Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Drie middels in bloed ‘nie per ongeluk’

Die kanse dat die Springbok-­vleuel Aphiwe Dyantyi per ongeluk drie verbode middels tegelykertyd in sy bloed gehad het, is skraal, sê kenners – veral omdat twee van die anaboliese steroïede, waarvoor die ster-vleuel positief getoets is, vir minder as ’n week opspoorbaar bly.

Die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi Foto: gallo

Die drie middels is ook deel van ’n mengsel wat algemeen saam geneem word om spiermassa te bou en kan ook help tydens die herstel van ’n besering.

Die Suid Afrikaanse Instituut van Dwelmvrye Sport (Saids) het Vrydag bekend gemaak dat Dyantyi se B-monster ook positief getoets het vir die verbode middels metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033. Dyantyi sou oorspronklik ’n skorsing van twee jaar in die gesig gestaar het, maar volgens Wada-riglyne verleng die skorsing na vier jaar as daar meer as een verbode middel in die toets opgespoor word.

Volgens Wêreldrugby se eie riglyne “is dit enige speler se persoonlike plig om toe te sien dat geen verbode middel ingeneem word nie”.

Kenners met wie Rapport gepraat het, is dit eens dat die kanse skraal is dat Dyantyi onwetend die verbode middel(s) ingeneem het – en wys daarop dat al drie verbode middels afsonderlik mondelings ingeneem moes word om hom positief te laat toets.

Boonop is die drie anaboliese steroïede relatief duur, wat dit minder waarskynlik maak dat dit in aanvullings gebruik sou word. Daarby is die kans dat ’n aanvulling met spesifiek dié drie anaboliese steroïede op een slag besmet is, hoogs onwaarskynlik.

Dyantyi het in sy oorspronklike verklaring bevraagteken hoe hy twee weke ná ’n vorige dwelmtoets, toe hy negatief getoets het, skielik positief kon toets.

“As ’n professionele sportman op ’n nasionale en internasionale vlak word ek gereeld getoets. Ek is voor en ná hierdie toets weer getoets. Dit is deel van my werk en ons almal weet dat elke speler tussen twee en vier keer per jaar getoets sal word. Om enige verbode middel te gebruik, sal nie net onverantwoordelik wees en iets wat ek nooit sou doen nie, maar dit sou ook gevoelloos en dom wees. Ek het ’n dwelmtoets op 15 Junie gehad (twee weke voor die toets op 2 Julie) en dit was negatief.”

Die kenner met wie Rapport gepraat het, glo die kombinasie is gebruik om vinnige resultate te verkry.

“Metandiënoon is ’n baie algemene steroïede, gewoonlik mondelings geneem – maar is ook soms as ’n oliegebaseerde inspuiting beskikbaar. Die straatnaam daarvoor is Dianabol, en dit word meestal gebruik om krag te bou.

“Metieltestosteroon is ’n mondelingse vorm van testosteroon. Dit word gewoonlik misbruik omdat dit vinnig uit die bloedstroom is. Dit kan toksies in hoë dosisse wees. LGD-4033 is een van die nuwe middels in die mark en is tans nog in ’n proef­fase. Dit word teen spierverslapping weens ouderdom gebruik.”

Volgens Rapport se inligting word spelers jaarliks deur Saids, SA Rugby en hul provinsies ingelig oor die gevare van verbode middels.

Rapport kon nie vasstel of die Leeus-spelers al vanjaar so ’n inligtingsessie gehad het nie.

Dyantyi kan die beoogde skorsing vier jaar skorsing na twee verminder as hy skuld erken of in ’n verhoor versagtende omstandighede kan voorlê.

Gert van der Merwe, Dyantyi se agent en regsverteenwoordiger, het aan Hendrik Cronjé gesê hulle oorweeg nog hul opsies.

“Ons is nog nie seker hoe die middels in sy urine beland het nie. Dit is nou ons plan om te bewys dat hy dit nie opsetlik nie, maar op ’n ander manier ingekry het.”

  • Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, het aan Leighton Koopman gesê toetse op rugbyspelers word binne en buite seisoen gedoen, want die risiko om verbode middels te gebruik is in albei tydperke ewe hoog.

Volgens Saids is daar 332 urinetoetse op rugbyspelers die afgelope jaar (van Maart 2018 tot April 2019) gedoen. Dit is die meeste van alle sportsoorte, selfs meer as die 320 van atletiek.

Volgens Galant moet hulle verseker dat hul toetse vir verbode middels nie voorspelbaar is nie. “Ons het uit die (Lance) Armstrong-saak geleer dat die toetsstelsel jare lank geklop is omdat die oortreders die patroon van die toetsbeamptes kon voorspel.”

Meer oor:  Aphiwe Dyantyi  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.