Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Drake raak hoenderkop – en Hane kraai

Hoor jy die hanekraai? Dit kom uit Frankryk, waar hul nasionale rugbyspan hul Sesnasies-droom Saterdagaand in Parys op die mees dramatiese manier denkbaar lewendig gehou het.

Die Franse Hane sal Skotland Vrydag pak met die wete dat hulle die Sesnasies-titel steeds voor Wallis se neus kan wegraap, ná hulle die einste Walliesers Saterdag met 32-30 geklop het.

Die Franse heelagter Brice Dulin duik oor die doellyn vir die drie wat sy span Saterdag van ’n dramatiese sege oor Wallis verseker het.Foto: Reuters

Frankryk het twee drieë in die laaste vier minute gedruk om Walliese harte te breek – terwyl hulle 14 spelers teenoor 13 gehad het ná chaos in die laaste tien minute uitgebreek het.

Die Hane was oudergewoonte ’n handvol met die bal in die hand, maar die Walliesers het telkens teruggeslaan met geduldige fasespel op die aanval en die skopskoen van Dan Biggar.

Teen die 68ste minuut was die Drake met 30-20 voor, maar wild aan die wal gooi met Frankryk op die aanval. Toe die Fransman Brice Dulin op die linkerkantlyn met ’n aangee gevoer word en die bal anderkant die doellyn toeval, was dit duidelik dat die wedstryd se pylvak opwindend sou wees. Maar die opwinding is eindelik deur totaal ander faktore gelewer.

Voor Dullin se drie toegeken kon word, wou die skeidsregters eers potensiële vuilspel in die fases voor dit onder oë neem. Die skuldige was die Hane se Suid-Afrikaans gebore slot Paul Willemse, wat die Walliese kaptein Alun Wyn Jones by ’n losskrum om die keel gepak het.

Asof dit nie genoeg was nie, het Willemse se vingers kontak met die area rondom Wyn Jones se linkeroog gemaak, sodat die slot met ’n rooikaart van die veld gejaag is.

Die Franse was ontstoke, maar in die minute ná daardie voorval het hulle hul fokus herwin en vinnig terug in die Walliesers se 22 gekom.

Die Wallieser George North sink oorbluf op sy hurke neer, ná die drie wat sy span se doppie geklink het.Foto: AP

En toe draai die gety teen Wallis . . .

Die skeidsregter, Luke Pearce, moes die Drake knaend aanspreek oor onkant-spel, en teen die 72ste minuut was sy geduld op. Die agtsteman Taulupe Faletau het die prys betaal en is met ’n geelkaart van die veld gestuur.

’n Minuut later het die heelagter Liam Williams langs hom in die koelkas gaan sit omdat hy by ’n losgemaal van sy voete gegaan het.

Met ’n sege genoeg vir Wallis om die Sesnasieskroon te verseker, het Frankryk twee drieë nodig gehad om hul eie titel-ambisies lewend te hou, maar toe Charles Ollivon homself oor die doellyn wriemel vir ’n vyfpunter, was daar net drie minute oor op die horlosie en skynbaar te min tyd vir nog een.

Boonop het Frankryk die bal ’n minuut later aangeslaan, sodat Wallis dit net moes behou om glorie te verseker. Teen daardie tyd was daar egter geen sprake meer van dissipline in Walliese geledere nie, en hulle het ’n strafskop by ’n losgemaal afgestaan wat die deur weer wawyd vir die tuisspan oopgemaak het.

Met ’n oormag in personeel het Frankryk hul besit jaloers beskerm en die bal deur die hande gestuur. Die onafwendbare het in die 82ste minuut gebeur, toe Dulin weer aan die linkerkant van die veld oor die doellyn storm. Dié keer het die drie gestaan – en dié keer was daar vir Wallis geen terugkomkans nie.

Wat hul Sesnasies-lot aanbetref, is dit nou uit Wallis se hande, hoewel hulle kan moed skep uit die steilte van die berg voor Frankryk.

Die Hane sal Vrydag in Parys teen Skotland speel, in die ontmoeting wat verlede maand uitgestel is omdat ’n rits koronavirus-gevalle in die Franse kamp gediagnoseer is. Om die Sesnasies-kroon te buit, moet hulle ’n bonuspunt verdien en Skotland met meer as 20 minute bêre.

Dis natuurlik nie onmoontlik nie – veral met die golf van selfvertroue waarop die Hane daardie wedstryd sal begin. Maar maklik gaan dit ook nie wees nie.

• Puntemakers:

Frankryk 32 (17): Drieë: Romain Taofifenua, Antoine Dupont, Charles Ollivon, Brice Dulin. Doelskoppe: Matthieu Jalibert (2), Romain Ntamack. Strafdoele: Ntamack (2).

Wallis 30 (17): Dan Biggar, Josh Navidi, Josh Adams. Doelskoppe: Biggar (3). Strafdoele: Biggar (3).

Meer oor:  Frankryk  |  Wallis  |  Paul Willemse  |  Sesnasiesreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.