Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dobson verlig ná ‘Groot Treinrooftog’

John Dobson, die Stormers se afrigter, het sy span se oorwinning oor die Pumas in Mbombela Vrydagaand aan die Groot Treinrooftog van 1963 gelyk gestel.

Neethling Fouché, wat die Springbok-vaskopstut Frans Malherbe vervang het, het ’n groot rol in die Stormers se terugvegpoging teen die Pumas in Mbombela gespeel. Foto: Gallo Images

Die Kapenaars was ná ’n uur se spel nog met 14-37 agter, maar vier verdoelde drieë in die laaste kwart het aan hulle ’n oorwinning van 42-37 besorg.

Hulle wen het egter teen ’n prys gekom met hul kaptein, Siya Kolisi, wat vir ’n ruk langs die kantlyn gaan wees met ’n dyspierbesering. Presies hoe lank dit gaan wees is onbekend, maar dis hoogs onwaarskynlik dat Kolisi volgende Saterdag teen die Bulle op Loftus sal kan speel.

Dobson meen die Pumas was op die aand eintlik die beter span.

“Die enigste ding wat ons gewys het, was karakter teen die einde,” het hy gesê.

“Ons is deeglik geklop. Die Pumas was uitstaande en kon twee of drie meer drieë gedruk het. Ons was swak.

“Jy kan nie karakter afrig nie. Die terugvegpoging was met die Springbokke van die veld af. Ons volgende linie spelers het opgestaan en ek’s regtig trots daarop.”

Siya Kolisi verlaat die veld met ’n dyspierbesering. Foto: Gallo Images

Dobson meen die Pumas se goeie taktiese skopwerk was vernaam die rede vir hul oorheersing.

“Hulle het ons in ons helfte neergepen en ons het lynstaan op lynstaan verbrou. Ons kon nie uit ons helfte kom nie. Hulle het veldgebied oorheers en ons is goed geklop.”

Die Stormers was met rustyd met 14-30 agter en Dobson het sy spelers gevra om trots in hul trui te wys.

“Ons is beter as wat ons gewys het. Die laaste 15 minute was die Groot Treinrooftog,” sê hy.

Dobson het die plaasvervangers Nama Xaba (oopkantflank), Neethling Fouché (vaskopstut) en JD Schickerling (slot) vir hul vertonings uitgesonder.

Xaba het Kolisi reeds in die eerste helfte vervang.

Ter verdediging van die Stormers was die aanloop tot die wedstryd vir hulle chaoties.

Die span wat op die veld gedraf het, het nie vroeg in die week saam geoefen nie. Hulle het met Maandag se sessies agter die rug Dinsdag die nuus gekry dat Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni in isolasie moet gaan omdat hulle verlede naweek kontak gehad het met ’n Leeus-speler wat positief vir Covid-19 getoets is. Albei het negatief getoets, maar kon volgens protokol nie speel nie.

Damian Willemse moes ook onttrek word en Tim Swiel het ter elfder ure op losskakel ingeskakel. Swiel het veral deur sy stelskopwerk ’n bestendigheid gebring wat ontbreek met Willemse. Dit gaan vir Dobson ’n moeilike besluit wees wanneer hy die komende week ’n keuse tussen hulle moet maak.

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.