Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dobson verdwaas oor WP se gesukkel

Gunsies van ander spanne en ’n desperate oorwinning in hul laaste wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs.

Dís wat die Westelike Provinsie nodig het om hom in die halfeindronde van die Currie­bekerreeks te kry nadat dié span Vrydag in Kimberley met 27-23 (rustyd 14-3) deur die Griekwas, voorloper in die kompetisie, getroef is.

John Dobson. Foto: Gallo Images

Die Griekwas het die Streeptruie oorheers.

Gepaard met die besoekers se vele foute het hulle ’n paar skouspelagtige drieë gedruk en só die WP se kanse in die kompetisie ’n gevoelige slag toegedien.

Nou kort die WP ’n vyfstervertoning teen die Cheetahs Saterdag in Bloemfontein, en ook ’n paar ander wedstryde om in sy guns te verloop, om ’n halfeindverskyning te maak.

Daarteenoor het die Poubloues op ’n volgepakte tuisveld sy plek in die halfeind van die kompetisie vir die eerste keer sedert 1998 bespreek. Dit was ’n lang wag, maar een wat uiteindelik vreugde in die Noord-Kaap sal bring.

Terwyl daar ’n paar blink oomblikke aan die WP se kant was, veral as hulle teenaanvalle van stapel gestuur het wat die Griekwas onder druk geplaas het, was John Dobson, afrigter van die Streeptruie, teleurgesteld in die poging.

“Ons het ses balle voor hul doellyn aangeslaan – dít terwyl die boodskap teen rustyd was dat die manne aan die bal moes vasklou,” het Dobson gesê.

“Iemand gee die bal uit sonder om te kyk waarheen dit gaan en as ons daar sou druk, is daar ’n sespunt-verskil. Ons eindig toe op met ’n geelkaart (aan die anderkant van die veld), hulle kry drie punte en dis neusie verby.

“Dit was ’n stryd waarin ons dissipline baie swak was.”

Volgens Dobson het hy teen rustyd aan sy spelers gesê daar is genoeg kwaliteit in hulle om in die tweede helfte terug te veg, maar dat die span die pad byster geraak het.

“Ons plan was nooit om hierheen te kom om die bal wild rond te gooi of om skoppe te gee wat nie in die wedstrydplan is nie.

“Die boodskap aan die ouens teen rustyd was eenvoudig: Hou die bal.”

George Whitehead, kaptein en losskakel van Griekwas, was sy span se groot held. Hy het sy voormalige Stormers-spanmaats omtrent getreiter op die aanval, asook met sy skopvoet.

Albei spanne het drie drieë gedruk, maar Whitehead se akkurate korrelwerk pale toe het die deurslag gegee.

Punte:

Griekwas 27 (14): Drieë: Ederies Arendse (2), Eduan Keyter. Doelskoppe: George Whitehead (3). Strafdoele: Whitehead (2).

Westelike Provinsie 23 (3):Drieë: Seabelo Senatla (2), Nama Xaba. Doelskop: SP Marais. Strafdoele: Marais (2).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.