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.