Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dobson wil Stormers, kykers gas gee

Die Stormers gaan hul Superrugby-veldtog vanjaar op drie kernpunte bou om die span hopelik tot groter hoogtes in die Super-reeks aan te voer.

John Dobson, die Stormers se afrigter.Foto: gallo

John Dobson, nuwe afrigter van die Kaapse streekspan, en sy bestuur het besluit op dié driepunt-plan waarmee hulle wil toesien dat die span sy trofee-droogte in die kompetisie breek en terselfdertyd ook sal sorg om die ondersteuners terug op Nuweland te kry.

Daarom het die span reeds besluit om die kultuur te verander met Dobson-hulle se drie kernpunte.

Die een kernpunt is getiteld “Saamwees”. Dit fokus op die span wat almal onder een vaandel plaas. Dis anders as in die verlede toe ’n hiërargie van senior en gevestigde spelers en dan junior spelers die groep opgemaak het. Daardie seniorspeler-etiket is waarvan die Stormers veral ontslae wil raak in die groep.

Dobson-hulle besef as hulle sukses wil behaal, sal elke speler op dieselfde voet moet wees en nie verwyderd van mekaar nie.

“Die Wêreldbeker-ouens is supersterre, maar hulle gaan saam met ouens speel wat waarskynlik nog nie eens hul Superrugby-debuut gemaak het nie,” verduidelik Dobson.

“Die groot ding gaan wees om die idee aan hulle te verkoop – wat ons wil doen en hoe ons wil speel.

“Ek dink nie ons sal suksesvol wees as hulle daardie supersterre bly nie. Ons sal dit (almal op dieselfde bladsy kry) moet doen.”

’n Ander kernaspek is die genot. Dis ’n aspek wat Dobson reeds in die Curriebekerreeks met die WP probeer vestig het.

Dit het vrugte afgewerp met die span wat die halfeind van die kompetisie gehaal het, maar weens Springbok-verpligtinge van kernspelers nie verder kon vorder nie.

Die ding gaan wees om die idee aan hulle te verkoop.

“Ons wil Kaapstad ook weer laat glimlag,” het Dobson dit onomwonde gestel.

“Die span kan nie op Nuweland uitdraf met 8 000 of 9 000 ondersteuners in die stadion nie. Spelers voel daardie energie, daardie ondersteuning wat nie daar is nie.

“Dit word dan ’n bose kringloop. Ons speel die een week nie goed nie en dan die volgende week word dit net 7 000 ondersteuners.

“Ons wil dit (die genot) wys met die wyse waarop ons oefen, hoe ons speel en hoe ons onsself handhaaf. ’n Paar weke gelede het ons in die Bo-Kaap gaan draf waar mense ons kon sien. As ons byvoorbeeld in Newlands Forest gaan draf het, sou niemand ons kon sien nie.

“Glimlagte op mense se gesigte is wat ons wil sien.”

Die derde kernaspek is “Beter”.

Dobson wil sien dat sy span nie net op die veld beter word nie, maar ook meer professioneel in wat hulle doen. Of dit nou tydens oefeninge is, wanneer spelers van beserings herstel en wanneer spelers se vaardighede opgeskerp word.

“Ons sal baie meer professioneel moet word en dis ongelukkig ’n eienskap wat jy slegs oor tyd verkry. Kyk na hoe professioneel spanne soos Saracens of Racing is.

“Ek skat hul gemiddelde ouderdom is rondom 29, terwyl ons s’n maar 23 is. Siya (Kolisi) is 28 en hy is een van die oudste spelers.

“Daardie proses, om meer professioneel te word, dink ek sal ons moet versnel (as ons suksesvol wil wees).”

Die Stormers het vanjaar reeds op 1 Oktober met hul voorseisoense oefening begin met ’n klomp nuwe gesigte in die groep.

Springbokke soos Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Bongi Mbonambi, Herschel Jantjies, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Damian Willemse, wat almal weer kontrakte met die WP gesluit het, sal eers in Desember by die span inval. Die Bok-stut Wilco Louw en Dillyn Leyds sal ook voor die Stormers se kamp in George, wat vir middel Desember beplan is, by die groep aansluit.

Daar is ’n paar kwessies in die Stormers-groep wat dalk kopsere vir die span kan besorg in volgende jaar se kompetisie.

Die span is dun wat ervaring op losskakel, buitesenter en skrumskakel betref.

Willemse sal hoofsaaklik op losskakel uitdraf met Jean-Luc du Plessis en Leyds wat ook dié posisie kan vul. Jantjies en Jano Vermaak, wat waarskynlik op ’n korttermynkontrak gaan aanbly, is die twee skrumskakels met behoorlike Superrugby-ervaring.

Meer oor:  Stormers  |  John Dobson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.