Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
EKSKLUSIEF: Leeus se afrigter praat oor siekte
Leeus-breier in SA: Druk laat Swys swig

Swys de Bruin het Woensdag eers sy vrou, Marilize, in Suid-Afrika gebel en met haar oor sy mediese toestand gepraat, voordat hy die Leeus se uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, oor die erns van sy toestand ingelig het. Hy het toe ook vir Rob Collins, die Leeus se spandokter, oor sy toestand geraadpleeg.

Swys de Bruin, hoofafrigter van die Leeus, wat skielik terug na Suid-Afrika gevlieg het weens wat hy as ’n “mediese toestand” beskryf. Foto: Carl Fourie/Gallo Images

Straeuli het in die lig van De Bruin se welstand, en die behandeling wat hy hier sou kon kry asook die genesende omgewing van sy gesin, die Leeus se afrigter aangesê om dadelik uit Nieu-Seeland terug te vlieg Suid-Afrika toe.

Geeneen van die partye met wie Rapport gister gepraat het, wou De Bruin se mediese toestand uitklaar nie. Rapport se inligting is dat dit ’n senutoestand is wat volg op langdurige druk. Die Leeus het in die laaste tyd deur ’n moeilike tyd gegaan ná ’n paar treurige vertonings, veral met die wedstryd wat hulle teen die Haaie verloor het.

De Bruin het gister op vrae van Rapport vir die eerste keer sedert sy terugkeer die sluier gelig oor sy dramatiese vertrek uit Nieu-Seeland net enkele dae voordat die Leeus die Chiefs in ’n Superwedstryd sou aandurf.

“Ek gee jou my 100%-waarborg dat daar geen breuk tussen my en enigeen by die unie of in my span is nie,” het De Bruin aan Rapport gesê.

“Daar is geen inmenging (met spankeuses), geen voorskrif en geen druk van hul (De Bruin se werkgewers se) kant af nie.”

“My span besef waardeur ek gaan en ondersteun my ten volle. Dit is deur en deur ’n persoonlike, mediese saak waarvoor ek professionele hulp kry.

“Dit was juis ons spandokter wat, nadat ek met my vrou en Rudolf heel eerste gepraat het, aanbeveel het dat ek huis toe kom om hier die nodige professionele hulp te kry. Dit sou in daardie stadium die beste vir my en vir die span gewees het.”

Ek moet na myself omsien indien ek enigsins ‘n goeie leier vir my span op die pad vorentoe wil wees.

De Bruin het gevra dat sy besluit om nie dadelik sy mediese redes bekend te maak nie, gerespekteer word.

Ivan van Rooyen sal volgende week in De Bruin se afwesigheid steeds aan die stuur van sake staan wanneer die Leeus Vrydag in ’n wegwedstryd teen die Cru­saders te staan kom.

“Ek is ongelooflik dankbaar teenoor Rudolf en Altmann Allers (visepresident en ’n aandeelhouer van die Leeus) wat my onmiddellik, onvoorwaardelik ondersteun het en dit vir my moontlik gemaak het om huis toe te kom sodat ek hulp kan kry.”

De Bruin sê die spelers het begrip vir sy situasie.

“Die band tussen my en die spelers is van so aard dat ek nie een oomblik glo van hulle dink ek het hulle gedrop nie. Inteendeel, hul ondersteuning, gebede en positiewe boodskappe dra my deur dié tyd. Die passie waarmee hulle Vrydag gespeel het, behoort dit ook te bevestig.

“Ek is ongelooflik trots op elke speler en bestuurslid.”

De Bruin het sy woord gegee dat daar geen geraamtes in die kas is vir sy besluit om uit die bloute terug te keer huis toe nie.

“Ek moet na myself omsien as ek enigsins ’n goeie leier vir my span op die pad vorentoe wil wees.”

In De Bruin se afwesigheid het Van Rooyen beheer van die span geneem. Die Leeus het die Chiefs sonder De Bruin ’n skok-nederlaag toegedien.

Joey teken appèl aan ná vonnis

Joey Mongalo moet tot Julie vir ’n appèldatum wag nadat ’n hof in Sydney hom verlede week skuldig bevind het aan onsedelike aanranding.

Die Leeus se verdedigingsafrigter is met 2 000 Australiese dollar beboet nadat hy op 23 April 2018 deur ’n hotelwerker in Sydney van onsedelike aanranding aangekla is. Die appèldatum is nog nie bepaal nie.

Tot die appèl-uitspraak sal hy nie ’n kriminele rekord in Nieu-Suid-Wallis hê nie. Sy vonnis van 18 maande se gemeenskapdiens is ook opgeskort.

Wen Mongalo die appèl, word die vonnis en skuldigbevinding geskrap.

Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus, het bevestig Mongalo (34) sal binnekort voor ’n interne tugverhoor van die Leeus verskyn. Die Leeus sal geen verdere kommentaar lewer tot die saak eers afgehandel is nie.

Mongalo het die week saam met Swys de Bruin en Courtnall Skosan uit Nieu-Seeland na Suid-Afrika teruggekeer.– Hendrik Cronjé

Meer oor:  Leeus  |  Joey Mongalo  |  Swys De Bruin  |  Siekte  |  Mediese Toestand  |  Onsedelike Aanranding  |  Appèldatum  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.