Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Droomdrieë soos dié sien jy selde meer
Ray Mordt duik oor vir een van sy drie drieë teen die All Blacks in Auckland in 1981.Foto: Getty Images

Wie het die mooiste drie gedruk wat jy nog self op ’n rugbyveld gesien het?

Hierdie vraag het sekerlik by elkeen opgeduik wat ’n onlangse beriggie gelees het oor die gewildste drieë in die geskiedenis van die sport.

Brittanje se LiveRugbyTickets.com het kykersgetalle op YouTube gebruik om sy lys op te stel.

Dit is nie ’n verrassing nie dat Gareth Edwards, die Walliese skrumskakel, se drie in 1973 vir die Britse Barbarians teen die All Blacks die meeste keer gekyk is nie – bykans 4,5 miljoen keer.

Slegs twee Suid-Afrikaners, die Springbok-vleuel Bryan Habana (14de) en die Springbok-stut Richard Bands (20ste), het die lys se top-20 gehaal.

Gareth Edwards ná sy wonderdrie vir die Barbarians teen die All Blacks in 1973 in Cardiff.Foto: Getty Images

Edwards, wat as Speler van die Eeu aangewys is, het in 1973 sy droomdrie op Cardiff Arms Park gedruk. Hy het met ’n kraglopie na die hoekvlag ’n drie afgerond wat in die Barbarians se kwartgebied begin is met die losskakel Phil Bennett se systappe en verskeie spelers wat daarna die bal skitterend hanteer het.

Habana se drie is in 2012 teen die All Blacks in Dunedin gedruk en Bands het op dieselfde veld in 2003 soos ’n wafferse vleuel 47 m ver hoekvlag toe genael.

Ek het hierdie drieë net op televisie gesien, maar wonder of my gunstelingdrie, deur Mannetjies Roux vir die Springbokke in 1962 teen die Britse Leeus in die Vrystaat-stadion, nie mooier was nie.

En dan onthou ek ook hoe daar vir baie jare geskryf is dat die “vlieënde Rus”, Prins Obolensky, in 1936 vir Engeland op Twickenham ’n ongeëwenaarde individualistiese drie gedruk het.

Maar daar is mooi drieë en daar is móói drieë – drieë wat vir die toeskouers skouspelagtig mooi is en dié wat kragmetings wen.

Toe ek, as sportredakteur van Die Volksblad, in die jare 60 ’n reeks van 50 droomdrieë weekliks aangebied het, het ek vir dr. Danie Craven, toe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, gevra om ’n paar van die beste drieë te beskryf wat hy in daardie stadium in meer as 50 toetse gesien het.

Goeie drieë is nie altyd mooi nie, maar getuig van doeltreffende en afgeronde spel, terwyl mooi drieë gewoonlik vereenselwig word met baie aangeebewegings, netjies uitgevoer en mooi lopies met die bal.
Dok Danie Craven

Ter aanvang, het Dok Craven geskryf: “Ek dink ons moet onderskei tussen goeie drieë en mooi drieë. Goeie drieë is nie altyd mooi nie, maar getuig van doeltreffende en afgeronde spel, terwyl mooi drieë gewoonlik vereenselwig word met baie aangeebewegings, netjies uitgevoer en mooi lopies met die bal.”

Basie van Wyk, Springbok-flank, se drie in die laaste toets van die 1951/’52-toer teen die Franse in Parys, word deur dr. Craven uitgesonder. Hy beskryf dit soos volg:

“Die telling was 20-3 in ons guns en die Franse was op die aanval. ’n Skrum is gevorm en Fonnie du Toit skiet uit na Hansie Brewis en Ryk van Schoor en Tjol Lategan stuur met hul perfekte samespel Chum Ochse om sy man.

“Toe hy voorgekeer word, gee hy die bal terug na die Windhond (Hennie Muller), wat Stephen Fry aan sy binnekant kry en op sy beurt het hy al vyf vaste voorspelers aan sy binnekant.

“Hulle hanteer die bal na regs en toe weer na links en dit gaan dieselfde pad terug na Ochse se kant, wat hard gelak word. Maar Paul Johnstone het van die teenoorgestelde vleuel kom dek, soos hy so goed kon doen.

“Hy vorder met die bal en toe hy gestuit word, gee hy na die binnekant en ’n presiese weergawe van die vorige beweging met die voorspelers vind plaas. Die bal gaan weer na die vaste voorspelers en terug na Chum, wat ’n dwarsskop los vir al agt die Springbok-voorosse om op die bal toe te sak en Basie van Wyk om te druk.”

Afgesien van Mannetjies Roux se drie, ná sy kronkellopie en sweefduik oor die doellyn, wat steeds in sportprogramme op TV vertoon word, noem ek kortliks van die ander droomdrieë op my kortlys.

Natuurlik sal Hansie Brewis se drie wat die Springbokke in 1949 op Ellispark op die wenpad in die eerste toets teen die All Blacks geplaas het, hoog op my lys wees. Ek het dit as hoërskoolseun saam met my pa gesien – ’n belewenis soos min.

Die voormalige Springbok Tom van Vollenhoven speel rugbyliga vir St. Helens.. Foto: Getty Images

Daar was ook skitterende drieë deur die All Black-vleuel Bryan Williams (in 1970 en 1976 in Suid-Afrika); toetsdrieë deur die Springbok-vleuels Gerrie Germishuys (in Durban in 1976 teen die All Blacks), Pieter Hendriks (op Nuweland in 1995 teen die Wallabies) en Gertjie Brynard (in 1965 in Christchurch); Hennie van Zyl (in 1960 teen die All Blacks op Ellispark); Ray Mordt (in 1981 in Auckland) en die Springbok-heelagter Gysie Pienaar (in 1980 teen die Britse Leeus in Bloemfontein).

Maar daar is ook drie ander besondere drieë op my lys:

1. Tom van Vollenhoven, Springbok-vleuel, het in 1955 vir Noord-Transvaal teen die Junior Springbokke ’n drie in die regterhoek gaan druk ná ’n lopie van bykans 85 treë van die linkerkant van die veld.

2. Edrich Krantz, Springbok-vleuel van die Vrystaat, het in 1976 se eindstryd om die Curriebeker teen die WP in Bloemfontein ’n beweging van 1 minuut en 34 sekondes met ’n drie afgerond waarin die bal 30 keer hanteer is.

Die vleuel Mike Slemen in aksie vir die Britse Leeus in 1980. Foto: Getty Images

3. Mike Slemen, vleuel van die Britse Leeus, het in 1980 op Potchefstroom teen ’n SA Uitnodigingspan ’n drie gedruk nadat die bal 33 keer hanteer is in ’n beweging van twee minute en 45 sekondes.

Dis dan wat my droomdrieë betref. Ander rugbygeesdriftiges sal in hul “soektog” na hul gunstelingdrieë sonder twyfel onder meer die volgende spelers in herinnering roep: Danie Gerber, Gert Muller, Pierre Spies, Uli Schmidt, Sias Swart, Corrie Pypers, Bob Skinstad, James Small, Tony Watson, Jannie Engelbrecht, Niel Burger, Frik du Preez, Hugo van Zyl, John Gainsford, Lofty Fourie, Joost van der Westhuizen, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Percy Montgomery, Pieter Rossouw, ensovoorts.

Die twee Springbok-vleuels in 2019 se eindstryd om die Wêreldbeker in Japan, Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi, het elk ’n skitterende drie teen Engeland gedruk, maar sulke drieë is deesdae dun gesaai.

’n Groot persentasie drieë word ná rolmaalbewegings gedruk of ná verskeie fases van stampkarrugby naby die doellyn. Daarom moet ons ons droomdrieë waardeer.

* Video’s van drieë:

Mannetjies Roux teen die Britse Leeus in 1968:

Ray Mordt se driekuns teen die All Blacks in 1981: 

Gysie Pienaar in die tweede toets teen die Britse Leeus in 1980:


Danie Gerber praat oor dáái drie:


Meer oor:  Gysie Pienaar  |  Danie Gerber  |  Bloemfontein  |  Rugby  |  Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.