Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dobson wil nie net op skrums staatmaak

Soos dikwels in die onlangse verlede was sterk skrumwerk Saterdag weer die uitstaande kenmerk van die Stormers se spel, maar hul afrigter, John Dobson, soek nuwe pyle in sy koker.

“Ek dink ons het in die verlede dalk te veel daarop staatgemaak. Ons wil ons spel ontwikkel tot ’n punt waar ons nie daarop hoef staat te maak nie. Ek was wel in my noppies daarmee,” het Dobson Saterdagaand gesê nadat sy span die Leeus met 34-21 in hul “Superfan”-wedstryd op Loftus Versfeld in Pretoria geklop het.

“Daar was ’n paar geleenthede in die eerste helfte waar Siya (Kolisi, die kaptein) naby aan die Leeus se doellyn besluit het om eerder dryfmaalbewegings op te stel. Ons kon die skrum geneem het en waarskynlik makliker punte aangeteken het.

“Maar ons rolmaal-kultuur het die afgelope twee jaar ’n bietjie in die slag gebly en dis iets wat ons aan wou werk.”

Die Stormers het met die Springbok-stutte Steven Kitshoff en Frans Malherbe op die veld reeds in die eerste 20 minute twee skrum-strafskoppe afgedwing. Daar was egter ’n merkbare insinking toe hulle deur Leon Lyons en Neethling Fouché vervang is.

Malherbe is later weer opgestuur om die Stormers in daardie faset momentum te gee.

Die Stormers se longe het in die tweede helfte gebrand en hulle was vir ’n rukkie op die agtervoet nadat die Leeus ’n vlaag plaasvervangers opgestuur het.

Steven Kitshoff was oudergewoonte vir die Stormers ’n troefkaart in Saterdag se “Superfan”-wedstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images

“Die waarheid is dat ons ’n bietjie meer aanskoulik wil speel as om net op Frans, Kitsie, Bongi (Mbonambi) en Scarra (Ntubeni) staat te maak om strafskoppe af te dwing. So ek was bly oor die skrumwerk, maar dis nie iets wat ons te veel van ’n ophef oor wil maak nie,” sê Dobson.

Maar die Stormers het darem gewen en daar was ’n paar positiewe dinge wat Dobson uit dié stryd kon neem.

Eerstens is dit duidelik dat die Springbok-heelagter Warrick Gelant ’n baie waardevolle aanwins gaan wees. Hy is met sy puik vaartversnelling deur swaar verkeer in die Leeus se verdedigingslinie vir ’n drie en was ook puik onder die hoë bal.

Die Stormers se hanteerwerk was nou en dan ook flink en daar is tekens dat hulle die ritme op die aanval gaan vind, wat ontbreek het voordat die Superreeks in Maart weens die Covid-19-pandemie opgeskort moes word.

Dan du Plessis se berekende hardlooplyn en Damian Willemse se suiwer aangee vir hul eerste drie getuig beslis daarvan.

Dobson het die plaasvervanger-flank Nama Xaba, die slot Salmaan Moerat, die agtsteman Juarno Augustus en vleuel Angelo Davids uitgesonder as ander spelers wat sy oog getref het.

Moerat se slotmaat, JD Schickerling, het self ’n stewige vertoning gelewer.

Warrick Gelant (regs met die bal) het gewys dat hy vir die Stormers ’n groot aanwins op die aanval gaan wees.Foto: Gallo Images

Dobson meen die Stormers was swak by die afbreekpunte en hul skopwerk nie watwonders nie, maar origens was hy tevrede.

“Die Leeus het ons in die tweede helfte onder baie druk geplaas met die nuwe span wat hulle opgestuur het. Ons wou nie 30 spelers bring nie, want daar was sekere ouens wat ons wou hê 80 minute moes speel,” sê hy.

“Om Hoëveld toe te kom vir ons eerste wedstryd ná ’n baie nat Kaapse winter en te wen teen ’n sterk span, is ’n goeie poging. Ek is baie trots op Siya en die span.”

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Leeus  |  Superfan  |  Warrick Gelant  |  Steven Kitshoff  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.