Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Drotské inspireer Cheetahs
Joseph Dweba, haker van die Cheetahs, spog sover met die naasmeeste drieë in dié seisoen se Pro14-reeks. Foto: Gallo Images

Die Cheetahs is voor hul klinkende oorwinning in hul tweede Pro14-derby teen die Southern Kings deur ou beeldmateriaal van die gewese Cheetahs-breier én Springbok-haker Naka Drotské aangespoor.

Daarin kon gesien word hoe Drotské met tye genael het met die bal om te gaan druk. Ander tye was hy in die rolmaalbewegings betrokke.

Drotské is deur die Cheetahs se huidige afrigter, Hawies Fourie, genooi om die truie te oorhandig en die spelers toe te spreek.

“Ons het Drotské gekry om die truie te oorhandig en ’n paar van sy video’s vir die spelers wat hom nie ken nie, gewys. Hy het terloops in van daardie beeldmateriaal ’n paar drieë gedruk, waar hy meer as 20 meter met die bal gehol het en ons het so ’n bietjie daaroor gespot.

“In hedendaagse rugby was dit altyd die sesflank wat die rolmale beheer het, nou is dit die haker.

“Dis een van ons sterkpunte en dit is die rede hoekom Joseph (Dweba) en Wilmar (Arnoldi, plaasvervangerhaker) drieë kan druk.

“Die twee vul mekaar goed aan. Ek dink dit werk goed vir ons om met Joseph te begin en ná 40 tot 45 minute bring ons vir Wilmar op, wat weer iets anders bring,” sê Fourie.

“Ons het nogal baie rolmaalbewegings, so dan moet ’n haker ’n drie druk. As ons rolmaalbewegings swak is, gaan die haker nie baie drieë druk nie,” sê Fourie.

Naka Drotské het die Cheetahs se truie aan hulle oorhandig voor hul onlangse herontmoeting met die Southern Kings. Foto: Gallo Images

Dweba het teen die Kings twee keer gaan druk in hul sege met 45-0. Sy sewe drieë is trouens die naasmeeste sover in dié seisoen se Pro14-reeks.

Nog ’n speler wat ’n belangrike rol in die rolmale speel, is die Namibiese Wêreldbeker-stut Aranos Coetzee.

Hy speel Saterdag teen Leinster in sy 50ste Pro14-wedstryd vir die Cheetahs.

“Hy is een van die spelers wat die beste skrum in die kompetisie en dit help ons baie. Baie spanne skrum om ’n strafskop af te dwing en dit plaas jou onder druk, veral as jou vaskop nie op standaard is nie,” het Fourie vir Coetzee geloof vir sy bydrae.

* Die Cheetahs het Dinsdagoggend ’n laaste oefening ingepas voordat hulle laatmiddag Ierland toe vlieg vir Saterdag se wedstryd teen Leinster.

* Kyk hier na van Drotské se drieë: 

Meer oor:  Naka Drotské  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.