Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Drama voor stryd tussen Bulle en Haaie
Ox Nche, die Haaie se loskopstut. Foto: Gallo Images

Dit was so hittete of gisteraand se Reënboogbeker-kragmeting in Durban het nie plaasgevind nie, nadat die skote die week agter die skerms tussen die Haaie en Bulle geklap het oor die Durbaniete se versoek om Ox Nche en Thomas du Toit te kies.

Eindelik is daar eers minder as ’n uur voor afskop deur die Haaie besluit om voort te gaan met die wedstryd, waarin bepaal is wie Suid-Afrika volgende week in die toernooi se eindstryd gaan verteenwoordig.

Dit nadat Eduard Coetzee, uitvoerende hoof van die Haaie, die stutte in sy 23-tal voor afskoptyd by Kingspark gevra het of hulle wil speel of nie.

Sonder Nche en Du Toit is die Haaie gister met 34-22 deur die Bulle verslaan. Die Pretorianers het daarmee die reg verwerf om aanstaande Saterdag in Treviso teen die Italiaanse klubspan Benetton in die Noord-Suid-eindstryd van die Reënboogbeker-reeks speel.

Die rusie tussen die Haaie en Bulle gaan oor ’n reël waartoe hulle, die Stormers en Leeus voor die aanvang van die reeks ingestem het: Dat al die spelers wat vanjaar na ’n Springbok-belyningskamp genooi is, iewers in die reeks ’n week moet rus.

Du Toit en Nche het nog nie uitgesit nie en moes volgens daardie ooreenkoms tussen die bogenoemde vier spanne gisteraand rus.

Die Haaie het egter mediese verslae voorgelê om te wys dat hulle sonder Nche en Du Toit nie genoeg stutte gehad het wat gister kon speel nie.

Die stutte John-Hubert Meyer (rug), Wiehahn Herbst (Covid-19-kontak, beseer), Hanro Jacobs (nek) en Ntuthuko Mchunu (voet) is almal op die krukkelys.

Boonop het Khutha Mchunu ná ’n lang besering eers gisteraand sy terugkeer tot die speelveld gemaak. Michael Kumbirai het ’n nekbesering en slegs 40% krag in sy bindarm.

Coetzee het daarom reeds Maandag na Rassie Erasmus en Jacques Nienaber uitgereik om te hoor of die Haaie Du Toit en Nche op die bank mag kies, op voorwaarde dat hulle net vir 40 minute speel. Daar is toe ooreengekom dat Coetzee die goedkeuring van die Bulle, Stormers en Leeus benodig voordat hy Du Toit en Nche mag kies.

Thomas du Toit in ’n oefening van die Haaie in Durban. Foto: Gallo Images

John Dobson van die Stormers en Rudolf Straeuli van die Leeus het tot die versoek ingestem. Coetzee kon egter nie die nodige goedkeuring by die Bulle se Edgar Rathbone, Jake White en Willem Strauss kry nie.

“Ons het net gevoel almal het vooraf ingestem tot die ooreenkoms oor die spelers wat ’n Bok-belyningskamp bygewoon het. Ons gevoel is dat daarby gehou moet word,” het Rathbone, uitvoerende hoof van die Bulle, gisteraand aan Rapport gesê.

’n Ingeligte het gesê dis net regverdig dat Du Toit en Nche nie gekies is nie aangesien die Bulle byvoorbeeld sonder Morné Steyn teen die Leeus moes klaarkom omdat hy ingevolge die reël daardie week gerus het.

“Ek glo die Bulle sou die Leeus geklop het as Morné beskikbaar was,” het die persoon gesê.

Nadat die Haaie weens die onsekerheid oor Du Toit en Nche nie Donderdag hul plaasvervangerbank bekend gemaak het nie, het die Bulle ’n skrywe aan SA Rugby gestuur om klarigheid te kry oor die duo se betrokkenheid by die wedstryd.

Met die Bulle nie bereid om goedkeuring te gee nie, moes die Haaie die twee toe gister noodgedwonge weglaat. Dit het die temperatuur op Kingspark voor die afskop hemelhoog laat styg.

Kort voor die aanvang van die wedstryd het die Haaie selfs ’n verklaring uitgereik oor wat hulle as ’n “ongelukkige ontwrigting” vir die span bestempel het.

“Ons het ’n uitdagende week gehad om ’n span te kies, veral in die voorry, waar ons baie beserings het,” het Coetzee gesê.

“Ongelukkig, net voor die wedstryd, is ons versoek (om Nche en Du Toit te kies) deur die Bulle van die hand gewys. Dit het op die nippertjie ’n paar veranderinge genoodsaak.”

Nog ’n ingeligte het gesê dit moet onthou word dat die Haaie die swaarste deur die ooreenkoms getref is omdat hulle die meeste spelers (meer as 12) by die belyningskampe gehad het.

Met Khwezi Mona en Mchunu die stutte in die Haaie se beginspan, het Kumbirai en Mzamo Majola vir Du Toit en Nche op die bank vervang. Coetzee het die keuse om wel te speel aan hulle oorgelaat voordat die Haaie ingestem het tot die kragmeting.

Meer oor:  Durban  |  Drama  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Ox Nche  |  Thomas Du Toit  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.