Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dokters sê slot moet halt roep
Jaco Nepgen in ’n lynstaan vir Griekwas. Foto: GALLO IMAGES

Bloemfontein. – Die Griekwas se ­ysterslot Jaco Nepgen se rugbyloopbaan is weens ­harsingskudding kortgeknip.

Dié 30-jarige boorling van Queenstown het dikwels in sy loopbaan harsingskudding opgedoen, waarvan die laaste keer vroeër dié seisoen teen die ­Boland in die Provinsiale Reeks was.

“Die laaste harsingskudding teen Boland was die ergste gewees en dit is die groot rede waarom ek nou moet uittree – dis nie omdat ek wil nie,” het Nepgen gesê.

“Die dokter en die spesialiste het almal ooreengekom dit is die beste roete vir my. My gesondheid kom voor enigiets anders, al is dit (iets) waarvoor ek baie lief is. Volgens hulle is daar ’n groot risiko vir permanente skade en bloeding op die brein indien ek nog ’n hou sou vat,” het hy gesê.

“So dit is ’n gedwonge uittrede. Ek sou graag nog so twee of drie jaar wou speel. Ek voel ek kon steeds ’n bydrae gemaak het op die veld, maar die Here het mos maar Sy eie plan, so ek glo ek het genoeg geleer om ’n bydrae van die veld af vir Griekwas en vir die Noord-Kaap in die geheel te maak.”

Nepgen se rugbyloopbaan het begin by die Hoërskool Hangklip op sy geboortedorp, waar hy in 2004 die eerstespan se kaptein was. Hy het daarna ’n kontrak by die Westelike ­Provinsie gekry en het met ’n beurs sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer.

Nepgen het in 2008 en 2009 die Varsitybeker saam met die Maties gelig en hy beskou dit as een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

Dit was Dawie Theron, ’n voormalige afrigter van Griekwas, wat hom Kimberley toe gelok het.

“Ongelukkig het ek in die ­Vodacombeker teen die WP in die middel van 2010 my knieligamente geskeur en ek was vir ses maande uit, so ek het in 2011 byna van voor af begin by Griekwas,” vertel Nepgen.

Hy het gesê dit was altyd lekker om groot unies te klop en sy Curriebeker-buiging vir die Poubloues, in 2011 teen die WP, bly vir hom ’n hoogtepunt.

Hy het einde verlede jaar ’n aanlyn fiksheidsprogram op die been gebring en wil ook by afrigting betrokke raak.

Meer oor:  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.